OB veroordeel aanvalle op haar

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Thuli Madonsela, openbare beskermer, het Maandag gesê haar kantoor is die teiken van ongegronde en moedswillige aanvalle sedert sy haar verslag oor opgraderings by president Jacob Zuma se Nkandla-huis bekend gemaak het.

Madonsela het tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê sy is hartseer omdat sy nie ʼn geleentheid gegun is om die Parlement oor haar bevindings toe te spreek nie. Sy het gesê haar kantoor bestaan al vir 20 jaar en dat die kritiek wat sy oor die verslag, Secure in Comfort, ontvang het, ongehoord is.

Sy het gesê die kritici, “insluitend woordvoerders van die regerende party in en buite die Parlement” het tirades van stapel gestuur sonder om na die besonderhede van haar verslag te kyk.

“Ek wonder wat voormalige president Nelson Mandela sou sê van hierdie bisarre wending,” het sy gesê.

“Om nie in staat te wees om ʼn amptelike vergadering met sy hoogheid Zuma te hou nie, laat my ook wonder wat hy van hierdie bose aanvalle dink.”

Madonsela het in Maart verlede jaar bevind dat Zuma onregmatig voordeel getrek het uit R246 miljoen se veiligheidsopgraderings by sy Nkandla-woning en beslis dat hy ʼn gedeelte van die uitgawes aan die staat moet terugbetaal.

Die DA het Donderdag daarop gesinspeel dat hy die polisieminister, Nathi Nhleko, se verslag in die hof sal teenstaan nadat die ANC-meerderheid ʼn versoek deur opposisiepartye dat getuies geroep word, van die hand gewys het.

Die ANC-meerderheid in die ad hoc parlementêre komitee wat Nhleko se verslag oorweeg, het maklik die voorstel deur Steve Swart van die ACDP verwerp. Swart het versoek dat Madonsela geroep word om haar verslag oor Nkandla aan die komitee te verduidelik.

Swart het aangevoer dat die regerende party die reg het om met Madonsela te verskil, maar eers nadat hulle met haar gepraat het daaroor. Doris Dlakude, die ANC se adjunkhoofsweep, het egter nie hiermee saamgestem nie.

“Ons almal weet wat ons by Nkandla gesien het en ons almal stem saam dat geld gesteel is by Nkandla en daaromis dit nie nodig om getuies te roep nie.” Opposisie-LP’s het ná ʼn besoek aan Nkandla voorverlede week toegegee dat ondanks die koste, daar nie die nodige veiligheid by Nkandla is nie.

Die opposisie en die ANC het egter, soos met die vorige ad hoc komitee oor Nkandla, vasgeval oor Madonsela se verslag en die behoefte om meer getuies, selfs pres. Jacob Zuma indien nodig, te roep.

Die ANC het intussen ook besluit dat die komitee sal begin om die finale verslag op te stel vir oorhandiging aan die Nasionale Vergadering. Minister Nhleko het al vroeër gesê dat hy hoop die verslag sal die finale deel wees van ʼn hoofstuk wat Zuma vir jare geteister het.

Mathole Motshekga, ANC-veteraan, het Madonsela daarvan beskuldig dat sy die land mislei het. “Die verslag van die openbare beskermer is misleidend en het die land mislei. Dit was duidelik: ons was nie by of in ʼn amfiteater nie. Wat ookal sy dus gesê het oor ʼn amfiteater val weg en ons was by die swembad en daar is niemand wat kan sê die gebruik van die water is irrasioneel of onlogies nie.”

Motskekga het beklemtoon dat die projek ʼn groot vermorsing van belastingbetalers se geld was, maar gesê die blaam kan nie voor die president se deur gelê word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Adv. Madonsela moet ‘n ere toekenning kry vir haar knap raakvatting van ‘n hele paar omstandighede. Dis bitter verkeerd (nie gepraat van die onregverdigheid daarvan) dat sy nie 100% ondersteun word van alle kante af, dat haar verslag haarfyn bespreek mag word nie.
Dit opsigself verklaar boekdele en is my beskeie mening dat Suid-Afrikaners baie, baie het om oor te bekommer as ‘n neutrale persoon soos sy, nie gerespekteer word nie.
Dankie vir u harde werk en insig wat gegee is, Advokaat. Mag daar tog geregtigheid geskied en u die geleentheid gebied word om dié te woord te staan wat so vreeslik keer dat dit gebeur.

magrieta ·

Noun vra ek jou wie she Huis is dit dan as Zuma nie daar woon nie en as by aftree kry die volgende President die Hui’s
Age nee man hy skep pap terwyl dit reen

Dave ·

Dit bly Jakop Zuma se huis selfs nadat hy afgetree het. Die volgende staatspresident sal ook op sy eie Nkandla aandring.

johan ·

Dankie Adv. Madonsela vir jou harde werk en toewyding om bedrog en korrupsie uit te wys. Jy sal natuurlik aaangeval word want jy is opreg en eerbaar. Ons het meer mense soos jy nodig in die land.

J.Z ·

Johan ,Ek stem sy is n persoon Duisend wat eerlik haar werk doen .glo sy sal in die geskiedenis onthou word as iemand wat korrupsie veroordeel het af gesien van die teenstand en beskuldigings van die `ANC regering en ANC teen haar.Haal my hoed vir haar af.

Martha ·

Die Adv moet n geleentheid gegee word om haar saak voor die parliment te stel. Viva Adv Madonsela. God sal vir jou veg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.