‘OB weerhou doelbewus verslag oor Vrede-suiwelplaas’

Atul Gupta (Argieffoto)

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag die openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane daarvan beskuldig dat sy doelbewus haar verslag oor die Estina-suiwelplaas in Vrede in die Vrystaat, wat aan die Guptas behoort, weerhou.

“Ek verneem ons nuwe openbare beskermer wil die DA hof toe sleep omdat ons haar ʼn spioen genoem het. Dit het haar presies ʼn jaar lank gevat om dié besluit te neem. Ons verwelkom enige geleentheid om oor haar agtergrond te praat en haar vermoë om haar werk te doen,” het hy aan afgevaardigdes by die DA se kongres in Bloemfontein gesê.

“Maar ons het ander regsake met die openbare beskermer. Ons wag nog steeds vir haar verslag oor die Estina-suiwelplaas in Vrede, wat al ses maande agterstallig is. Sy het in Maart vanjaar in die Vrystaatse wetgewer gesê die ondersoek is afgehandel en die verslag sou in April vrygestel word. April het natuurlik gekom en gegaan en sy het ʼn nuwe sperdatum belowe. Ons het in Julie weer gehoor dit sal binne ʼn paar dae vrygestel word. Dis nou al byna November.

“Ek verneem van betroubare bronne dat die verslag al maande lank op haar lessenaar lê. Dis hoogs verdag dat alle kommunikasie oor hierdie saak tussen haar kantoor en die DA in die Vrystaat geëindig het die oomblik toe die storie oor die Gupta-e-posse uitgelek het waar die geld uit die plaas in Vrede met die Gupta-troue verbind word,” het Maimane bygevoeg.

Die “slagoffers van hierdie misdaad” – die 80 boere uit die plaaslike gemeenskap wat uit die projek sou voordeel trek, maar gestrand gelaat is, kan nie langer wag vir geregtigheid nie, het hy gesê. “Ek sal dus Maandag skriftelik eis dat die openbare beskermer die verslag binne sewe dae vrystel. Indien sy versuim om dit te doen, sal ons die hof versoek om haar te dwing om dit te doen.

“Ek sal ook die voorsitter van Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) Themba Godi nog een geleentheid bied om ʼn openbare verhoor te skeduleer vir die slagoffers van hierdie misdaad. As hy weer weier, sal ek hulle self parlement toe bring, sodat hulle hul storie aan die komitee kan vertel en antwoorde kan eis.”

Maimane het gesê korrupsie is nie ʼn misdaad sonder slagoffers nie. “Hierdie is regte mense wie se drome verwoes is en wie se lewens nie kan voortgaan nie, omdat die vriende van pres. Jacob Zuma en die Vrystaatse premier Ace Magashule ʼn kans gesien het om nog geld te steel. Hulle sal nie hiermee wegkom nie.”

Hy het in Julie in die Daily Maverick gesê die Estina-projek sou ʼn suiwelplaas bou wat behoort aan 80 bevoordeeldes uit die plaaslike gemeenskap. “Die Estina-plaas staan nou midde ʼn internasionale geldwasseryskandaal, wat deur amaBhungane en die Daily Maverick se Scorpio onthul is – waar R180 miljoen in openbare geld deur ʼn ingewikkelde web van plaaslike en internasionale maatskappye gestuur is, wat alles op een of ander manier deur die Gupta-familie beheer word.

“Van hierdie geld is uiteindelik na Suid-Afrika teruggeplaas om te betaal vir die luukse Sun City-troue wat die Gupta-familie in 2013 gehou het. Dit was dieselfde troue van die Waterkloof-lugmagbasis-skandaal, waar die Guptas gewys het hulle het genoeg mag in die regering om hul privaat vliegtuig by ʼn lugmagbasis te land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.