OB waai dalk oor ‘bewyse’ van onbevoegdheid

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Argieffoto: Twitter)

Die paneel wat moes besluit of daar meriete is om die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, het bevind daar is wel prima facie-bewyse dat sy onbevoeg vir die pos is.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, sê die parlement het die paneel se verslag ontvang. Die bevindings daarin is gegrond op inligting ingevolge die mosie wat teen Mkhwebane ingedien is, aanklagte teen die OB, verslae en pleitverduidelikings in verskillende hofsake teen en deur die OB, hofuitsprake, asook die OB se geskrewe reaksie op die ondersoek.

Die klagte teen Mkhwebane spruit onder meer uit haar ondersoeke na die sogenaamde Absa-Bankorp-saak, die omstrede Estina-suiwelprojek, die CR17-veldtog en die sogenaamde “rogue”-eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Die bevindings, wat gemaak is ná die voorlopige assessering, is dat daar beduidende inligting is wat neerkom op prima facie-bewyse van onbevoegdheid,” sê Mothapo.

Volgens die paneel sluit voorbeelde van hierdie onbevoegdheid in:

  • Die OB se oorskryding van haar magte ingevolge die Grondwet en die Wet op die Openbare Beskermer
  • Die herhaling van dieselfde foute, soos die verkeerde interpretasie van wetgewing
  • Versuim om betrokke partye die reg op repliek te gee
  • Foutiewe ontleding van feite
  • Voortgesette gebrek aan kennis om haar pligte uit te voer en/of die onvermoë of vaardigheid om haar pligte doeltreffend uit te voer.

“Volgens die paneel voldoen die voorbeelde, gesamentlik beskou, aan die drempel van prima facie-bewyse van volgehoue onbevoegdheid,” sê Mothapo.

Die paneel het voorts bevind daar is genoeg inligting wat dui op prima facie-bewyse van wangedrag. Die voorbeelde wat die paneel hiervoor gee, sluit in:

  • Die OB se versuim om te verklaar sy het met die voormalige president [Jacob Zuma] en die Staatsveiligheidsagentskap vergader
  • Haar versuim om ʼn ooreenkoms met die SAID na te kom wat dui op haar nievoldoening aan die hoë standaard van professionele etiek soos vereis deur die Grondwet
  • Haar beweerde wysiging van die finale verslag en ʼn onware verduideliking aan ʼn hofhersiening oor waarom dieselfde gedoen is in haar ooglopend verkeerde beslissing oor geldwassery in die CR17-veldtogondersoek en haar onverklaarbare twyfel oor die bona fides van pres. Cyril Ramaphosa.

Wat laasgenoemde kwessie betref, het die paneel bevind dit vorm die grondslag van onbevoegdheid én wangedrag.

Die paneel beveel aan dat sy bevindings nou na ʼn parlementêre komitee verwys word. Ingevolge parlementêre reëls moet die speaker die aanbevelings aan die parlement voorlê en indien daar besluit word dat ʼn ondersoek moet voortgaan, moet dit na ʼn spesiale komitee vir ʼn formele ondersoek verwys word.

Die speaker moet die president daarna oor enige besluit of optrede wat uit die aanbevelings spruit, inlig.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, het die bevindings verwelkom en het ʼn beroep op die parlement gedoen om sonder versuim met stappe te begin om Mkhwebane van haar amp te onthef.

Sy sê die howe het reeds verskeie verdoemende bevindings teen die OB gemaak en haar bevoegdheid vir die pos is reeds etlike kere bevraagteken.

“Die DA glo dit is van uiterste belang dat Mkhwebane as OB verwyder word en dat iemand bevoeg, geloofwaardig en onafhanklik in die pos aangestel word om lede van die publiek se vertroue in hierdie noodsaaklike hoofstuk 9-instelling te herwin en te verseker die belange van kwesbare [mense] word beskerm en bo die belange van polities gekoppeldes gestel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

Daar is verseker ‘n klomp ander onbevoegdes wat ook kan waai…. en as sy waai wie gaan in haar plek inwaai?

Adeline ·

Iemand wat uit die tronk uit gelaat gaan word spesiaal vir die pos

SomeOne ·

en so word die een anc deur ‘n ander anc verjaag, die klank kan nie mooier wees nie

Marijke ·

Sy is nou al hoeveel keer deur die hof, die agterdeur gewys, maar sit, sit sy. Sy is deel van die “untouchables” . Niks gaan gebeur nie

AH ·

Die salaris is te lekker vet! Hoekom sal sy vrywillig daarvan afstand doen!

Boeing ·

So nou is sy ten minste nog 2 jaar in die pos voor die proses afgehandel is?

Hennie J ·

Laat my dink aan die ou-ou liedjie van Nina Simone: “no-one can love and understand me, bye bye black bird”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.