Old Mutual verdeel in vier dele

Bruce Hemphill, uitvoerende hoof van Old Mutual (Foto: Old Mutual)

Bruce Hemphill, uitvoerende hoof van Old Mutual (Foto: Old Mutual)

Old Mutual het bevestig die onderneming gaan teen die einde van 2018 in vier dele verdeel.

Die finansiëledienstemaatskappy het gesê die strategie om die vier dele – opkomende markte, welvaart, Nedbank en batebestuur – te verdeel, sal waarde ontsluit. Die maatskappy het Vrydag bedryfswins van £1,8 miljard verklaar vir die jaar wat op 31 Desember 2015 tot ʼn einde gekom het.

Die maatskappy het nie verdere besonderhede beskikbaar gemaak nie, maar die verklaring het bevestig dat Old Mutual nie van plan is om enige deel van sy aandeelhouding in Nedbank te verkoop aan ʼn nuwe strategiese belegger nie.

Bruce Hemphill, uitvoerende hoof van Old Mutual, het die nuwe strategie beskryf as ʼn “nuwe roete om waarde te ontsluit wat tans binne die groepstruktuur vasgekeer is”. “Ons het vier sterk besighede wat hul volle potensiaal kan bereik wanneer dit vrygemaak word van die koste en beperkings van die groep,” het Hemphill verduidelik. “Dis duidelik uit die resultate dat hierdie ondernemings sterk presteer, uitstekende mededingende posisies in die mark het en die onderliggende groeipotensiaal het om onafhanklik te floreer.”

Nedbank, wat reeds afsonderlik genoteer is op die Johannesburgse Effektebeurs, het gesê die aankondiging het geen impak op sy strategie of dag-tot-dagbestuur of bedrywighede, sy personeel of kliënte nie.

Suid-Afrika se openbare finansiële instansies, die nasionale tesourie, die Reserwebank en die Raad op Finansiële Dienste het Vrydag in ʼn verklaring die besluit, dat Old Mutual in vier dele verdeel, verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.