OBK-hoof moet onmiddellik bedank

Daniel Matjila. Foto: OBK

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se raad het besluit dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, moet met onmiddellike effek bedank.

Die OBK het in ʼn verklaring gesê die raad het beraadslaag oor Matjila se brief waarin hy sy voorneme om te bedank uitgelig het. Volgens die raad is dit in die belang van die OBK besluit dat sy bedanking met onmiddellike effek aanvaar word.

“Die raad wil graag daarop wys dat Matjila oor die jare heen die OBK met waardigheid en onderskeid in verskeie kapasiteite gedien het. Hy het ʼn integrale rol gespeel in die nakoming van die OBK se visie om aan sy kliënte se mandate te voldoen en dit te oortref. Die OBK het onder sy leierskap van krag tot krag gegaan en toegewyde en bekwame werknemers van wêreldgehalte gelok.”

Die raad het Matjila voorspoed vir sy toekomstige uitdagings toegewens en gesê daar is geen twyfel dat hy steeds tot die land en kontinent kan bydra nie.

Matjila is die afgelope jaar in omstredenheid gehul en telkemale ondersoek. Hy het egter verlede maand nog in ʼn ope brief aan Suid-Afrika volgehou hy is onskuldig en dat hy die slagoffer van ʼn smeerveldtog is. Dit word onder meer beweer dat hy omkoopgeld aanvaar het om OBK-geld in die mislukte VBS Bank te belê.

Die jongste verwikkelinge kom nadat pres. Cyril Ramaphosa verlede maand aangekondig het dat hy ʼn kommissie van ondersoek na die aantygings van onreëlmatigheid rakende die OBK van stapel gestuur het.

Die OBK is die grootste beleggingsbestuurder in Afrika en bestuur sowat R2 biljoen (“trillion”) se regeringspensioene en ander fondse. Die OBK bestuur onder meer die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF).

Die OBK loop egter deur onder aantygings van onbehoorlikheid onder sy direkteure oor sommige van die beleggingsbesluite wat hulle geneem het.

Een van die 16 kwessies wat die kommissie moet ondersoek, is of enige beweerde onbehoorlikheid rakende beleggingsbesluite deur die OBK wat in 2017 en 2018 deur die media berig is, enige wetgewing oortree het.

Die kommissie moet ook ondersoek of die OBK se beleids- of kontraktuele verpligtinge enige onbehoorlike voordeel vir enige OBK-direkteure, -werknemers, -vennote of familielede van enige OBK-direkteur of -werknemer tot gevolg gehad het.

Ramaphosa wil ook hê die kommissie moet ondersoek of die beleggingsbesluite by die OBK ʼn gevolg was van ondoeltreffende bestuur of funksionering van die raad of enige OBK-direkteur of -werknemer wat sy of haar posisie, voorregte of vertroulike inligting gebruik het vir persoonlike gewin of om iemand anders onbehoorlik te bevoordeel.

Ramaphosa het verder gesê die kommissie moet die tydperk 1 Januarie 2015 tot 31 Augustus 2018 ondersoek vir hul bevindings, verslag en aanbevelings. Die kommissie mag ook aanbevelings en bevindings maak oor sake wat buite die toepaslike tydperk val.

Die kommissie het streng spertye en moet ʼn tussentydse verslag indien nie later nie as 15 Februarie 2019. Die finale verslag moet teen 15 April ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Antoinette ·

Ja so wens mens dat so baie wat maar net aanjag wil ook net hul goed vat en loop!

Andrea van Vuren ·

Go goiing gone! Daar gaan my swaarverdiende pensioengeldjies…

Allan ·

Goeie more, dankie vir die artikel, dit is goeie nuus dat hy afgedank is, Ons hoop hy word vervolg ook..

Net ‘n regsteling in die artikel. ‘n Biljoen/miljard = nege nulle. ‘n Triljoen = 12 nulle.

Ek glo, dit is waarskynlik R2 triljoen wat hulle bestuur, R2 miljard/biljoen is te min.

Groete

Andre ·

Dit gaan nie oor al die “goed” wat hy gedoen het nie maar oor dit wat nie so goed is nie. Die een kan nie die ander uitkanselleer nie.

Gert van Wierdapark ·

Ondersoekende joernaliste moet asb. gaan naspeur waar fondse onder sy lyerskap bele is. Sal nie verbaas as die Jooste perd se naam sou opduik nie. Wie wil wed?

Sarel ·

My vraag hoekom nou? Bedank so geen klagtes van wanbestuur nie. Was Hy dalk onder Politieke druk en mag nou nie praat nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.