OBK-raad bly vir eers van krag

Die raad van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat versoek het om uit hul amp verlig te word, sal van krag bly tot die minister van finansies nuwe direkteure aangestel het.

Die staatsbeheerde batebestuurder het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dit volg ná die raadslede minister Tito Mboweni verlede week skriftelik versoek het om hul uit hul amp te verlig.

“Die nie-uitvoerende direkteure het hulself daartoe verbind om as direkteure aan te bly totdat die minister ʼn nuwe raad aangestel het,” lui die verklaring.

Die raad het verwys na die impak van “gebeure in die onlangse verlede”, insluitend bewerings van ongerymdhede teen minstens vier direkteure, as rede vir hul besluit.

Die OBK, die grootste batebestuurder in Afrika, bestuur byna R2 biljoen (“trillion”) in staatspensioene en ander fondse en is gehul in omstredenheid met bewerings van ongerymdhede wat betref die direkteure se beleggingsbesluite.

ʼn Kommissie van ondersoek is aangestel om, onder andere, beleggingsbesluite deur die OBK te ondersoek en te bepaal of die beleid of kontraktuele verpligtinge tot onbehoorlike voordeel vir enige direkteur of werknemer, vennoot of familielid van enige OBK-direkteur of -werknemer gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

leser ·

nog direkteure, later nog direkteure, nog meer sakke wat gevul moet , en wie betaal …………….

jakes ·

Die OBK moet liewer verduidelik wie se pensioenfondse hule alreeds leeg gestroop het. Bosasa het sekerlik kompetisie as dit kom by geld uitdeel en wie anders as die OBK?

Maak asb GOU ·

Neem alle paspoorte sommer nou in. Ek is baie seker sommiges gaan spoedig verkas, met dat die almal skielik bedank het.
Gedink hulle gaan vervolging mis…

Zumie ·

As die rotte die skip verlaat weet mens dit is besig om te sink…. hoeveel het hierdie sogenaamde direkteure vermors? En hoeveel gaan hulle opvolgers vermors….. amptenare …daar gaan julle pensioen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.