Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het Maandag opdrag gegee aan die minister van finansies, Malusi Gigaba, om die “onwettige bewilliging of uitgawes van staatsgeld by die begrafnis en gedenkdiens van voormalige pres. Nelson Mandela in 2013” te ondersoek.
“Die bewerings dat die Oos-Kaapse ontwikkelingskorporasie (ECPG) onbehoorlik geld, ongeveer R300 miljoen, aangewend het om maatskaplike infrastruktuurontwikkeling te bespoedig wat vir pres. Mandela se begrafnis gebruik is, is gestaaf,” het Mkhwebane Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê.
“Die hoof van die departement van provinsiale beplanning en tesourie, me. Mbina-Mthembu, het op 6 Desember 2013 aan die Oos-Kaapse uitvoerende komitee aanbeveel dat die geld aangewend moet word vir die begrafnis van pres. Mandela.”
Haar advies is gebaseer op tesourie-regulasie 6.1.3. Mkhwebane het egter bevind dat dié riglyn nie in die geval van toepassing was nie.
“Nie die raad van die rekenmeestersowerheid, of die hoofde van die departement van ekonomiese ontwikkeling en die provinsiale departement van omgewingsake en toerisme, was betrokke by me. Mbina-Mthembu se besluit oor die aanwend van fondse nie,” het Mkhwebane bygevoeg.
Volgens haar is daar bewyse van verhoogde pryse, geld wat verduister is, swak beplanning deur die Suid-Afrikaanse regering en minagting van verskaffersregulasies.
“Wat betref die swak beplanning, is dit baie kommerwekkend. Daar is byvoorbeeld ʼn e-pos aan die Oos-Kaapse ontwikkelingskorporasie (ECDC) waar opdrag gegee word dat R11 miljoen teen 11:00 betaal moet word, en die dokumente sal volg. ʼn Maatskappy sou T-hemde verskaf, maar dit is nooit afgelewer nie. Die persoon wat vir die T-hemde geteken het, werk nie eens vir die munisipaliteit nie. Tydens ʼn forensiese ondersoek is daar bepaal dat die betrokke persoon vir die verskaffer werk. Die verskaffer het gesê hulle wou die T-hemde afgelewer, maar hulle kon niemand kry nie, toe laai hulle dit by ʼn taxi-staanplek af.”
Mkhwebane sê die vlak van plundery rondom die staatsbegrafnis is uiters kommerwekkend.
Sy sê in sommige gevalle het lede van die ANC opdrag gegee aan staatsamptenare “om net te betaal sonder enige dokumente”.
“Hoe vra mens R350 vir ʼn T-hemp? Dis verkwistend. Lede van die publiek, diensverskaffers – waar is jul gewete? Hoe kan julle só baie geld vir ʼn T-hemp of vir vervoer vra vir die staat? Dit was ʼn begrafnis vir ʼn [voormalige] staatshoof en moes deur die nasionale owerhede hanteer word. Maar in hierdie geval het die Oos-Kaapse provinsie die reëlings getref, omdat Mandela in Qunu begrawe wou word. Daardie proses was nie gekoördineer nie,” het Mkhwebane bygevoeg.
“As die staatsbegrafnisse deur die nasionale tesourie gereël word, dan word daar seker gemaak dat daar voldoen word aan die voorskrifte van die tesourie. Daar is ʼn lys van diensverskaffers in die databasis. Sommige kwotasies is sommer telefonies bekom – betaal die een en daai een of plaas soveel geld oor aan iemand. Hoe betaal mens R10 miljoen of R11 miljoen sonder om stawende dokumente te sien?”
Mkhwebane het Gigaba opdrag gegee om pres. Jacob Zuma te versoek om ʼn afkondiging te maak kragtens artikel 21 van die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale, om die onwettige aanwending of uitgawes van staatsgeld en -eiendom te ondersoek. Die ondersoek sal ook “doelbewuste en nalatige verlies aan staatsgeld deur staatsliggame in haar verslag” insluit met die doel om moontlik die verlies aan staatsgeld te herwin.
Wat is die doel van die ondersoek? Gaan daar mense in die tronk gegooi word vir hul oortredings? Néé! Die ondersoek gaan gedoen word en dan gaan daar niks verder gebeur nie. Weer eens ‘n vrugtelose en geldmorsende ondersoek.
Basjan jy is reg. Die ondersoek is is net werksskepping. En dan nog verdere bedrog. Die koeel is klaar deur die kerk en stop die ondersoek. Niemand gaan terug betaal nie en ry in groot BMW’S en Mercs
Oeps….OB daar moet nog uitgestuur word hoor. Ondersoek die hele anc regering ook…hoor
Ondersoeke vir die hele regering ook…hoor.
geld en tydverkwisting. ondersoek eerder die munisipaliteite wat gratis huise, krag, water en dienslewering uitdeel terwyl hulle nie kan bekostig om water leweransiers en eskom te betaal nie. dan sal jy nuttige werk doen.
Hoekom krap sy net ou sake oop hoekom doen sy nie iets aan die nuwe geld ondersoeke nie?
GAAN ONDERSOEK eerder die KORRUPSIE van ZUMA EN KIE, Mandela is nou reeds dood en begrawe, moet nou nie die fokus verskuif nie .. ALMAL Is skelm daar waar julle werk, dis net die graad wat verskil.
Jy worry oor R350 vir ‘n teehemp maar R14 000 vir ‘n FLITS vir ‘n polisieman is fine?