OB se visier nou ook op beleërde Mkhize

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die Openbare Beskermer (OB) gaan vandeesweek begin met stappe om die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, voor stok te kry vir sy beweerde minagting van ʼn dagvaarding.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB se kantoor, sê ʼn saak sal by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aanhangig gemaak word.

Die OB het Donderdag gesê Mkhize is gedagvaar om bewyse te lewer en dokumente voor te lê vir ʼn ondersoek wat verband hou met bewerings van onnodige vertragings of ʼn versuim van die nasionale gesondheidsdepartement om die aanbevelings van ʼn verslag genaamd Report of the Clinical Associate National Task Team 2017 in werking te stel.

Mkhize is op 4 Februarie vanjaar gedagvaar om op 18 Maart voor die OB te verskyn, weer op 21 April om op 7 Mei te verskyn en ʼn derde keer op 24 Mei om Dinsdag te verskyn.

“Hy het al drie keer versuim om op te daag, met sy kantoor wat elke keer gesê het hy is nie beskikbaar nie,” sê Segalwe.

Ingevolge wetgewing is die OB by magte om enigiemand te beveel om voor haar te verskyn oor ʼn saak wat ondersoek word.

Die wetgewing bepaal ook dat enigiemand wat sonder goeie rede versuim om gehoor te gee aan die opdrag skuldig sal wees aan ʼn oortreding. ʼn Boete van tot R40 000 en/of tronkstraf van nie langer as ʼn jaar nie kan opgelê word.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, sê anders as ʼn gewone versoek vir ʼn vergadering, hou ʼn dagvaarding wetlike implikasies in wat getuies dwing om daaraan gehoor te gee of andersins wetlike gevolge te dra.

“Dit is belangrik vir staatsamptenare om te besef dat voldoening aan ons ondersoeke nie opsioneel is nie. Niks minder nie as die Grondwet verplig staatsinstellings om die Openbare Beskermer te steun en te help om die instelling se onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid te verseker,” sê Mkhwebane.

Ondersoek oor kliniese assistente

Die ondersoek waarin die OB wil hê Mkhize moet getuig, handel oor ʼn klagte van Sanele Ngcobo, ʼn kliniese medewerker en sekretaris-generaal van die Professionele Vereniging van Kliniese Medewerkers in Suid-Afrika, wat vra dat die aanbevelings van die taakspan in werking gestel word.

Kliniese medewerkers is middelvlak-gesondheidswerkers wat onder die toesig van mediese dokters help om pasiënte te versorg. In die meeste gevalle werk hulle in benadeelde en landelike gebiede.

Ngcobo voer aan dat die inwerkingstelling van die beroep in Suid-Afrika die gevolg was van aanbevelings in ʼn 2001-verslag oor gesondheidshulpbronne. Oorlede Manto Tshabalala-Msimang, destyds minister van gesondheid, het die aanbevelings in die verslag in 2002 volgens Ngcobo goedgekeur.

Ngcobo sê die eerste groep kliniese genote het in Januarie 2011 begin praktiseer en hy voer aan die gesondheidsdepartement het ʼn taakspan daaroor op die been gebring. Die taakspan se opdrag was om die lesse wat geleer is tydens die opleiding van meer as 900 van dié werkers en die aanstelling van byna 700 van hulle, te hersien. Daar moes ook gekyk word hoe dit van toepassing is op die bestaande probleme in die gesondheidsorgstelsel.

Die taakspan het in 2017 ʼn verslag uitgereik en Ngcobo vra dat die aanbevelings daarin in werking gestel word.

Minister reeds in spervuur

Mkhize was die afgelope ruk kwaai in die spervuur weens die toekenning van ʼn kontrak aan die kommunikasiemaatskappy Digital Vibes. Daar is reeds bevind die kontrak ten bedrae van R151 miljoen is onreëlmatig toegeken en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek daarna duur steeds voort.

Digital Vibes word bestuur deur Tahera Mather en Naadhira Mitha, albei goed bekend aan Mkhize. Die minister het vroeër ontken dat hy vriende met die twee is, maar het wel gesê dat hulle “kamerade” is. Mkhize het ook ontken dat hy enigsins by die tender gebaat het, of sy invloed in die toekenning daarvan gebruik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Maak ‘n voorbeeld van hom man! Hulle dink mos hulle kan weg kom met alles gggmmmfff! Hy trek ‘n Zuma op homself…

Moedeloos ·

Nou gaan hy seker die Covid gevalle as verskoning gee hoekom hy nie beskikbaar is nie. Hy moet bewyse gee waar hy hierdie dae was want dis wat ek en jy moet doen as ons werkgewer jou roep.

JohanR ·

Ek geniet dit soe as hulle uitgevang word en dan begin hulle te duck and dive. Nogal snaaks on te aanskou as daar vuur is wat die agterwereld brand!

Sarel ·

Is sy steeds in haar pos? Sy is nie bevoeg en ondersoek enige iemznd nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.