Een van Suid-Afrika se bekendste olifante is vroeër die maand in die Pilanesberg- nasionale park dood.
Amarula was die grootste olifantbul in die park. Hy is in 1998 van die Krugerwildtuin na die Pilanesberg- nasionale park geskuif.
Die bul het bekendheid verwerf ná twee voorvalle in 2011 in die park toe hy ʼn motor omgestoot en ʼn ander motor beskadig het terwyl hy bronstig was.
Perry Dell van die Pilanesberg Wildlife Trust het vroeër die week bevestig Amarula is dood aangetref. Lede van die teenstropery-eenheid het op ʼn olifantkarkas afgekom en vasgestel dit is dié van Amarula.
Volgens Dell was Amarula minstens 65 jaar oud. “Niemand het gesien hoe hy dood is nie, maar sy ouderdom was duidelik teen hom.” Dell het bevestig dat Amarula nie die teiken van stropers was nie.
“Sy nalatenskap is geweldig groot, en ons het baie herinneringe aan hom, sowel as die wete dat daar talle klein Amarulas in troppe rondhardloop.
“Jy het die park geseën met jou voetspore oral oor, en die wonderlikste besigtigingsgeleenthede vir ons besoekers, sommige dalk ʼn bietjie te naby,” het Dell gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Hartseer !!!
Hier gaan ‘n ou grote verby.
RIV, ou Grote xx
RIV Amarula.
Rus sag ou grote!