Olifantbevolking word só in wildreservaat bestuur

Argieffoto (Foto: ajoheyho/Pixabay)

Die Selati Wilderness Foundation (SWF) sal ’n intensiewe veldtog oor twee dae in Oktober aanpak om pZP-immuno-kontrasepsie-entstof toe te dien aan sowat 85 reproduktiewe olifantkoeie in ’n poging om die biodiversiteit van die Selati-wildreservaat te bewaar.

Teen 135 olifante per 29 000 hektaar is Selati besig om sy voorgestelde dra-kapasiteit, soos deur die ekoloë voorgestel, te nader. Na ’n deeglike ondersoek na verskeie metodes om ’n olifantbevolking in omheinde gebiede te beheer, is bepaal dat die gebruik van immuno-kontrasepsie die mees koste-doeltreffende, menslike en etiese benadering vir Selati se olifantbestuursplan is. Hierdie entstof is sedert 2000 toegedien aan olifante in Suid-Afrika en het ’n rekord van meer as 20 jaar van suksesvolle bestuur van geboortebeheer.

“Die pZP-entstof het nie hormonale newe-effekte nie, sal die fetus nie skaad indien die koei swanger is nie en is ook veilig in die voedselketting sou die koei sterf. ’n Verdere voordeel is die feit dat dit heeltemal omkeerbaar is,” verduidelik die veearts en uitvoerende hoof van Saving the Survivors, dr. Johan Marais.

Terwyl die gebied van 29 000 hektaar steeds aanvaarbaar beskou word vir hierdie getal olifante, beteken die spesie se jaarlikse aanwaskoers van 5% – 7% dat Selati binnekort sy aanbevole dra-kapasiteit van olifante sal bereik. Hoewel die reservaat in die afsienbare toekoms sy heinings met sy bure sal laat verdwyn en sodoende ’n bykomende 15 000 hektaar sal bykry, sal die bedreiging vir die biodiversiteit nie verdwyn nie. Volgens ekoloë sal die welvaart van die fauna en flora bedreig en die delikate balans van die groter ekosisteem negatief geraak word sou die olifantbevolking die dra-kapasiteit oorskry.

As in ag geneem word dat olifantkoeie ’n draagtyd van 22 maande het en dat enige swangerskappe ten tye van die implementering nie geraak sal word nie, sal daar steeds meer as twee jaar van geboortes wees. “Die doel is om die olifant-geboortesyfer geleidelik te verminder sodat dit gelyk is aan die natuurlike sterftesyfer,” sê Alan du Toit, direkteur van SWF. Daarom moet hierdie proses jaarliks plaasvind om die doeltreffendheid van die entstof te verseker.

As ’n nie-winsgewende maatskappy maak SWF staat op skenkings om bewaringsprojekte soos hierdie uit te voer, en daarom het dit die Giants of Selati-fonds geskep om die nodige geld in te samel om die koste van hierdie projek te dek. Terwyl Saving the Survivors aansienlike veeartsenykundige kundigheid teen ’n minimale koste aanbied, doen SWF ’n beroep op die publiek om te help om die bedrag van R400 000 in te vorder wat die projek benodig.

Op 21 en 22 Oktober sal spanne onverpoos voortgaan om soveel moontlik volwasse reproduktiewe olifantkoeie uit die lug in te ent. Ervaring dui daarop dat hierdie lug-benadering baie vinniger en minder ingrypend is as om dit per voet te doen.

“Die toepassing van die entstof vereis een aanvanklike inenting en een aanspoor-inenting, en daarna sal elke olifantkoei slegs een inenting per jaar vereis om die uitwerking van die voorbehoedmiddel te handhaaf. Die uitgawe wat ons vir hierdie aanvanklike veldtog verwag, is dus hoër as wat nodig sal wees om dieselfde proses jaarliks vorentoe te herhaal aangesien slegs een inenting dan nodig is,” verduidelik Du Toit.

Olifante kan vernietigend wees in die manier waarop hulle hulself voed, veral teenoor sekere groot bome waarop ander spesies staatmaak vir oorlewing. In ’n geslote sisteem waar olifante nie kan migreer tussen die seisoene nie, pas hulle aan om te eet wat beskikbaar is wat uiteindelik verskeie belangrike plantsoorte uitwis. Die SWF werk volgens die raad van ekoloë en het ’n olifantbestuursplan aanvaar wat wetenskaplik gedryf is en waarvan hierdie nie-ingrypende, menslike en etiese immuno-kontrasepsie deel is.

Ondersteuning deur lede van die publiek tydens die fondsinsameling sal ’n radikale invloed op die doeltreffendheid van hierdie veldtog hê en die welstand van Selati se olifante en sy biodiversiteit verseker. Die stigting doen dus ’n beroep op soveel mense moontlik om te help om die doelwit van R400 000 te bereik tydens GivenGain in Oktober. As mense nie self ’n bydrae kan maak nie, kan hulle steeds hul ondersteuning wys deur ’n fondsinsamelaar vir die projek te word op GivenGain, deur die woord te versprei en die omvang van die veldtog uit te brei.

Om te skenk, kan https://www.givengain.com/c/selatiwf/ besoek word, of besoek www.selatiwf.org vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.