OB se Gupta-ondersoek moet ook Eskom-kontrakte insluit

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Die Demokratiese Alliansie het die openbare beskermer versoek om die omvang van haar hangende ondersoek oor ʼn staatsvergryp te vergroot om ʼn reeks kontrakte, wat ʼn Gupta-beheerde maatskappy vir Eskom hanteer het, in te sluit.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê Thuli Madonsela moet die “twyfelagtige verhouding” tussen Eskom en Tegeta Exploration and Resources ondersoek ná die reeks kontrakte vir die verskaffing van steenkool.

“Dit volg ná berigte in die City Press wat aan die lig gebring het dat die Gupta-beheerde Tegeta ʼn kontrak van meer as R564 miljoen gekry het om steenkool aan Eskom te verskaf om sodoende die privaat maatskappy finansieel weer aan die lewe te kry,” het Maimane verduidelik. “Na bewering is die prys van steenkool, wat verskaf is, beduidend verhoog in die kontrak en die Guptas en die Zumas is gevolglik onregmatig bevoordeel.”

Pres. Jacob Zuma se seun Duduzane, is mede-eienaar van Tegeta.

“Dit is baie verdag dat ʼn maatskappy, wat ʼn paar maande vantevore verliese van R100 miljoen per maand aangemeld het, en onder besigheidsredding geplaas moes word, skielik deur ʼn twyfelagtige kontrak van ʼn staatsbeheerde maatskappy gered is,” het Maimane bygevoeg.

“Dit is maar net nóg ʼn verwikkeling in die reeks ‘onder die tafel’-verhoudings tussen die staat, die Gupta-familie en die Zuma-familie. Ter wille van volledigheid, moet die openbare beskermer se ondersoek oor die welgestelde Gupta-familie en sy verhouding met pres. Jacob Zuma, ook die langdurige en ingewikkelde verhouding tussen die Gupta-maatskappye en Eskom insluit,” het hy gesê.

Maimane het gesê Suid-Afrikaners verdien om te weet of Zuma en sy familie staatshulpbronne en belastingbetalers se geld gebruik om hul eie sakke te vul, terwyl dit ʼn risiko kan wees vir die stabiliteit van die land se energievoorraad.

“Suid-Afrika kan nie bekostig dat die Gupta-familie die Suid-Afrikaanse regering gebruik om hul eie sakebelange te bevorder nie. Dit kan nie wees dat Zuma se hegte bande met een familie geïgnoreer word wanneer hierdie bande tot onregmatige beïnvloeding van regeringsake lei nie. Dit is gevolglik noodsaaklik dat die openbare beskermer alle elemente van dié verhouding ondersoek.”

Lees alle vorige berigte oor die Guptas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Grap ·

Het gesien op carte blanche gisteraand en ons betaal die rekening want ons betaal die premie op die duurder elektrisiteit en so word ons gemelk en ons aanvaar dit want ons is leierloos in ‘n “demokratiese land”

John ·

Die Guptas is skynbaar, danksy ondersteuning uit ons eie geledere, nie van plan om bes te gee nie. Hulle steenkoolmyne maak ons badwater warm en binne afsienbare tyd gaan hul uraanmyne ook ons atoomkragstasies opwarm. Die staat is traag om die OB van fondse te voorsien om die spulletjie se aktiwiteite te ondersoek en volg nou ‘n vertragingstaktiek tot Thuli weg is, in die hoop dat die volgende hoof uit hul hand sal eet. Ons probleem met buitelandse lang vingers in ons minerale-pastei en ons geldlaai, is nog lank nie verby nie… indien ooit.

christine ·

Oom Nicolaas het voorspel ons gaan groot moeilikheid het met die Indieers uit die Noord Ooste van die land en ja daar het ons presies dit. Die ou se boek lees nou byna daagliks soos ons land se koerant opskrifte.

Frederik ·

Feitlik woord vir woord, nè. Die hongersnood is sigbaar op pad en die oorlog tussen Julius en Zuma se spanne behoort, volgens ‘n kennis in militêre inligting, voor 2018 bewaarheid te word. Vergeet dus van Orania vir nou. Alles sal vanself uitspeel.

