Okosa: Verwyder voorsitter, vra LP’s

Prof. Hlengiwe Mkhize (Foto: ANA)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie wil hê Manyaba Ruben Mohlaloga, voorsitter van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) wat skuldig bevind is aan bedrog, moet dadelik afgedank word.

Hlengiwe Mkhize, voorsitter van die komitee, het gesê die lede het ʼn resolusie aanvaar dat Mohlaloga verwyder moet word kragtens artikels 8 van die Okosa-wet. “Hy moet as voorsitter en as raadslid van Okosa verwyder word. Die wet bepaal dat enigiemand wat skuldig bevind word, nie as ʼn raadslid mag dien nie,” het Mkhize in ʼn verklaring gesê.

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof het Mohlaloga in Februarie tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog ter waarde van R6 miljoen by die Landbank van ʼn saak wat dateer uit 2012. Sy prokureurs het intussen appèl aangeteken teen die vonnisoplegging.

Mohlaloga, voormalige ANC-wetgewer en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, is skuldig bevind op aanklag dat hy met die voormalige uitvoerende hoof van die Landbank, Philemon Radichaba Mohlahlane en Dinga Rammy Nkhwashu van die regsfirma Masepula Dinga Attorneys saamgesweer het om in 2008 R6 miljoen aan die regsfirma se trustrekening oor te betaal.

Die geld is van Agri-BEE oorgedra, wat ten doel het om swart Suid-Afrikaners te help om aktief by die landboubedryf betrokke te raak.

Ondersoekbeamptes het gesê die geld is nooit aangewend tot voordeel van plaaswerkers of opkomende boere nie, maar eerder tot persoonlike voordeel van die beskuldigdes, wat die kontant onder mekaar verdeel het.

Hulle is al drie in Januarie 2018 skuldig bevind op aanklag van bedrog en geldwassery.

Mkhize het gesê Mohlaloga het die geleentheid gehad om te reageer en die komitee te oortuig dat hy nie uit Okosa verwyder moet word nie. Hy het onder andere aangedui dat hy appèl aangeteken het teen sy vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

andre ·

Vertel die arm Swartmense van dié gemene diefstal van belastinggeld wat bedoel was vir hulp aan hulle (arm mense).

As daar ooit ‘n motivering was vir ‘n boendoe verhoor en -straf
… dan is hierdie die regte insident daarvoor.

Waar is die GUILLOTINE as ons dit nodig het?

Henk ·

Okosa is n korrupte bedrogspul. Hulle slaan geensins ag op klagtes teen selfoonmaatskappye nie en doen nie eens moeite om klaers te antwoord nie!!!

Dafer ·

Nou gaan al hierdie ouens wat so aanmekaar skuldig bevind word ooit tronk toe?

Spike ·

Hulle sal niks oorkom nie. Ñ comrade en kader is nooit verkeerd nie.

Hendrik van George ·

Jy is reg Henk. OCASA, NERSA – alles net n rookskerm en n geleentheid om kader ontplooing te vergemaklik. Beteken op die aarde net mooi niks vir Jan op straat nie.

Daan ·

Nee los hom. Die emmer is nog nie leeg nie, daar is nog baie om te skep!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.