Opposisiepartye het Maandag uitgevaar teen ʼn aankondiging deur Nosisiwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, dat R100 miljoen begroot word vir die huur van ʼn nuwe presidensiële straler vir pres. Jacob Zuma.
Mapisa-Nqakula het Maandag in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê die nuwe straler, wat nou gehuur word, sal teen November afgelewer word.
Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir verdediging van die VF Plus, het in ʼn verklaring gesê die huur van die straler is ʼn verkwisting van belastingbetalers se geld en daarom oortreding van finansiële wetgewing.
“Die SANW beskik tans oor ʼn geskikte straler, Inkwazi, wat spesifiek vir die vervoer van die president aangekoop is. Die straler is ten volle operasioneel en is beskikbaar vir gebruik. Hierdie straler word egter nie meer gebruik vir die president nie, aangesien hy nie in die straler wil vlieg nie,” het Groenewald gesê.
“Aangesien daar niks fout is met Inkwazi nie, beskou ek die R100 miljoen, wat nou bykomend begroot word, as ʼn verkwisting van belastinggeld. Dit is ʼn oortreding van finansiële wetgewing en daarom het ek die ouditeur-generaal (OG) versoek om dadelik ondersoek in te stel en die besteding van die R100 miljoen te keer. Daar kan nie van belastingbetalers verwag word om op te dok vir die grille en giere van Zuma nie.”
Intussen het DA-LP Kobus Marais ook uitgevaar teen die huur van die straler en beklemtoon dit kom neer op R273 972 huur per dag, meer as dubbel die prys van ʼn eersteklas-retoervliegkaartjie tussen Suid-Afrika en Londen. “Daar kan absoluut geen regverdiging vir sulke spandabelrigheid wees terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie onder erge fiskale druk is en ʼn moontlike afgradering in kredietstatus op die horison is nie,” het Marais gesê.
“As pres. Zuma ernstig is daaroor om die ekonomie te stabiliseer, moet hy persoonlik ʼn voorbeeld van selfbeheersing stel en die minister beveel om nie voort te gaan met die planne om die straler te huur nie.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Dis een skok na die ander !
Hy moet iewers die geld kry om sy leningtjie terug te betaal
Groot “bra” hy, baie groot bra!
Rome brand en JZ stel sulke eise. Dit moet gestop word. Die mense ly honger in diie land. Sy arogansie ken geen perke nie.
Met alle respek, kan ons President 100 miljoen rand sê en nie lag? Groot getal en baie geld.