Oekraïne: Rusland wil glo selfbeskikking in Krim ontneem

Mustafa Dzjemilev. Foto: AFP

Mustafa Dzjemilev. Foto: AFP

Die Russiese administrasie van die Krim, wat onlangs deur Rusland by die Oekraïne afgeneem is, het gedreig om die verteenwoordigende liggaam van die Krim-Tartare, te verbied.

Die verteenwoordigende liggaam, waar daar eerder oor mense as oor grondgebied regeer word, staan as die Mejlis bekend. Die Krim-Tartare word as die oorspronklike inheemse bevolking van die gebied beskou, en maak tussen 10 en 15% van die Krim se bevolking uit.

Terwyl die oorwegend Russiessprekende en grootliks selfregerende Krim deel van die Oekraïne was, het die etniese Russe in die streekparlement laat blyk dat hulle graag die ontbinding van die Meilis wou sien. Die Krim-Tartare het dus nie die Russiese anneksasie gesteun nie, en die referendum daaroor geboikot.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het egter tydens die anneksasie duidelike beloftes soos die behoud van Krim-Tartaars as een van die amptelike tale gemaak. Hy het per dekreet aangekondig dat alle kulturele entiteite outonomie sou kry.

Spanning sal na verwagting oploop na 18 Mei toe, wanneer die Krim-Tartare hul deportasie in 1944 na Oesbekistan gedenk. Die Sowjet-diktator, Stalin, het hulle gedeporteer omdat hulle glo met die Nazi-invallers sou saamgewerk het. Hulle is eers teen die einde van die tagtigerjare toegelaat om na die Krim terug te keer. Poetin het as deel van sy dekreet restitusie beloof aan almal wat deur die gedwonge verskuiwing benadeel is.

Die vernaamste dreigemente kom nou van Russies-aangestelde hoofaanklaer van die Krim, Natalja Poklonskaja, wat die Krim-Tartare van destabiliserende aktiwiteite beskuldig. Die Krim-leier, Sergej Aksjonov, sit ook sy voet neer dat die tradisionele Krim-Tartaarse leier, Mustafa Dzjemilev, nie sy voete in die Krim mag sit nie. Hy beskuldig Dzjemilev daarvan dat hy ‘n destabiliseringsagent van westerse intelligensiedienste is.

Intussen het kommandant Philip Breedlove van Navo in Ottowa gesê Rusland is met ‘n inval in stadige aksie in die Oekraïne besig. Die ooreenkoms waarvolgens Navo troepe in Oos-Europese lande stasioneer loop aan die einde van die jaar ten einde. Hy versoek dat die ooreenkoms hernu word, maar op so ‘n wyse dat dit defensief geskied, en Rusland nie uitlok nie.

Intussen het die VSA die beplande referendum deur die separatiste in die ooste van die Oekraïne bloot as ‘n voorwendsel vir Russiese oorname beskryf. Rusland, wat 40 000 troepe aan die grens ontplooi het, het intussen ‘n versoek vir nuwe vredesamesprekings van die hand gewys, na die ooreenkoms wat voor die Paaslangweek gesluit is, in duie gestort het.

Bronne: Christan Science Monitor, Trouw, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.