Old Mutual kondig verpligte inenting vir werkers aan

Old Mutual

Old Mutual het aangekondig dat hy ʼn verpligte Covid-19-inentingsbeleid vir sy werknemers in Suid-Afrika ingestel het. Dit tree in werking vanaf 1 Januarie 2022.

Werkers sal bewys van hul inentingstatus aan die maatskappy moet lewer.

Iain Williamson, uitvoerende hoof van Old Mutual, sê die maatskappy het ʼn morele verpligting om besluite te neem en te ondersteun wat die langtermyn welstand van sy werknemers, kliënte en belanghebbendes tot voordeel sal strek.

“Wêreldwyd word daar bewys dat inentings die sleutel is om ekonomiese aktiwiteit te ontsluit en om terug te keer na ʼn lewe met ʼn normale ritme, om ernstige siekte of dood te voorkom, om die oordragkoers te laat daal, asook om te voorkom dat nuwe variante van die siekte ontwikkel. Ons glo verpligte inenting is ʼn belangrike stap om seker te maak dat ons ʼn veiliger werksomgewing skep vir ons werknemers en ons kliënte en om ʼn bydrae te maak tot noodsaaklike ekonomiese herstel,” het Williamson gesê.

“Die maatskappy het die afgelope 18 maande altesaam 55 kollegas verloor. Ons het ook ʼn toename gesien in eise weens Covid-19. Die pandemie het Old Mutual ook ongeveer 25 000 ‘mense-dae’ of 100 voltydse ekwivalente van produktiwiteit gekos weens self-isolering as gevolg van werknemers wat die virus opgedoen het of blootgestel is aan die virus.”

Die hoë sterftekoers en die negatiewe impak op die geestelike en finansiële welstand van individue, gemeenskappe, skole en ondernemings het die maatskappy gedwing om stappe te doen, voeg hy by. “Om seker te maak dat soveel as moontlik mense ingeënt word en beskerm word teen die bedreiging is klaarblyklik die regte en rasionele ding om te doen.”

Personeel sal die geleentheid kry om beswaar aan te teken teen verpligte inenting op geldige gronde en elke aansoek om kwytskelding sal op meriete beoordeel word.

“Die omvang van hierdie openbare gesondheidkrisis verg kollektiewe optrede wat gemotiveer word deur wat in ons beste belang is as ʼn onderneming, ʼn samelewing en ʼn land. Ons glo dit is ons praktiese en morele plig om ʼn proaktiewe rol te speel om dié wêreldwye katastrofe teen te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.