OBP-swaard hang oor die veebedryf

Met die reënseisoen wat reeds aangebreek het, gaan die tekort aan bloutongentstof rampspoedig wees. (Foto: Maroela Media)

Onderstepoort biologiese produkte (OBP) het hierdie week aangekondig dat hy ʼn tekort aan Afrika-perdesiekte (AHS)- entstowwe het. Die rede word aangevoer dat toerusting onklaar geraak het, of dat daar tans geskeduleerde korttermynherstelwerk en instandhouding aan sy fasiliteit is.

AHS is ʼn beheerde dieresiekte ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet no. 35 van 1984) en inenting teen AHS moet volgens sekere vereistes uitgevoer word.

OBS sê gebeurlikheidsplanne word geïmplementeer en noukeurig gemonitor om te verseker dat produksie-uitsette aan die aanvraag voldoen. “OBP wil die perdebedryf gerusstel dat alle pogings aangewend word om te verseker dat die entstof vroeg in Desember 2021 beskikbaar sal wees.”

Hierdie staatsbeheerde onderneming, wat die verantwoordelikheid het om na die nasionale kudde om te sien, het wel benadruk dat sy AHS-entstof die enigste een is wat geregistreer is vir gebruik in Suid-Afrika, in terme van die Wet op Misstowwe, Veevoer, Landbou- en Veemiddels, (Wet no. 36 van 1947) en bly tans die enigste goedgekeurde AHS-entstof in Suid-Afrika.

Dié instelling voer ook aan dat die gebruik van ongeregistreerde produkte teen die wet is en word ten sterkste ontmoedig, ongeag hul beweerde eienskappe, aangesien die veiligheid en doeltreffendheid daarvan nie deur die gemagtigde registrateur van Wet no. 36 goedgekeur is nie.

Dit is geen geheim dat OBP al vir ʼn lang tyd sukkel om aan sy mandaat te voldoen nie en het sy mark deurlopend teleurgestel. Boonop het dié semi-staatsinstelling in 2013 R500 miljoen van die staat ontvang om sy probleme op te los, maar ʼn hele paar veeartse met wie Maroela Media gepraat het getuig dat die fasiliteit stadig maar seker ineenstort.

OBP sê hy is egter ook ʼn entiteit wat wins moet maak en kan dus nie onvoorwaardelik net entstowwe vervaardig nie.

Reënseisoen bring bekommernis

Met die eerste lentereëns begin parasiete soos bosluise, vlieë, muskiete en muggies aktief raak en dit is dan wanneer veeboere op hul hoede moet wees.

Volgens dr. Faffa Malan, besturende direkteur van die herkouerveterinêre vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), moes perde reeds teen einde Oktober ingeënt gewees het. “Perde word uitgevoer en daar is ʼn perdesiektevrye-gebied in die Wes-Kaap waarheen perde geneem word vir kompetisies. Die entstowwe is klaar te laat.”

Hy voorspel dat daar algehele chaos op pad is, veral vir die vleisveebedryf in die eerste drie maande van volgende jaar.

ʼn Soortgelyke siekte as AHS is bloutong, wat by kleinvee voorkom en ook tydens die reënseisoen ʼn groot gevaar inhou. Boere is veronderstel om hulle bloutong-entstowwe, wat in drie dosisse toegedien moet word, ʼn hele ruk voor die reënseisoen by hul koöperasies en veeartse te koop, sodat hulle betyds hul inentings kan afhandel.

Dit gebeur egter baie min dat boere geholpe raak. Die oorgrote meerderheid kere word die skouers net opgetrek. Sommige boere het nou al geleer om lank voor die tyd hul entstowwe te koop en dit op te gaar. Party boere wat al heelwat ondervinding het sal hulle diere noodgedwonge op hoër grond hou en insekweerders gebruik om die vlieënde insekte weg te hou.

Leon de Beer, die hoofbestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het aan Maroela Media gesê dat hy as deel van die nasionale dieregesondheidsforum (NAHF) hierdie week in ʼn vergadering met OBP was en dat hulle tans 9 500 dosisse bloutongentstof versprei.

Met ʼn nasionale kudde van ongeveer 22 miljoen skape met min of meer agt miljoen daarvan op kommersiële plase, is dit egter hopeloos te min.

Van die Brusella S19-entstof is daar 200 000 dosisse beskikbaar gemaak. Die lewende entstof vir slenkdalkoors is ook beskikbaar en hulle verpak tans die geïnaktiveerde slenkdalkoors-entstof.

ʼn Langpadstryd

Annette Steyn, die DA se woordvoerder vir landbou, het aan Maroela Media gesê dat OBP onlangs sy jaarverslag aan die parlement voorgelê het. “Dit is egter frustrerend, want jy moet jou aandag op die verslag bepaal, [maar dan is die skade reeds gedoen.] Dit is dus moeilik om tydens die bespreking aan huidige kwessies aandag te gee.”

“Sedert ek al in 2009 in die parlement gekom het, was daar probleme by OBP. OBP het wel al verduidelik dat sy toerusting verouderd is en dat hy nie vinnig genoeg kan vervaardig en verpak nie.”

Beurtkrag is ook al as ʼn rede aangevoer waarom OBP nie betyds kan voorsien nie, maar Gerhard Schutte, hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dat hulle lank voor die tyd weet wat vervaardig moet word en boonop moet hulle, net soos enige hospitaal of mediese laboratorium, gebeurlikheidsplanne gereed hê.

