OG-verslag wys regering laat alle boere in steek – VF Plus

(Argieffoto)

Die VF Plus sê die bevindings wat ouditeur-generaal (OG) Kimi Makwetu gemaak het in sy ondersoek na die geldelike hulp vir kleinboere wat deur die afsonderingstydperk geraak is, moet verder ondersoek word.

Makwetu het Woensdag die eerste van verskeie verslae na die besteding van die regering se enorme Covid-19-hulppakket bekend gemaak.

In sy verslag sê die OG teen 22 Julie is 14 589 aansoeke vir koopbewyse met ʼn waarde van R517 miljoen goedgekeur. Altesaam 13 662 van die koopbewyse is reeds uitgedeel.

“Die oudit het onvoldoende rekordhouding en rekonsiliasie van koopbewyse wat goedgekeur, versprei en gebruik is, geïdentifiseer, wat die gevaar van onbetroubare verslagdoening deur die departement en onopgespoorde bedrog en foute verhoog,” lui die OG se verslag.

“Kommer is teenoor die departement uitgespreek oor die onvoldoende en onregverdige proses wat gevolg is om verskaffers te kies vir die delging van die koopbewyse en begunstigdes wat dalk nie in aanmerking daarvoor moes kom nie.

“Die departement ondersoek hierdie bekommernis.”

Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou, sê dit is onaanvaarbaar dat mense wat moontlik nie vir hulp gekwalifiseer het nie, voordeel getrek het uit die geld, veral in die lig daarvan dat kommersiële landbouers uitgesluit is van enige regeringshulp.

“Die departement het kommersiële landbouers uitgesluit tydens die enorme bedreiging vir voedselproduksie gedurende die Covid-19-tydperk. Slegs opkomende boere het baat gevind, terwyl die departement kommersiële boere na die Landbank verwys het,” het Breedt gesê.

Sy sê alhoewel wol, wyn en tabak van Suid-Afrika se hoofuitvoere is, het die kommersiële boere wat die produksie daarvan verseker, nie in aanmerking gekom vir enige regeringshulp nie.

“Die VF Plus sou graag wou sien dat hierdie boere bygestaan word deur dieselfde regering wat produksie effektiewelik tot stilstand gebring het. Intussen is hierdie boere ook na die Landbank verwys.”

Breedt sê die Landbank is reeds twee keer die afgelope jaar afgegradeer en moes deur middel van ʼn reddingsboei van sowat R3 miljard gered word. Dit het hoër rentekoerse, sowel as verhoogde pryse van landbouprodukte vir die verbruiker tot gevolg.

“Die VF Plus verwelkom die OG se bevindinge, maar verwag dat daadwerklik opgetree word teen amptenare wat hulself aan onreëlmatighede skuldig maak. Die departement moet hand in eie boesem steek en ophou agter die Landbank as enigste alternatief wegkruip.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Ondersoek, ondersoek, ondersoek en julle word niks wys nie…

Trotse Boervrou ·

Ag liewe hemel tog, dit weet ons al jare lank. Het die situasie enigsins verander?

Oomniklaassevriend ·

Die regering is werklik soos koning Midas se teenpool. Alles waaraan hulle raak verander in riool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.