Okosa sal Multichoice-bewerings ondersoek

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het bevestig dat hy bewerings van knoeiery by die satelliettelevisiemaatskappy Multichoice sal ondersoek, het die DA Sondag gesê.

Dit kom nadat die DA in November verlede jaar ʼn klagte by Okosa aanhangig gemaak en versoek het dat daar ondersoek ingestel word na betalings wat deur Multichoice aan ANN7 en die SAUK gemaak is, na bewering in ruil vir politieke invloed oor die regeringsbeleid oor digitale migrasie in die maatskappy se guns.

Bewerings staar Multichoice ook in die gesig dat hy glo die nuuskanaal ANN7, wat in daardie stadium deur die omstrede Gupta-familie besit is, miljoene betaal het in ruil vir soortgelyke invloed oor die regering se posisie oor die bekendstelling van die betrokke dekodeerders.

Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, het gesê Okosa het in ʼn brief bevestig die saak is na sy eenheid vir nakoming en verbruikersake verwys om ondersoek te word.

Van Damme het gesê die DA is verheug dat Okosa saamgestem het dat die betalings ondersoek moet word. “Suid-Afrikaners verdien om te weet dat die betalings inderdaad bo verdenking is soos Multichoice beweer,” het sy gesê.

Sy het gesê die DA meen dat maatskappye soos Multichoice die ruimte gegun moet word om besigheid te doen en sodoende noodsaaklike werkskepping te bewerkstellig, maar hul optrede moet terselfdertyd binne die grense van die wet wees, in ooreenstemming met besigheidsetiek en binne ʼn omgewing waar kompetisie nie onderdruk word nie.

“Daar is geen probleem daarmee as maatskappye steun werf vir beleidsposisies deur middel van debat nie, maar ʼn situasie waar ʼn beleid gekoop word, kan nie toegelaat word nie. Dit kom neer op beleidskaping. Die DA sien uit daarna om verder met Okosa in gesprek te tree oor dié saak sodat daar vir eens en vir altyd duidelikheid hieroor kan wees,” het Van Damme gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Dit is vir my baie hartseer dat Afrikaanse instellings soos diè en Steinhoff betrokke is by beweerde onderduimsheid. Selfs net dat n bewering daaromtrend gemaak word.
Dit maak van ons niks beter as die staatskapers nie. Dit is of alles en almal oorgee aan Mammon.

Mien ·

Multichoice eerder anti-Afrikaanse, Suid-Afrikaanse instelling Eish.

Wille Willem ·

Wanneer laas het enigiemand ‘n dvd-opnemer (dvd recorder) in ‘n winkel opgemerk? ‘n Voëltjie het gefluit dat Multichoice ook hiér ‘n vinger in die spreekwoordelike ‘pie’ het.

Japtrap ·

Multichoice se dubbelstandaarde – Weier om enige betaalde Afriforum advertensies te lug, maar betaal die Guptas honderde miljoene om hul ANN7 (fop)nuuskanaal op die lug te hou in ruil vir besigheidsgunste van die minister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.