Oeste dalk in gedrang weens swaar reën

Skade op Hennie Roos, ’n boer van die Hoopstad-omgewing, se plaas. (Foto: Verskaf)

Hoewel boere reën altyd verwelkom, is hulle bekommerd dat graangewasse kan wegspoel en dat nog reën ʼn negatiewe effek op hul oeste kan hê.

Swaar neerslae het sedert Desember in die meeste provinsies in die land voorgekom en volgens weerkundiges kan hewige reën nog tot Maart verwag word. Maroela Media het vroeër berig dat ligter neerslae wel vir die eerste twee weke van Februarie verwag word en boere is dankbaar vir ʼn effense blaaskans.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê graangewasse is van nou tot begin Maart in hul mees kritieke stadium en te veel reën kan nou erge skade aanrig. “Graangewasse is nou in die sogenaamde blomfase, waar die graanpitte ontwikkel,” sê Jansen.

Hy sê boere is dankbaar vir effens droër toestande. “Die sonskyn het ’n baie positiewe uitwerking op die graangewasse en gewasse kry kans om hitte-eenhede op te neem.”

Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in Vrystaat, sê die groot hoeveelheid reën die afgelope maand het groot skade aan kleiner graangewasse in die provinsie aangerig omdat die grond deurdrenk is.

“Water kan nie meer dreineer nie. Van die plantjies het weens te veel water gevrek, terwyl ander nie eens opgekom het nie omdat dit gevrot het,” sê Van der Westhuizen.

Van die boere se graanplantjies is geel en volgens Van der Westhuizen lyk die plante “sieklik”.

“Talle boere probeer nou skadebeheer toepas om hul gewasse te red. Dit kos hulle egter duisende rande ekstra.

“Daar is ook boere wat die grond nou weer bewerk om broodkoring vir die winter te plant en hoop om daar die geld wat hulle verloor het, weer op te maak.”

Van der Westhuizen sê ook dat sojabone nie reën kan hanteer sodra dit ryp word nie. Die peule spring oop en pitte skiet uit. “As dit teen strooptyd (tussen April en Mei) reën, gaan die soja-oeste verlore gaan.”

Die boere wat vroeg genoeg hul graangewasse geplant het, het egter by die reën gebaat.

Volgens Van der Westhuizen is dit in hierdie stadium te vroeg om te sê hoe meeste van die boere se oeste en winsmarges gaan uitdraai.

Jack Armour, Vrystaat Landbou (VL) se kommersiële bestuurder, sê dit is ook te vroeg om te bepaal of die reënskade die land se kospryse sal beïnvloed. Dié inligting sal eers teen einde Februarie bekend wees.

Volgens Van den Berg loop die land wel ook ’n risiko vir oorstromings in veral die Oranje- en Vaalriviergebied. “Damme is reeds oorvol en die grond kan nie meer water hanteer nie.”

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê die water in die Benede-Oranjerivier vloei tans teen ongeveer 3 500 kubieke meter per sekonde en is baie naby om sy oewers te oorstroom.

“Die droër toestande is goed, sodat damme bietjie kan sak en daar weer tot ’n mate ʼn bufferkapasiteit kan ontwikkel. So kan die kans op oorstromings ook verminder,” sê Jansen.

In die Noord-Kaap is daar egter nog baie dele wat water broodnodig het.

“Die rampdroogtegebiede het nog nie naastenby hul langtermyn gemiddelde reënval ontvang nie.”

Die Loeriesfontein-gebied, die somerreënvalgebiede in die Namakwaland en die sentrale dele van die Karoo, het slegs tussen 25% en 30% van hul langtermyn gemiddelde reënval ontvang.

Groot dele van die Kalahari het ook nog net twee derdes van die langtermyn gemiddelde reënval ontvang.

Jansen sê hulle is wel tevrede met die tussen 80% en 90% langtermyn gemiddelde reënval wat die oostelike dele van die provinsie ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miskruier ·

Dankie vir elke boer wat sy bes probeer om ons nasie te voed.

Casper ·

My hart bloei vir die boere.Eers reën dit nie en dan reën dit te veel,In beide gevalle benadeel dit boere,maar ons kan nie reën in sekere hoeveelhede bestel soos kunsmis nie.Dit kan egter nie kospryse beïnvloed nie.Selfs ‘n daling in brandstofpryse toon nie ‘n afwaartse neiging nie en dan word die swak rand en hoë oliepryse die skuld gegee.Dood het altyd ‘n oorsaak.

Casper ·

Toe die boer na,’n paar jaar van uitmergelende droogte goeie reë kry toe juig hy en toe hy so by die venster uit kyk en hy sien ‘n stukkie blou lug toe sê hy hier kom die volgende droogte alweer.

annie ·

… maar sodra grondgrypers ons boere van hul sware lot, ewige ellende en hartseer wil kom verlig dan spring hulle op hul perdjies… sanna in die hand… Wees dankbaar en vlug na jul sandkastele langs die Kaap… hoewel dit daar ook maar soms reën… Dis so tragies dat net boere altyd moet swaarkry… Snik!

domheks ·

Dankie vir elke boer is SA! As dit nie oorstromings is nie is dit droogte, maar hulle maak planne – staan nie net bakhand nie. Verder is veilighei ook ‘n kwessie. Kan net nie in die NUWE SA wen nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.