ʼn Verdere probleem is dat Onderstepoort veeartsenykundige instituut (OVI) wat monsters vir siektes moet toets, nie in staat is nie, of hopeloos agter is met toetse waar veeartse byvoorbeeld monsters instuur van vreemde siektes.

Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo dieregesondheidsforum sê dat OVI die enigste laboratorium in die land is wat hulle bek-en-klouseertoetse kan doen en dat dit uiters frustrerend is om met hulle te werk. “Daar moet eintlik ʼn laboratorium in elkeen van die prominente bek-ek-klouseerprovinsies wees.”

ʼn Anonieme bron het aan Maroela Media gesê dat die departement landbou gewoonlik entstowwe by OBP koop vir veldtogte om opkomende boere se diere in te ent. “Dan jaag so tussen 20 en 40 boere argumentsonthalwe hul 500 beeste na ʼn sentrale punt deur ʼn drukgang om dan sekere kombinasies soos antraks, botulisme en swartwater in te spuit.

“Heelwat kere is die entstowwe al naby aan die vervaldatum en dit gebeur dat die tegnici net die entstowwe op die plaas aflaai. Dan eindig dit op ʼn rak in ʼn stoorkamer waarna die koue ketting noodwendig gebreek word.

ʼn Ander probleem is dat boere baie fyn beplanning rondom entstowwe moet doen. Lamtye moet fyn bestuur en uitgewerk word sodat bloutong, wat kan veroorsaak dat ooie aborteer, nie op die verkeerde tyd toegedien word nie. Boonop moet opvolgdosisse ook binne ʼn sekere tyd gegee word. Die kleinboere pas dit nie sommer toe nie en dan help dit nie veel nie.”

Aangesien OBP die hef in die hand het in sy alleenreg om sekere entstowwe te maak, is die bedryf heeltemal afhanklik van OBP om aan boere te voorsien en derhalwe skrikkerig om teen OBP kritiek te lewer. Verder word die veebedryf ook ernstig geraak wanneer OBP nie sy internasionale oudits slaag nie.

Gauteng Veeartsdienste het ook al menigmale probeer ingryp en vir OBP gekonfronteer, maar sonder sukses. Dié instelling het al gekyk om sy eie fasiliteit te bou, maar dit is veels te duur vir die provinsie.

Boere moet saamwerk

OBP het al aangevoer dat daar ʼn geval was waar boere nie die entstof vir driedaestywesiekte gekoop het toe dit beskikbaar was nie en dus was dit nie vir OBP lonend om dit verder te vervaardig nie. OBP moes ook al entstowwe terugtrek omdat dit nie verkoop het nie.

Van Jaarsveld is ook baie ernstig oor die kwessie en hy doen ʼn beroep op boere om saam te werk. “Sedert 1994 het die regering die veebedryf gedereguleer en dit inderwaarheid in ons hande gelaat. Een van ʼn veeboer se pligte is om betyds sy bestellings vir medisyne by die koöperasies te plaas. OBP is nou ʼn instelling wat moet wins toon en kry nie meer soos in die ou dae net voor die voet geld om entstowwe te vervaardig nie. Die instelling moet ook vooruitbeplanning kan doen.

Lizemarie de Klerk boer met  ʼn Brahmanstoet in Onderstepoort net noord van OBP en het ook ʼn veilingskraal. Sy het aan Maroela Media gesê dat sy vier jaar laas teen slenkdalkoors ingeënt het, wat ʼn dodelike siekte vir mens en dier is en sy kan al jare nie meer S19 kry om teen besmetlike misgeboorte te spuit nie. “Ek het my maar na MSD en Pfizer gewend wat darem knoppiesvelsiekte-entstowwe verskaf.”

Intussen poog private dieremedisyne-laboratoriums in Suid-Afrika, wat oor die modernste laboratoriums ter wêreld beskik, om aansoek vir registrasies vir entstowwe te kry, maar die staat se burokrasie en ʼn vermoedelike traagheid om van sy monopolie afstand te doen, veroorsaak dat die aansoeke op die tafel net ophoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chris dupreez ·

Nou wonder ek wat sal die rede wees dat n fasiliteit soos Onderstepoort stadig maar seker ineenstort. Sekerlik nie kader ontplooing nie. Dit is mos volgens rhamapara nie moontlik nie.

Herman ·

Chris ou maat, nou wonder jy nog. Lui die paar letters ANC nie n klokkie nie hahahaha

Pietertjie ·

Uh-oh. Gaan die diere nou ook ingeperk word as hulle nie ingeënt is nie?

Johann ·

Nog n WÊRELD STANDAARD instelling op die ANC LEGACY lys van skaamtelose verval en verwoes! En ALTYD n verskoning vir die onbevoegdheid? ABSOLUTE SKANDE!

Martie Smartie ·

Daars hy Rama die kama president. Nog een v jou regering se suksesverhale

annie ·

Weet die WGO van die situasie siende dat baie virusse via ‘n gasheer oorgedra word? En ons leef en eet tussen en van die diere wat nou nie meer behandel word nie. En ons atoomkragstasie word ook deur genieë ge-run….

Piet parys ·

Dit is maar net weereens onbevoegde bestuur van OBP. Nou al vir jare probleme met die STAATS INSTANSIE . So dis ou nuus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.