Olifante glo mishandel na hanteerder sterf

Argieffoto

Argieffoto

Die Knysna-Olifantpark en Elephants of Eden sê die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se bewerings dat die organisasies sy olifante mishandel is onwaar en dat die foto’s, wat beskikbaar gestel is, reeds in 2008 geneem is terwyl die olifante onder ‘n ander persoon se sorg was.

Volgens Lisette Withers, een van die eienaars van die Knysna-Olifantpark, is die foto’s en inligting oor die mishandeling deur ‘n “twyfelagtige bron” aan die NDBV verskaf. Withers sê die bron is ‘n voormalige werknemer wat tans in ‘n likwidasieproses betrokke is en dat die persoon die oorsaak was van die “verskriklike mishandeling” van die olifante.

Withers sê Elephants of Eden was eers in Alexandria in die Oos-Kaap gebaseer. Sy sê die mishandeling van die olifante het in 2008 hier plaasgevind. Die Knysna-Olifantpark is in Plettenbergbaai. Sy sê Elephants of Eden het in 2008 drie olifantbulle en later drie olifantkoeie aan die ‘bron’ verkoop. Die persoon het glo ‘n ooreenkoms met Elephants of Eden aangegaan waarvolgens laasgenoemde glo die olifante sou huisves en voer. Elephants of Eden sou glo ook opleiding aan die persoon se broer en ander personeel verskaf oor hoe om die olifante te hanteer.

Volgens Withers is die foto’s wat deur die NDBV beskikbaar gemaak is deur die persoon se broer geneem. Laasgenoemde was glo op verlof en het met sy terugkeer ontdek dat die olifante mishandel word deur sy broer se personeel. Withers sê personeel in die foto’s is steeds in diens van die persoon. “Hulle is nie personeel van Elephants of Eden of die Knysna-Olifantpark nie.”

Volgens Withers is ‘n personeellid destyds deur ‘n olifant doodgemaak en het van die hanteerders glo in weerwraak die olifante mishandel. Sy sê nadat Elephants of Eden hiervan bewus geword het, is daar onmiddellik stappe geneem waarna die olifante na die Knysna-Olifantpark gebring is. “By die Knysna-Olifantpark het hierdie getraumatiseerde olifante gespesialiseerde veeartseny-sorg gekry en ‘n veilige omgewing om in te herstel. Hulle was onder konstante monitering en gespesialiseerde personeel het hard en lank gewerk om hulle so gou as moontlik te rehabiliteer.”

Withers sê Elephants of Eden het na die voorval twee van sy hanteerders afgedank. Sy sê die ‘bron’ het egter nie van sy personeel afgedank nie en dat hulle steeds na olifante op die persoon se wildsplaas omsien.

Withers beweer dat die persoon die foto’s en inligting aan die NDBV gegee het aangesien daar tans ‘n aansoek is om die olifant wat steeds in sy besit is terug te bring na die Knysna-Olifantpark. Sy sê die ‘bron’ is in ‘n likwidasieproses en dat ses olifante deel is van die bates van die gelikwideerde boedel. Drie van die olifante behoort glo aan die Knysna-Olifantpark.

Withers sê die Knysna-Olifantpark het onlangs ‘n hofaansoek gebring om die ses olifante na die park te bring “aangesien ons bekommerd is oor die welstand van die olifante.”

Withers sê Elephants of Eden ondersoek die moontlikheid van siviele aksie teen die NDBV en die “bron”.

** Maroela Media het besluit om nie die “bron” se naam bekend te maak nie weens die ernstige bewerings teen die persoon. Maroela sal wel probeer om kommentaar van die persoon te kry.

Lees ook:
Foto’s: Olifante glo by “veilige hawe” mishandel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.