OB terug hof toe oor Bosasa-uitspraak

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Argieffoto: Twitter)

Die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) het Vrydag ʼn aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien waarin adv. Busisiwe Mkhwebane vra dat die hof se besluit in die sogenaamde Bosasa-uitspraak, herroep word.

Die OB het vroeër vandeesmaand weer ʼn stelletjie in die hof afgetrap nadat regter Chris Jafta in ʼn meerderheidsuitspraak van die Konstitusionele Hof haar appèlaansoek – teen ʼn beslissing van die hooggeregshof dat die verslag nietig verklaar word – verwerp het.

Die ondersoek het verband gehou met ʼn skenking van Bosasa aan pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog.

Die Konstitusionele Hof het met die hooggeregshof saamgestem dat Mkhwebane haar magte in die ondersoek oorskry het. Die Konstitusionele Hof het voorts bevind die OB het regs- en feitefoute in haar verslag begaan.

Volgens die OB wentel die nuwe aansoek om die “kennelik foutiewe” bevinding dat die OB die etiekkode vir die uitvoerende gesag gewysig het en die woord “moedswillig” (die Engelse term was “willfully”) met die woorde “doelbewus of onopsetlik” (die Engelse term was “deliberately or inadvertently” vervang het.

Die OB sê dié bevinding was deurslaggewend vir die besluit om die appèlaansoek te verwerp.

Die OB voer nou aan dat die Konstitusionele Hof staatgemaak het op ʼn ou weergawe van die etiekkode wat in 2000 bekend gemaak is, terwyl Mkhwebane gesteun het op ʼn gewysigde weergawe van 2007 “wat die Konstitusionele Hof self so onlangs as Maart 2016” in ʼn ander saak aanvaar het.

Die OB sê ook haar voorganger, adv. Thuli Madonsela, het self op dié weergawe in sommige van haar ondersoeke staatgemaak.

Mkhwebane voer aan die gebeure skend nie net haar grondwetlike reg as mens op waardigheid en haar goeie naam nie, maar as hoof van die OB se kantoor ook as prokureur. Sy voer voorts aan die beweerde fout gaan ook heelwat verwarring en onnodige ontwrigting vir die werk van die OB veroorsaak.

“Dit is in die belang van geregtigheid dat enige verwarring oor die oënskynlike fout eens en vir altyd uit die weg geruim word, in voor- en teenspoed.”

Mkhwebane sê in die aansoek die saak stel ʼn vraag van uitsonderlike belang waaroor die hof moet beslis.

“Die twee uiteenlopende benaderings deur dieselfde hof is onversoenbaar en kan nie albei reg wees nie, dus moet een verkeerd wees.”

Sy sê die hof se uitsprake maak haar en die kantoor van die OB veral kwesbaar vir ongegronde politieke aanvalle wat gemik is daarop om die grondwetlike funksies van die OB te ondermyn.

Mkhwebane sê ook die aansoek is nie ʼn “agterdeur” vir ʼn appèlaansoek teen die hersieningsbesluit waaroor die Konstitusionele Hof uiteindelik die hoogste en laaste gesag is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter ·

Die regters gaan ou cyril beskerm jy mors jou tyd. As die regters dit moet toe staan dan gaan die mense sien ou cyril is soos zuma.

Henk ·

Is daar êrens ‘n instansie wat kan bereken, 9f een van die politieke partye wat in die parlement kan vra, hoeveel geld van die belastingbetaler die vrou al gemors het met appelle en aansoeke 9m haar swak oordeel te probeer regverdig?

Elinette ·

Wanneer kry dié antie nou haar ry? Is haar term nie byna-byna verby nie? Sy was 110% ‘n politieke aanstelling onder die Zuma-faksie.

Anoniem ·

Die Regters/Prokereurs besluit in elk geval voor die tyd wat die uitstpraak gaan wees. Sy is seker maar ‘n Zuma ondersteuner/aanhanger

Persheks Adri ·

Hoeveel keer wil sy nou haar naam met ‘n plank slaan? Sy’t geen einde nie hel regte irritasie

JohanR ·

Dit gebeur nou as mag na jou kop toe gaan. Ek voel soe jammer vir hofe wat al die tyd die een, ANC en EFF bakkies voor hulle moet sien.

SomeOne ·

wanneer gaan sy eendag die trekpas kry, sy mors net tyd en ons geld

Drico ·

Sy is lankal onbevoeg verklaar vir haar pos, maar sit sal sy sit. Ek soek ook n werk waar ek kan doen wat ek wil en niemand kan en mag my weg jaag nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.