OG gaan Prasa ondersoek

Dipuo Peters, minister van vervoer (Mei 2015) Foto: GCIS

Dipuo Peters, minister van vervoer (Mei 2015) Foto: GCIS

Dipuo Peters, die minister van vervoer, het die ouditeur-generaal (OG) se kantoor versoek om ʼn forensiese oudit te doen ná bewerings van finansiële wanbestuur by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

Peters het die OG se kantoor, ʼn Hoofstuk 9-instansie, aangestel om die beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en ander verwante statute te ondersoek met betrekking tot kontrakte, die aanstel van diensverskaffers en betaling aan diensverskaffers, insluitend maar nie beperk nie tot kwessies wat onlangs groot mediadekking ontvang het.

“Gegewe die inligting wat onlangs aan die lig gekom het met verwysing na Prasa, is ek van mening dat ʼn onafhanklike instansie, soos die kantoor van die ouditeur-generaal, beter bevoeg en bemagtig is om die finansiële stand van sake by Prasa te ondersoek met die doel om swakhede te identifiseer en regstellende aksie voor te stel,” het sy Sondag in ʼn verklaring gesê.

Peters het gesê hy vergader al die afgelope paar weke met die raad en senior bestuur van Prasa. “Ek het vrae gevra, en die reaksie het tot my besluit gelei.”

Sy het bygevoeg die OG het al vantevore verslae uitgereik oor finansiële bestuur by Prasa. Sy het die OG versoek om ook daardie verslae te bestudeer en dadelik aandag te gee aan probleemareas.

“As die uitvoerende owerheid neem ek primêr verantwoordelikheid vir die aangeleenthede van staatsbeheerde entiteite wat administratief en polities aanspreeklik is tot die ministerie van vervoer,” het sy gesê.

Daar word van Prasa se raad van direkteure, bestuur, personeellede en ander betrokke aandeelhouers verwag om hul samewerking en ondersteuning te bied aan die OG se kantoor.

Peters het Prasa se leierskap aangemoedig om steeds te fokus om seker te maak dat die treine steeds daagliks bly loop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zahn ·

O, so nou is Thuli bevoeg, maar as dit by daai nedersetting kom, weet sy nie waarvan sy praat nie? Tipies anc.

neelsie ·

Laat ons maar wag en kyk wat hier gaan gebeur.
Die eerbaarheid en integriteit van die Anc staan ernstig onder verdenking.

Winston ·

Wereens n vermorsing van kosbare tyd en geld as gevolg van onkundige bestuur. Of is dit? Wanneer het die ANC bewys dat hulle eerbaar is en integriteit het? Die gate is meer as die stene. Die muur gaan kantel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.