#OccupyLuthuliHouse-lede oorhandig memorandum

Buite die ANC se hoofkantoor, Luthuli Huis, Maandag (5 September 2016). Foto: Twitter via @SSKuzwayo

Buite die ANC se hoofkantoor, Luthuli Huis, Maandag (5 September 2016). Foto: Twitter via @SSKuzwayo

ʼn Gespanne atmosfeer het Maandag voor die ANC se hoofkantoor, Luthuli Huis, in die Johannesburgse middestad geheers waar lede van die #OccupyLuthuliHouse-veldtog saamgetrek het.

Sasabona Manganye, ANC-lid en voorsitter van die Sefako Makgatho-tak, het as stigter van die #OccupyLuthuliHouse-groep gesê hulle dring daarop aan dat pres. Jacob Zuma bedank. Manganye het ʼn memorandum gehad wat hy aan die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, oorhandig het.

Lede van die Umkhonto weSizwe-vereniging vir militêre veterane, geklee in militêre uniforms, het die #OccupyLuthuliHouse-lede by die hoofkantoor ingewag. Mantashe het uiteindelik vier ure later uit Luthuli Huis gekom om die memorandum te ontvang, maar die MK-veterane het die #OccupyLuthuliHouse-lede gestamp en probeer keer dat hulle die memorandum oorhandig.

Mantashe was nie beïndruk met die veterane se optrede nie en het hulle gewaarsku om nie die #OccupyLuthuliHouse-groep nog meer publisiteit te gee nie. “Moenie iets doen wat hulle publisiteit sal gee nie. Daar mag geen bloedvergieting hier wees nie. Julle het gedoen wat julle moes om die ANC te verdedig,” het hy gesê.

Manganye het vroeër gesê die ANC se leierskap reflekteer nie die kernwaardes van die party nie. “Ons veg vir die ANC om te wees wat dit moet wees, nie iets vreemds nie,” het hy gesê.

Hoewel daar ʼn duidelike polisieteenwoordigheid was, het die skare aangehou om mekaar uit te jou en rond te stamp. Cecillia Lindiwe, ʼn lid van MK en die ANC, het gesê hulle is bereid om met die #OccupyLuthuliHouse-lede slaags te raak indien nodig. “Ons moet die ANC beskerm, maar ons moet Zuma toelaat om sy termyn te voltooi soos ooreengekom is met die instemming van die ANC,” het Lindiwe gesê.

Zuma was nie Maandag by Luthuli Huis nie omdat hy in China is waar hy die G20-beraad bywoon. Adjunk-president Cyril Ramaphosa was wel by die hoofkantoor.

Nadat die memorandum oorhandig is, het die skare stadig aan uit mekaar begin gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KarooKlong ·

Weet nie hoekom die SAPD hulle besig hou met politiek nie. Pleks julle gaan werk het.
Daar was oorgenoeg lede van die anc om mekaar se probleme self uit te sorteer.
Uhm,……ek sê ook maar net.

Luister ·

Kan ook nie verstaan dat almal in die ANC nie kan sien hoe baie skade Zuma aan die land doen nie! Dit is net party van hulle wat so plunder en steel. Die res ly ook skade, veral die armstes. ZUMA MOET VAL!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.