OG was onbewus van Nkandla-uitgawes

Pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning

Bewyse van grootskaalse wanbesteding by die Nkandla-bouprojek is van die ouditeur-generaal weerhou, het Beeld Donderdag berig.

Dit is waarom die OG oor ʼn tydperk van drie jaar nie bewus was van sogenaamde veiligheidsopgraderings van R246 miljoen by pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal nie. Die OG, Kimi Makwetu, het dié uitlatings Woensdag in die parlement gemaak nadat die OG se oudit-bevindinge in nasionale en provinsiale staatsdepartemente bekend gemaak is.

“As jy ons ouditverslae van die departement van openbare werke vir die betrokke tydperk bestudeer, sal jy sien dat ons nie ʼn ouditmening kon lewer nie, aangesien ons nie toegang gehad het tot al die nodige dokumente nie,” het Makwetu gesê, berig die koerant. “Dit was nie maklik om die oudit te doen nie, want die dokumente is geklassifiseer en dit was nie vir ons maklik om ʼn normale oudit te doen nie.”

Makwetu moes sê waarom die OG nie alarm gemaak het oor uitgawes by Nkandla nie.

Die departement van openbare werke het eers vanjaar stappe gedoen teen beamptes wat by die projek betrokke was, nadat die Openbare Beskermer en spesiale ondersoek-eenheid bevind het dat die reëls en regulasies oortree is en sowat R155.3 miljoen wanbestee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dave ·

Brian Dames van ‘n bankrot Eskom kry R22¾m en benewens dit kry hy ‘n ander paar miljoen rand wat sy pakket in die omgewing van R30m maak. En terwyl ek hierdie skryf moet ek ‘n brief verduidelik aan ‘n skoonmaker dat sy deposito verdubbel word en hy dus ‘n ander R102 moet betaal. Die regering misbruik meer as R155m sonder om ‘n oog te knip en ontneem selfs instellings wat geld dringend nodig het daarvan, daarvoor. Die woord miljoen het niksseggend geword. Sing enige een nog Lukas Maree se ‘kan doen met ‘n miljoen’ of het dit ‘n biljoen geword? Het geld sò waardeloos geword? Of is dit bloot onbevoegdheid en onnooslikheid?

Jan ·

Mens kan maar net wonder hoeveel skandale daar is waarvan ons en die OG nooit van bewus sal wees nie !!!!!!! Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie, of hoe?

Francois ·

Wat ek wil weet is, wat het van al die geld geword wat ons daagliks aan die “grens oorlog” spandeer het? Ons almal weet dit was nie ‘n goedkoop operasie nie. Waar is al daardie miljoene heen? Die hele land het floreer daai tyd met daai onkoste en al…en nou – als verval in ellende!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.