OB wéér hof toe gesleep

David Mabuza word deur hoofregter Mogoeng Mogoeng ingehuldig as LP (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het ʼn aansoek by die hof ingedien om toegang te kry tot dokumente wat die Openbare Beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, gebruik het toe sy bevind het adj.pres. David Mabuza is nie skuldig aan onregmatige aankope nie.

Die aansoek is Dinsdag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die saak hou verband met ʼn verslag wat Mkhwebane in 2019 vrygestel het oor die aankoop van vier ampsmotors vir Mabuza toe hy nog premier van Mpumalanga was. Luidens die OB se verslag was die aankope wel onreëlmatig, maar Mabuza is van alle blaam onthef. Outa het toe reeds in Julie verlede jaar toegang tot die inligting versoek waarop die OB haar bevindings gegrond het, maar sonder sukses.

“Outa glo Mkhwebane het nie binne magte opgetree in dié verband nie, waaronder deur Outa toegang tot die dokumente te weier. Outa versoek dat die hof Mkhwebane se weiering om toegang tot die inligting te bied as onwettig bevind en haar verplig om die inligting te verskaf,” sê Stefanie Fick, Outa se hoofregsbeampte.

Die hof het voorlopig 5 November opsy gesit om Outa se aansoek aan te hoor.

ʼn Mosie is verlede week deur die speaker in die parlement goedgekeur om te begin met die proses om Mkhwebane van haar amp te onthef. Sy vra nou dat die hof dié proses opskort, hangende haar hofaansoek om die reëls ongrondwetlik te laat verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

Daar is geen pille wat help om domgeit en skelmgeit te genees nie.

Gawie

Duidelik geen erns deur die howe om die saak op te los nie – die saak kom eers 5 November voor! Teen daai tyd het sy weer ‘n klomp ander nonsens aangevang! Al wat nodig is vir ‘n regter om ‘n hofbevel uit te reik dat sy die dokumente bekikbaar maak – iets wat sy in elk geval veronderstel was om te doen. Hoekom 8 maande wag?