Offisier vas wat gastehuisman glo afpers

(Argieffoto: SA Polisie)

Nóg ʼn polisiebeampte is in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die afpersing van ʼn gastehuiseienaar van Randburg.

ʼn Ander beampte is einde verlede maand in verband met dieselfde ondersoek vasgetrek.

Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, is die 55-jarige luitenant-kolonel van die Douglasdale-polisiestasie Woensdag by sy huis in Aspen Hills, in die suide van Johannesburg, aangekeer. Hy sal eersdaags in die Randburg-landdroshof op aanklagte van uitbuiting en korrupsie verskyn.

Mulamu sê die beampte en ʼn kollega, Soja Tshabalala (37), het glo gedreig om die eienaar van die gastehuis in hegtenis te neem omdat hy kwansuis belastingsregulasies oortree en ʼn bordeel bedryf het.

Tshabalala wou glo R60 000 van die eienaar hê, anders sou hy hom summier toesluit.

Maroela Media het vroeër berig die polisiebeampte het glo op 2 Maart in uniform en in ʼn amptelike polisievoertuig saam met twee onbekende burgerlikes wat hulle as beamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voorgedoen het, opgedaag. Die drie het die slagoffer glo gedreig dat hulle sy onderneming gaan sluit as hy nie gehoor gee aan hul eise vir kontant nie.

Die eienaar is glo gedwing om aanlyn R35 000 na een van die verdagtes se rekening oor te plaas.

Die ondersoek is aan die Valke oorhandig en Tshabalala het hom kort daarna aan die polisie oorgegee. Hy het reeds in die Randburg-landdroshof op aanklag van uitbuiting en korrupsie verskyn.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

en die r35000 wat betaal is, waar is dit heen, verloor die eienaar dit ?

Diline

Die korrupte spul word net meer in hierdie land!

Genis

Dis maar n korreltjie in die woestyn… SAPD is verrot!

Strandloper

Dit is soos n nagmerrie….maar hou nie op nie!

Androclus

As hulle nie korrupsie doen nie dan kry hulle korrupsie onttrekkingsimptome,dit laat die hande oopstaan vir alles wat hulle kan kry.