OB skors bestuurder ná openbare kritiek

(Argieffoto)

Die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, het ʼn senior bestuurder verbonde aan die OB se Vrystaatse kantoor voorlopig geskors nadat hy haar in die openbaar skerp gekritiseer het.

Die besluit om Hamilton Samuel te skors kom nadat hy Dinsdag ʼn “minagtende brief” aan Mkhwebane gestuur het. Die brief het boonop in die openbare domein beland.

Samuel het dit aanvanklik per e-pos aan die OB gestuur en verskeie ander personeellede daarby ingesluit.

“Hy het die brief geskryf en gestuur met die hulp van kantoorhulpbronne, wat ʼn gemerkte briefhoof en sy amptelike e-posadres insluit. Hierdeur het hy nie net die werksaamhede van die Openbare Beskermer ontwrig en ander lede opgerui om teen die OB te draai nie, maar ook sy werkgewer se fasiliteite gebruik om sy persoonlike vendetta teen die OB te bevorder en kwessies te hanteer wat niks met sy amptelike pligte te doen het nie,” het die OB se kantoor gesê.

In sy brief doen Samuel ʼn beroep op Mkhwebane om te bedank, nie net om haar eie onthalwe nie, maar ook dié van die instelling en die hele land, berig African News Agency.

Hy vra die OB ook om haar “tekortkominge en versuim om die instelling te lei te erken”.

Regspanne vir die Openbare Beskermer en die president sê mekaar in die hooggeregshof die stryd aan. (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Samuel se brief kom kort op die hakke van ʼn snydende hooggeregshofuitspraak waarin nóg een van Mkhwebane se verslae ter syde gestel is. In dié geval het die Pretoriase hooggeregshof haar ondersoek na betalings aan pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog (om destyds president van die ANC te word), skerp gekap.

Die hof het onder meer bevind Mkhwebane het haar magte oorskry en nie die wetgewing rakende die ondersoek behoorlik verstaan nie.

Mkhwebane se kantoor sê Samuel se skorsing is nie ʼn straf nie, maar ʼn tussentydse maatreël om te verseker dat ʼn ondersoek na sy gedrag ongehinderd gedoen kan word. Hy is met volle voordele geskors.

Samuel is geen vreemdeling vir omstredenheid nie. Hy was voorheen al in die pekel nadat ʼn ontevrede lid van die publiek hom in 2011 van aanranding beskuldig het.

Die slagoffer was luidens berigte ontevrede met die uitkoms van ʼn klagte wat hy in 2009 ingedien het en dit het tot die onderonsie twee jaar later gelei. Samuel het ʼn boete betaal nadat hy aan aanranding skuldig bevind is.

Die klaer het daarna ook ʼn siviele eis teen die OB-kantoor ingedien.

Mkhwebane se kantoor sê Samuel sou nou aan ʼn tugverhoor daarvoor onderwerp geword het.

“Lede van die publiek wend hulle tot die OB vir hulp wanneer hulle reeds bekommerd is oor ʼn klagte teen die staat. Hulle sien die kantoor as ʼn veilige hawe. Om dan aangerand te word – en dít deur ʼn senior bestuurder – en vir die hof om die aanranding met ʼn skuldigbevinding te bevestig, kan bloot nie geduld word nie.

“Dit geld soveel te meer as daar wel ʼn beleid is oor hoe om ongelukkige klaers te hanteer.”

Die OB sê werkers met geldige griewe kan dit op verskeie ander maniere lug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mieke

Shame…. Hy was seker maar reg gewees … en hy moet so gou moontlik ‘uitgefaseer’ word !

JM

Ja né? Samuel kan nou met volle betaling lekker in die son sit, met sy voete gelig.