OB se bevoegdheid dan bespreek

Die Opbenbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto:
Phando Jikelo/ANA)

LP’s sal op 3 September die versoek bespreek om adv. Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer (OB), se geskiktheid vir haar amp te oorweeg.

Dié versoek deur John Steenhuisen, DA-hoofsweep, is deur Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, na LP’s op die portefeuljekomitee oor justisie verwys.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die komitee, het gesê LP’s sal die versoek bespreek en dan op ʼn weg vorentoe besluit.

Daar was die afgelope twee weke herhaalde oproepe vir Mkhwebane om te bedank. Dít nadat die Konstitusionele Hof verlede week teen haar beslis het, gevolg deur die hooggeregshof in Pretoria vroeër die week.

Die hooggeregshof het Maandagoggend die OB se voorgestelde regstellende optrede teen Pravin Gordhan opsy gesit hangende ʼn hersieningsproses.

Regter Sulet Potterill het bevind Mkhwebane het Gordhan, minister van openbare ondernemings, nie die geleentheid gegee om sy kant van die saak te stel nie. Sy het gesê regstellende optrede is vaag en onsinnig en dat daar onherroeplike skade teen Gordhan aangerig kan word indien daar dringend teen hom opgetree word.

Die Konstitusionele Hof het verlede week ʼn vroeëre hooggeregshofbeslissing gehandhaaf dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir ʼn gedeelte van die regskoste in die hofstryd tussen haar en die Reserwebank.

Die hof het bevind Mkhwebane het haar mandaat oortree, asook dat haar ondersoek foutief was en sy nie eerlik in die ondersoek was nie. Die hof het voorts gelas dat 85% van die koste van die aansoek deur die OB se kantoor betaal moet word en dat Mkhwebane 15% daarvan uit haar eie sak moet opdok.

Volgens art. 194 van die Grondwet kan die OB voor die einde van haar ampstermyn van sewe jaar van haar amp onthef word weens wangedrag, erge siekte of onbevoegdheid, mits tweederdes van die lede van die Nasionale Vergadering daarvoor stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie van Worcester ·

In n beskaafde land sou die ob al lankal bedank het, dalk nooit die pos aanvaar het maar hier gaanob net aan en aan met onbenullighede. Siestog

Gert van Wierdapark ·

In werklikheid is daar niks om te bespreek nie! Dit is tog voor die hand liggend, maar nou ja, waar “Common Sense” ontbreek, verdwyn dit soos mis voor die Son! More is mos nog ‘n dag!

Sarel ·

Magashule & kie kan nie bekostig dat sy bedank nie so sy SAL bly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.