OB trek Gordhan-appèlaansoek terug

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, het haar appèlaansoek in die Konstitusionele Hof teen ’n vroeëre hooggeregshofbeslissing oor Pravin Gordhan teruggetrek.

Mhkwebane en die kantoor van die OB het in die kennisgewing geen rede gegee waarom die appèlaansoek teruggetrek word nie. Mkhwebane en haar kantoor het hulle reguit tot die Konstitusionele Hof gewend nadat regter Sulet Potterill verlede maand bevind het dat die OB se remediërende optrede teen Gordhan, minister van openbare ondernemings, opgeskort moet word.

Potterill het die remediërende optrede opgeskort hangende ʼn regterlike hersiening van Mkhwebane se verslag oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se sogenaamde geheime ondersoekeenheid. Gordhan het Mkhwebane hof toe gesleep en gevra vir ʼn dringende interdik.

Mkhwebane het na die uitspraak uitgevaar teen regter Potterill en gesê sy het haar magte oorskry in haar uitspraak.

“Met respek, die Openbare Beskermer is van mening dat regter Potterill haar magte oorskry het. Pleks daarvan dat sy gehou het by kwessies wat verband hou met minister Gordhan se aansoek vir opskorting van die toepassing van remediërende optrede, het die regter verder gegaan en gehandel volgens die meriete van die hersieningsaansoek,” het Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, destyds na die uitspraak gesê.

Potterill het bevind Mkhwebane se remediërende aanbevelings is “vaag, teenstrydig en sinloos”.

Pravin Gordhan. Foto: ANA

“Die OB het in die verslag onder meer bevind dat minister Gordhan die parlement doelbewus mislei het deur te versuim om ʼn vergadering met die Gupta-familie te noem, dat hy tydens sy termyn as hoof van die SAID ʼn geheime ondersoekeenheid gevestig het wat ʼn skending van intelligensievoorskrifte was, asook dat hy Ivan Pillay as adjunkkommissaris en daarna as kommissaris aangestel het, terwyl hy nie oor die nodige kwalifikasies beskik het nie,” het Segalwe gesê.

Segalwe het ook gesê Potterill het kwessies hanteer wat sy nie in die aansoek gevra is om te doen nie en uitspraak gelewer oor ander wat nié voor haar geopper is nie. Dit beteken Potterill het die “uitslag van die hofhersiening vooruitgeloop”.

Mkhwebane was ook bekommerd oor Potterill se keuse van taalgebruik, het Segalwe gesê. Hy het dit beskryf as onvanpas vir ʼn regter en nie in ooreenstemming met die waardigheid van die hof nie.

“In haar uitspraak het die regter die OB se remediërende optrede skokkend genoeg ‘sinloos’ genoem. Die OB oorweeg die regstappe beskikbaar. Dit sluit in die opsie om die saak na die Regterlike Dienskommissie vir oorweging te verwys,” het die OB se kantoor destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pottie ·

Ja dit is lekker om ons belating geld so te mors wonder net waar was sy op universiteit seker in zimbabwe

Maljan ·

O I C. Sy wil een saak sluit en n ander oopmaak in n hof waar simpatie gewaarborg is. Is die ob nou n vendetta voerder?

JohanR ·

Sy gee die regstelsel en advokaate nog ‘n slegter naam. Sy het graad gekry by die Kollege van Skoonheid in Rosebank, Johannesburg.

blouapie ·

Sy is bang sy moet betaal! Die wet van Transvaal!!
He-he-he. Hoe lekker kry ek nou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.