OB veg in hof oor amp

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Argumente in die hofsaak tussen die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, en die speaker van die Nasionale Vergadering is afgehandel en die uitspraak word eersdaags verwag.

In die hofsaak in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor regters Vincent Saldanha, Monde Simola en Elize Steyn probeer Mkhwebane ʼn dringende interdik kry om te verhoed dat die DA se pogings voortgaan om haar geskiktheid vir haar pos deur die parlement te laat toets.

Maandag se verrigtinge is oorheers deur ʼn betoog van langer as vier uur deur Mkhwebane se regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, wat ʼn paar keer streng ondervra is deur regter Saldanha.

Mpofu se hoofpunte is eerstens dat Mkhwebane nie aan ʼn parlementêre verhoor onderwerp kan word voordat die grondwetlikheid van die parlementêre proses om haar potensieel van haar amp te onthef, nie vasgestel is nie.

Hiervoor steun hy op twee uitsprake waarin eers die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en later pres. Cyril Ramaphosa hofsake gewen het dat die Openbare Beskermer se bevindings oor remediërende stappe teen hulle nie kan plaasvind voordat die geldigheid van daardie stappe wel deur ʼn hof bevind is nie.

Saldanha het herhaaldelik aan Mpofu gesê die voorbeelde is ontoepaslik, want ʼn potensieel skadelike bevinding was in albei gevalle reeds teen onderskeidelik Gordhan en Ramaphosa van krag, en geen bevinding is teen Mkhwebane gemaak nie.

Adv. Andrew Breitenbach, vir die speaker, het trouens uitgewys dat alle skade aan Mkhwebane se naam reeds deur hofbevindings teen haar gemaak is, en dat die parlementêre proses haar trouens die kans gee om dit te herstel.

Op verskeie ander punte het harde woorde tydens robuuste debat tussen Saldanha en Mpofu geval. Die regter het Mpofu herhaaldelik gevra om tot die punt te kom en hom gedwing om af te sien van sy bewering dat die ander partye in die parlement met die DA verskil oor die instel van die parlementêre proses teen Mkhwebane.

Mpofu het sy hoofpunte ten gunste van die interdik uitgestippel as regverdigheid, rasionaliteit, retrospektiwiteit (dat die hofbevindings teen Mkhwebane gemaak is voor die aanvaarding van die parlementêre prosesreëls) en skeiding van magte.

Die regters het uitspraak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Jip, dit kry jy as jy ‘n regverteenwoordiger en politikus wil wees.
adv. Busisiwe Mkhwebane hierdie man gaan jou nog duur kos, maar ek reken julle dink dieselfde.

Johann ·

Intussen beweer die Zumaikie dat korrupsie in SA NIE n “crise against humanity” is nie!!!!!! Apartheid was wel, maar die vergrype van haar ANC en ander comrades…ooo e e, dis heeltemal anders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.