Johann Marx ·

Christine, dis opvallend hoe jou oompie wat jy so graag aanhaal al die akkies kon voorspel, maar self nie eintlik ‘n oplossing gepubliseer het nie? Baie van sy sogenaamde “voorspellings” het ook eintlik nooit gerealiseer nie, het dit? Maar daaroor sal niemand ‘n sprook sprak nie. Wat my intens grief is hoe dit moontlik is om die tipe kontrakte wat in hierdie artikel genome word bekragtig te kry….en DAN moet daar ‘n ondersoek plaasvind? Hoekom is hier nie meganismes in plek om hierdie transaksies te verhoed voordat dit gebeur nie?

AG ·

DIE GUPTA’S HOORT IN DIE TRONK SAAM MET HULLE VROT TJOMMIE!!!!

christine ·

AG. As jy die boek het gaan na bladsy 201 tot by 208 ons is omtrent nou daar. Boodskappe uit die jare 1991-1923.

christine ·

Nee Irene niks te vrees nie ons gaan nerens heen nie ons voorbestaan hier word baie keer verseker

Koos ·

Die Afrikaanssprekende Christene nou glo ons al in ‘n ou oom wat die toekoms voorspel teenstrydig natuurlik teen wat die Bybel sê maar ja so word ons gestraf en ons weet nie hoekom

christine ·

Koos miskien is ek dom maar die oukerel was n groot Christen. Daarby n die boodskapper van God.

Koos ·

As jy dit so stel vra ek verskoning en ek voel nou ‘n bietjie stupid ook.

Jan maak n Plan ·

Die OB kan nie die Guptas ondersoek sonder om die Zumas nie ook te ondersoek nie – dis ses van die een en ‘n half dosyn van die ander. Dionk ‘n bietjie mooi, al ooit gelees van die Guptas en daars nie ‘n Zums ook in die agtergrond nie?

Joann ·

Christine jy is reg. Ek het Siener se boek ook gelees. Dit is nie sat ons nie christene is nie,ons het dan vandag ook politieke ontleders. Guptas moet terug waar hul vandaan kom en so ook al die ander wat net kom afpak in die land en zuma is maar te bly ,meer stemme vir hom.

christine ·

Koos dis al reg geen probleem. Wil net noem dat sy Bybel in die tronk na die Rebelie deur die Engelse uit sy hande gegryp en vernietig is was hyt baie hartseer begin kwyn tot Koos Delery se vrou vir hom n ander Bybel kon reel. Ons word gestraf dis verseker maar omdat ons so vol van onself is ons moet juis op ons knee gaan en bid vir die regering en God toelaat om daarmee te deel maar ons wil als self oplos. Groete maat

christine ·

Joann gaan lees vandag op Maroelamed Stiltetyd glo my jy sal dit baie waardeer en ja dankie maroela julle rock

Boerjie ·

Kom elke suid afrikaner (die wat wel belating betaal) skenk n rand aan die OB dit sal haar genoeg gee om die storie op te volg en te sorteer. Die geld is dan privaat geskenk so geen inmenging van staat! Of betaal Steve Hofmeyer om te ondersoek.

Flintstone ·

Ek was van die begin af van mening dat Klaas maar net ‘n nuwe baas gekry het.Outonoom-nooit in hulle dag des lewens nie..!

marie ·

Dis al die dolos gooiery wat veroorsaak dat God sy rug op ons keer, dis afgodery! kyk maar wat het met Israel gebeur wanneer hul die afgode aangehang en God die rug toegekeer het. Smyt al die Zumas en die Guptas en als wat aan hul behoort uit die land uit, dis ons belastingbetalers se geld wat hul so verryk, vat Eskom ook sommer saam – daar sit ook heelwat selfverrykende asems.

John ·

Dit wil voorkom of van ons tv- en nuusstasies die pers en partye anders as die ANC, belaglik wil maak en die hele kwessie rondom die Guptas by die bevolking af wil maak as ‘n totale oorreaksie en skadelik vir die ekonomie. Die Guptas sou hiervolgens eerder die land tot voordeel strek. Dit is duidelik dat verskillende Indier-/Pakistani-faksies in die land aktief is wat almal die guns van die regering soek. Sedert 1994 het die Indiers baie topposte begin beklee vanaf die presidentskantoor tot die reserwebank, landbou, sport, semi-staatsinstellings, medies, polisie en talle meer. Hulle is besonder bevoorreg en speel beslis ‘n groot rol in die land se daaglikse gang van sake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.