OB se bevoegdheid onder die vergrootglas

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), sal volgende week voor die parlement se portefeuljekomitee vir justisie gedaag word voordat LP’s sal besluit of ʼn ondersoek van stapel gestuur gaan word na haar bevoegdheid om haar amp te beklee.

Mkhwebane het Woensdag versuim om op te daag vir ʼn vergadering met die komitee weens ʼn familieverwante noodgeval. LP’s sal egter volgende week ʼn volledige verduideliking van haar verwag oor die rede vir haar afwesigheid.

Die OB sal ook vrae moet beantwoord oor haar versuim om die werk aan ander beamptes te delegeer om antwoorde te verskaf oor bewerings dat sy aanstellings in haar kantoor gemaak het wat nie ooreenstem met die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nie.

ʼn Brief wat John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, aan die speaker van die nasionale vergadering geskryf het, is Woensdag aan komiteelede uitgedeel. LP’s sal moet besluit of ʼn ondersoek na Mkhwebane se bevoegdheid om haar amp te beklee begin moet word nadat verskeie klagtes geopper is dat Mkhwebane nie haar mandaat begryp nie.

Mathole Motshekga, voorsitter van die portefeuljekomitee, het voorgestel dat ʼn bespreking oor die moontlike ondersoek op ys geplaas word totdat Mkhwebane die geleentheid gegun is om haar kant van die saak te stel.

“Voor jy oordeel, moet jy die ander kant van die saak aanhoor. Dit is ʼn duidelike wet en ons moet in dié opsig self die reg respekteer. Ons kan nie ʼn besluit neem wat enigiemand kan benadeel totdat ons daardie persoon se kant van die saak gehoor het nie. Daarom is hierdie komitee, na my mening, nie gepas om die saak te hanteer nie,” het hy gesê.

Mkhwebane sal nou gevra word om eers te reageer op oproepe dat ʼn ondersoek na haar bevoegdheid gedoen word voordat LP’s sal besluit oor die pad vorentoe.

Sedert Mkhwebane in 2016 by haar voorganger oorgeneem het, het sy al verskeie kere onder skerp kritiek deurgeloop.

Verlede jaar het ʼn hooggeregshof haar beslissing dat die parlement die Grondwet moet wysig om veranderinge aan die mandaat van die Reserwebank te maak ter syde gestel. Dié beslissing is gemaak in ʼn verslag waarin die OB ook bevind het dat R1,125 miljard van Absa Bank verhaal moet word vir ʼn finansiële reddingsboei uit die apartheidsera wat aan Bankorp toegestaan is. Bankorp is later deur Absa oorgekoop.

Mkhwebane is daarvan beskuldig dat sy buite haar magte optree.

Sy is ook al daarvan beskuldig dat sy politici beskerm toe sy die omstrede Vrede-suiwelaanlegprojek ondersoek het. Daar word beweer dat miljoene rande belastinggeld aan die projek gegee is om opkomende boere te bevoordeel, maar die geld is na bewering herlei na die Gupta-familie en hul sakevennote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

lee ·

Eish…– what can one say?
THULI come back, baby please come back. (sing-sing-lol)

Alida ·

Genade tog kom hulle nou eers agter dat dit die verkeerde aanstelling was deur Zuma. Daar was oulike kandidate maar natuurlik te eerlik gewees en ergste van alle TE VEEL INTEGRITEIT.

Jerry ·

Sy is n uiters bevoegde Zupta lojalis wat welwetende gepoog het om die grondwet te verander vir beheer oor die Reserwe Bank. Sou sy dit reggekry het, sou die volgende stap nasionalisering van die banke gewees het. Sy hou haar dom en is daarom uiters gevaarlik en die DA besef dat dit tyd geword het om vir haar n strik te stel wat haar sal ontbloot en hopelik die spyker in haar doodskis sal wees.

nico ·

Julle bedoel seker : OB se ONBEVOEGTHEID onder die vergrootglas?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.