OG maak ouditresultate bekend

Kimi Makwetu (links). Foto: ANA

Die Wes-Kaap loop weer voor met 80% van dié provinsie se munisipaliteite wat skoon oudits gekry het.

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal (OG), het Woensdag sy jongste ouditverslag oor 263 munisipaliteite bekend gemaak.

“Gauteng vaar steeds goed en is die enigste provinsie waar al die munisipaliteite ongekwalifiseerde oudits ontvang het. Dit is egter slegs die Midvaal-munisipaliteit wat sy skoon ouditstatus kon behou.”

In KwaZulu-Natal het 18% van munisipaliteite skoon oudits gekry en in die Oos-Kaap 16%. Die provinsies wat die meeste sukkel is Noordwes, die Noord-Kaap en Vrystaat.

Die uitgawebegroting vir munisipaliteite in 2015/16 het R378 miljard beloop. “Onreëlmatige uitgawes het egter met net meer as 50% toegeneem tot R16,81 miljard.” Makwetu het gesê die bedrag kan selfs hoër wees, aangesien ’n derde van die munisipaliteite aangedui het dat die volle bedrae hiervan nie bekend is nie.

Vrugtelose en verkwistende besteding het wel met 21% tot R901 miljoen gedaal. “Die algemene aard van die vrugtelose en verkwistende uitgawes hou verband met rente en boetes op agterstallige rekeninge en laat betalings (R814 miljoen), litigasie en eise (R23 miljoen) en ander aangeleenthede soos byvoorbeeld kansellasiefooie vir akkommodasie en onsuksesvolle implementering van sagteware (R64 miljoen).”

Ongemagtigde uitgawes het amper op dieselfde vlak as in die vorige jaar op R12,77 miljard gebly. “In totaal het 55% van die oorbesteding verband gehou met nie-kontant-items – met ander woorde, ramings van waardevermindering of waardedaling waarvoor daar nie korrek vir begroot was nie.”

Makwetu het gesê toekomstige ouditresultate sal waarskynlik nie verander na die gewenste toestand indien daar nie gevolge is vir spesifieke aksies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

marous ·

Onreelmatig , vrugteloos of verkwis … die geld is weg! Waarom word die mense in persoon nie strafregtelik of sivielregtelik aangespreek nie????

Magda ·

Sal ek ook wil weet – Steel ons geld en kom niks oor nie – Lekker SA vir die ANC werknemers. Hulle bestuur 80% van die land.

al ·

Stem saam met jou – die belastingbetaler se beursie het ñ bodem – daar moet strafregtelik en dissiplinêr opgetree word waar daar growwe nalatigheid was.

Pieter ·

Parragrawe 3 en 1 van die berig is in konflik en moet asseblief dadelik regestel word deur die redaksie.
Skoon en/of ongekwalifiseerde oudit/s beteken wat?

Uvonka ·

Ja en???? Dit is glad nie nuus nie, almal weet dit tog. Die vraag is hoekom die vermorsing en deur wie? Ag skuus, dit weet ons ook. Wat gaan daaraan gedoen word?

Hendrik ·

Ag dit is so lekker om aan jou eie geldkas by te dra en nie aan ‘n algemene geldkas. Dit hang natuurlik af aan wie jy aan bestuur gesit het met jou stem. Dus mense stem wys. As jou stem nie werk nie, werk die sisteem nie vir jou nie en ek kan jou ongelukkig nie help nie.

Paul ·

Kan nie verstaan waarom word die kriminele nie vervolg en die geld nie van hulle verhaal nie??

Piet Pompies ·

As die geld nie aan jou behoort gee jy dit maklik uit… wat is die beste 4×4…… Avis VW Polo……..
Laat die mense verantwoordelikheid vat vir die vermorsing dan sal jy sien hoe mooi word daar met die geld gewerk… en die Polo….. hy bly nog steeds die beste 4×4

Johann Marx ·

Demokrasie…….’n politieke bestel waarin die Afrikaanssprekende Blanke Minderheid aan sy eie ondergang deelneem, EN daarvoor betaal…

Hasie ·

Weskaap is onder DA bestuur, dit is hoekom hulle skoon oudits kry. ANC munisipaliteite se bestuur steel geld en koop groot deur karre. Ek weet waarvan ek praat.

Jan ·

Daar word ook vir die hoofmanne in sekere provinsies karre gekoop.

Alida ·

Ons “slim” OB moet daar gaan geld soek en die Reserwe bank uitlos.

Leendert ·

Alida, as ek die berigte vanmiddag in die media reg gelees het, dan het sy haar ook deur ‘n boek wat ‘n vorige werknemer van die Reserwebank geskryf het en wat erge bewerings teen die bank maak, laat beinvloed. Sy is ‘n verleëntheid vir die regsberoep.

Super Ouditeur-Geeraal (SOG) Wildevark ·

“Makwetu het gesê die ouditresultate wat bekend gemaak is gaan waarskynlik nie verander na die gewenste toestand indien daar nie gevolge is vir die spesifieke aksies nie.” Wat ‘n sirkus!

J ·

Ai die gesteelde mijarde moet maar gate in Daai beursies brand want Geregtigheid bestaan lankal nié meer. Siestog.

Verstaan nie ·

Ek dog ‘n ongekwalifiseerde oudit is ‘n skoon oudit? Jy kry ongekwalifiseerd (skoon), gekwalifiseerd, negatiewe verslag en weerhouding van mening? So dus het Gauteng 100% skoon oudits of verstaan ek dit verkeerd?

Burger Vlakvark ·

@Nico Strydom. U stelling “Makwetu het gesê die ouditresultate wat bekend gemaak is gaan waarskynlik nie verander na die gewenste toestand indien daar nie gevolge is vir spesifieke aksies nie.” het betrekking.
Die ouditresultate is mos reeds gepubliseer. Waarom sou die gepubliseerde ouditresultate verander? Immers, dit is die TOEKOMSTIGE ouditresultate wat ter sprake is. Die toekomstige ouditresultate sal alleenlik voldoen aan die wetlike vereistes indien die regering gesien word daadwerklik optree teen wanpresteerders.

Nico Strydom ·

Dagsê Burger Vlakvark

Jammer vir die oorsig, die berig is gewysig.

Vriendelike groete
Nico Strydom nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.