OB sal nie Reserwebank-hofaansoek teenstaan nie

busisiwe-mkhwebane

Busi Mkhwebane tydens ‘n perskonferensie in Pretoria (2 Februarie 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het aangedui dat sy nie haar aanbeveling om die Grondwet te laat wysig om die Reserwebank se mandaat te verander in die hooggeregshof gaan verdedig nie.

Mkhwebane se besluit volg op die advies van haar regspan dat dit nie ʼn goeie idee is om ʼn hofstryd hieroor te voer nie, het haar woordvoerder, Cleopatra Mosana, in ʼn mediaverklaring gesê.

Die OB het op 19 Junie haar finale verslag bekendgemaak waarin sy ʼn skenking ondersoek het wat die Reserwebank aan Absa, toe nog Bankorp, tussen 1985 en 1995 gemaak het. Bankorp is in 1992 deur Absa oorgekoop.

Mkhwebane het in die verslag bevind die R1,125 miljard was ʼn onwettige skenking en sy het aanbeveel dat die bedrag van Absa verhaal moet word.

Sy het die Reserwebank ook in haar verslag skerp gekritiseer en verder aanbeveel dat die parlement die Grondwet moet wysig waar dit dié bank se mandaat uiteensit. Volgens haar aanbeveling moet die Reserwebank eerder fokus op ekonomiese groei en transformasie as op inflasiebeheer en die beskerming van die rand.

Die Reserwebank het kort daarna ʼn dringende hersieningsaansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die aanbevelings in die verslag tersyde te stel.

Mkhwebane het verlede week nog aangedui sy sal die hofaansoek teenstaan, maar gister het sy in ʼn verklaring gesê sy het haar regspan se advies aanvaar om eerder nie die aansoek teen te staan nie.

Mosana het verder gesê Mkhwebane het in haar beëdigde verklaring verduidelik wat haar redes was vir die aanbevelings rondom die wysiging van die Grondwet.

“Uit die OB se ondersoek blyk dit dat die hoofrede hoekom die skenking as ʼn reddingsboei aan Bankorp/Absa oor ʼn verlengde tydperk aangebied is, is omdat daar gevrees is vir ʼn massa-onttrekking uit banke. Daar is aangevoer dit sou ʼn nadelige finansiële impak hê en tot onsekerheid by plaaslike en internasionale beleggers lei. Dit is nie duidelik dat die maatskaplike-ekonomiese welvaart van Suid-Afrikaners nie in ag geneem neem is nie. Die skenking se geld kon dalk beter aangewend word vir werkskepping en ander maatskaplik-ekonomiese doelwitte, maar dit is nooit tydens die verlengde skenking oorweeg nie,” het Mosana gesê.

Mkhwebane het in haar verklaring steeds aangevoer die Reserwebank se mandaat is te eng in die Grondwet uiteengesit. Dit terwyl sentrale banke in onder meer die VSA, China, Indië en Brittanje se mandate die bevordering van volle indiensneming (werkskepping) en gebalanseerde ekonomiese groei of ander maatskaplik-ekonomiese doelwitte as primêre doelwitte insluit en dit nie net voorvloeiende of sekondêre oogmerke is nie.

“As die Reserwebank se mandaat nie verander word nie, kan daar in die toekoms weer besluite geneem word wat die maatskaplik-ekonomiese belange van gewone Suid-Afrikaners benadeel,” het Mkhwebane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Hoe verskriklik ironies.

“As die Reserwebank se mandaat nie verander word nie, kan daar in die toekoms weer besluite geneem word wat die maatskaplik-ekonomiese belange van gewone Suid-Afrikaners benadeel.”

Haar onsinnige aanbeveling het juis die wisselkoers laat val, wat alle Suid-Afrikaners negatief beinvloed.

snoefie ·

beinvloed die anc se kwota en bbbee beleid nie die maatskaplik-ekonomiese belange van blanke suid Afrikaners nie?

Leendert ·

Verander haar naam na Onbekwame Beskermer. So het sy deel geraak van die afbreek van die wetlike gesag.

Baleka Mbete bevraagteken mos ook nou al elke uitspraak wat die howe teen die ANC regering maak, sy probeer ook nou om elke hoek en draai die howe te diskrediteer. So sal die aanslag teen wet en orde in felheid toeneem soos die ANC verkiesing nader kom.

snoefie ·

baleka mbete is mos nou ook n baie belangrike vrou. sy het haarself as presidentskandidaat beskikbaar gestel. hoe kan jy vetwag sy moet iets do nietigs soos n hofuitspraak aanvaar? Zuma was mos die vorige keer bo haar verkies, onthou?

Theresa ·

Skoenmaker, hou jou by jou lees. Wat is haar problem? Nie genoeg werk as OB nie?

Hanna ·

**Zuma se fire-pool ens het nie die maatskaplike en werks skepping belange van ons mense op die hart gedra nie.

*”ESKOM se kontrakte met die Guptas
**Zuma en kie se persoonlike verhoudings met Tenderaars
**Treine wat ons nie kan gebruik nie.
**Kommersiele plase waarvan Boere moet afstand doen en dan verval dit tot murasies.
**Persoonlike inmenging van Politisie met aanstellings van SABC, SAA, ESKOM, PETRO SA, Rade ens
**Die uitspattige grootte van die Suid Afrikaanse Cabinet
Alles goed wat nie in belang van die maatsskaplike groei en werk verskaffing van ons land is nie.

Johann ·

En ek sien hulle wil voort storm en die provinsies verminder, dit seker dat hulle ‘hands-on’ kan wees, waaarom dan nie maar een provinsie nie. Dan wil hulle ook meer magte vir die president gee, ook dat HY meer ‘hands-on’ kan wees.

Ek smag na die dag dat ek net EEN dag uit ‘n jaar positief kommentaar kan lewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.