Olifant deurboor vrou in wildtuin

Foto: Twitter via @maponya911ems.

ʼn Vrou is dood en nog ʼn vrou ernstig beseer toe hulle Donderdag deur ʼn trop olifante in die Krugerwildtuin aangeval is.

William Mabasa, woordvoerder van SANParke, het gesê albei vroue is werknemers van SANParke. “Die voorval het laatmiddag by Mooiplaas naby die Mopani-kamp plaasgevind. Die presiese omstandighede rondom die voorval is steeds onbekend.” Volgens Mabasa is noodpersoneel en die polisie onmiddellik ontbied.

Jacko Gericke, ʼn paramedikus van Maponya911, het gesê hy is teen 16:20 na die toneel ontbied. “Ek is nie seker of een of meer olifante betrokke was by die voorval nie. By ons aankoms was die een vrou reeds dood. Die vrou wat beseer is, het ʼn fraktuur aan haar regterbobeen opgedoen en is deur ons ambulans na die Tzaneen MediClinic vervoer,” het Gericke gesê. Sy sterk tans in die hospitaal aan.

Volgens Gericke het die olifant se tand die vrou wat dood is deurboor. “Sy het ook ʼn oop fraktuur aan haar knie gehad,” het Gericke gesê.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man was saam met die twee vroue in die veld om mopaniewurms bymekaar te maak toe die olifante hulle aangeval het. Volgens Ngoepe was die vrou wat dood is in haar 40’s. Die man is ongedeerd.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen en die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

MCS ·

Nou van wanner af loop en soek mens mopani wurms tussen wilde diere! Hoop nie hul maak die diere vankant. Moet nie wees waar jy nie hoort.

Ekwilibrium ·

Tragies. Of hulle toestemming gehad het om daar veldkos te versamel is nog nie duidelik nie. Ek kom baie in die veld en die een ding wat my bang maak is ‘n olifant (ek weet, ek weet; buffel en seekoei gee nie fop stormlope nie). Olifante raak sommer dadelik befoeterd en ás hulle besluit om die stormloop deur te voer, los hulle jou nie totdat jou lewelose liggaam erg vermink is nie. Steeds wonderlike diere!

Ange ·

Kyk dis jammer dat iemand haar lewe verloor het maar dit was nalatigheid. Jy kan mos nie net daar gaan rondloop asof dit jou agtertuin is nie!

In elk geval is olifante nie dom nie, daai olifant het dalk gesien hoe een van sy trop afgeslag is vir sy tande en gedink die 3 is n bedreiging.

Netso ·

Netso Ange, netso, hierdie diere speel nie. Ek het al in ander wildparke ook gesien hulle raak mak en ignoreer die diere. Verder as ons dit polities trek, Olifante geen nienog kanse – laaste kanse, ag asb nog net die een wurmpie nie, nee jy is in ons spasie en as jy nie die boodskap van my trompetter verstaan nie, aanhou karring is dit jou lot. Jy kan mos hoeveel keer nee sê vir party mense hul sal altyd nog probeer en aanhou….. Kan ons nie Parlement na Krugerwildtuin toe skuif nie?

Susan ·

Wat soek hulle daar sonder toestemming en dit sonder opgeleide beamptes?? … ek het daar gaan stap maar was verplig om saam 2/twee gewere te stap in ‘n groep nie meer as 8 persone nie. Reels is streng en maak nou dat uitstappies soos die gevaarlik word want diere word in hulle omgewing gesteur met onnosel werkers!! NIKS mag in die Kruger opgetel of gevat word nie..dit geld vir publiek maar ook vir die werkers daar!!!! Hoop daar word opgetree teen die mense en nie die diere nie :-(

Annie ·

Die stupidste ding wat ek nog gehoor het – gaan loop tussen ‘n trop olifante rond en soek mopanie wurms, dis die diere se area nie die mense sin nie. Los die diere uit en straf die ander wat saam met haar was.

Stellie ·

Reel 16 van die SANPARK reels se duidelik dis n strafbare oortreding om plante of diere te versteur. Dit se nie presies WAT die straf is nie…. Maar nou weet ons vir “future reference”

Bosveldklong ·

Dit is hulle agterplaas Ange, hulle woon en werk daar vir grootste deel van hul lewe. Mens ken nie die opset so moenie net wil oordeel en slegsê! Baie tragiese insident

Derm ·

Hulle oes nie net wurms nie ook wild en hout
Dit het ek self gesien en toe ek dit aanmeld was die anywoord
Hulle het toestemming

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.