Okah ná tweede ontsnappingspoging na Kokstad-tronk verskuif

Henry Okah

Henry Okah

Henry Okah, die veroordeelde guerilla-leier van Nigerië, is al twee keer geskuif na onsuksesvolle ontsnappingspogings saam met medegevangenes, het The Star Vrydag berig.

Okah en ander gevangenes, insluitend die Sondagverkragter Jaco Steyn, het probeer om uit Leeukop-gevangenis in Midrand te ontsnap. Okah is daarna na die New Lock-gevangenis in Pretoria geskuif en het weer ʼn plan beraam om saam met ander gevangenes te ontsnap.

Dié inligting is vandeesweek in dokumente aan die Pretoriase hooggeregshof bekend gemaak in ʼn mislukte aansoek deur Okah se vrou, Azuka, en sy prokureur Idemudia Uriesi. Die twee beweer dat Okah uit die New Lock-gevangenis verdwyn het en dat hulle nie weet waar hy homself bevind nie. Hulle vermoed hy is na ʼn onbekende gevangenis geneem.

Uriesi sê hy het gerugte gehoor dat Okah na Kokstad geneem is, en hy het die departement van korrektiewe dienste van kwaadwilligheid en ʼn verskuilde agenda beskuldig.

Uriesi het versoek dat Okah onmiddellik na New Lock-gevangenis moet terugkeer.

Reuben Mbuli, direkteur van die departement, het gesê Okah is na Kokstad geskuif vir veiligheidsredes, aangesien hy weer by ʼn ontsnappingspoging betrokke was. Hy is op 13 Maart saam met ander gevangenes na Kokstad verskuif. Hy sê dit is binne die departement se regte om Okah te skuif, en niemand het die reg om dit te bevraagteken nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.