OG gevra om R100 miljoen vir Zuma-straler te ondersoek

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Opposisiepartye het Maandag uitgevaar teen ʼn aankondiging deur Nosisiwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, dat R100 miljoen begroot word vir die huur van ʼn nuwe presidensiële straler vir pres. Jacob Zuma.

Mapisa-Nqakula het Maandag in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê die nuwe straler, wat nou gehuur word, sal teen November afgelewer word.

Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir verdediging van die VF Plus, het in ʼn verklaring gesê die huur van die straler is ʼn verkwisting van belastingbetalers se geld en daarom oortreding van finansiële wetgewing.

“Die SANW beskik tans oor ʼn geskikte straler, Inkwazi, wat spesifiek vir die vervoer van die president aangekoop is. Die straler is ten volle operasioneel en is beskikbaar vir gebruik. Hierdie straler word egter nie meer gebruik vir die president nie, aangesien hy nie in die straler wil vlieg nie,” het Groenewald gesê.

“Aangesien daar niks fout is met Inkwazi nie, beskou ek die R100 miljoen, wat nou bykomend begroot word, as ʼn verkwisting van belastinggeld. Dit is ʼn oortreding van finansiële wetgewing en daarom het ek die ouditeur-generaal (OG) versoek om dadelik ondersoek in te stel en die besteding van die R100 miljoen te keer. Daar kan nie van belastingbetalers verwag word om op te dok vir die grille en giere van Zuma nie.”

Intussen het DA-LP Kobus Marais ook uitgevaar teen die huur van die straler en beklemtoon dit kom neer op R273 972 huur per dag, meer as dubbel die prys van ʼn eersteklas-retoervliegkaartjie tussen Suid-Afrika en Londen. “Daar kan absoluut geen regverdiging vir sulke spandabelrigheid wees terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie onder erge fiskale druk is en ʼn moontlike afgradering in kredietstatus op die horison is nie,” het Marais gesê.

“As pres. Zuma ernstig is daaroor om die ekonomie te stabiliseer, moet hy persoonlik ʼn voorbeeld van selfbeheersing stel en die minister beveel om nie voort te gaan met die planne om die straler te huur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

William ·

Hy moet iewers die geld kry om sy leningtjie terug te betaal

Alida ·

Rome brand en JZ stel sulke eise. Dit moet gestop word. Die mense ly honger in diie land. Sy arogansie ken geen perke nie.

Jakes ·

Met alle respek, kan ons President 100 miljoen rand sê en nie lag? Groot getal en baie geld.

Ander Koos ·

Baie meer as die 1,2 “million”wat hom so laat struikel het!! Hy het nie die vaagste benul wat aangaan. Verlede week se tv onderhoud in China tydens G20 beraad het weereens bewys.

CvW ·

Hoeveel studente beurse kan dit wees? Maak eerder n verskil! Skaamte!

Boertjie ·

Ek stem saam met (My opinie) mense dink hy is so onskuldig maar hy kom daarmee weg om elke hoek en draai sou eerder se hy is slimmer as baie mense skelm of nie. Wie het al in die wereld n huis vir 250 miljoen gekry vir n 7.8 miljoen lening. Wie gaan in n nuwe straler vlieg. Nie eers Obama kan dit regkry nie!(Airforce one is gebou in 1981 en Inkwazi in 2001.Ons moet ook onthou Obama het ook net een vrou en twee kinders so wie is alweer koning.

snoefie ·

die sangoma het gepraat en daar om is inkwazi nou nie meer in sy smaak nie. hoekom is iedere en elke lid van die anc so bang vir zuma? mbeki was n heilige teen hom en die magtige anc het hom die trekpas gegee. zuma moet maarby sy nuwe bank R100miljoen leen om die errie te huur.

christine ·

Hy prop die top ses se sakke vol geld daarom sal hy bly. Hy sal bly tot mev Zuma hom kan vervang, dan sal hy haar ignoreer en die leisels stewig vashou en deur haar regeer. Kamtag geskei tradisionle huwelike is nie bindend nie los en vat mekaar na willekeur. Biskop Tutu het gese hy sal die ANC wegbid. Hy kan maar want ons sal nie van hulle onslae raak nie. As ons almal saambid gaan dit werk. Wie die duiwel dink hy, wie is hy. Die weermag val uitmekaar en die narsis wil in steil vlieg.

Kosie ·

Ooglopend leef hierdie president in ‘n droomwereld van sy eie. Wat is die simptome van ‘n psigopaat?

M'Lady ·

Goeie genade. I Militere Hospitaal val uitmekaar. Dis so vuil en verwaarloos. Daar is nie eers meer spesialiste nie. Dis nie meer n hospitaal nie, eerder n kliniek maar die SANW het geld vir sulke strooi.

Theresa ·

Nul en geen respek meer vir dié mens en sy hulp-besluitnemers nie. Vlieg saam met al die ander mense (al sit mnr glimlag dan in besigheidsklas). Dalk sal die vliegtuie dan in ‘n beter tegniese toestand wees. Die veiligheid sal opgeknap word op lughawes ens., ens.
Absoluut banaal dat hy soveel geld na sy kant toe hark. Daar is ander vliegtuie – gebruik dit.

John ·

Ons president sien homself as die gelyke van staatsleier soos die’ van Sjina, Rusland, Brittanje ens en nie van ‘n sukkelende Afrikastaatjie nie. Ons betaal duur vir daardie flagrante visioen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.