Olifante het nie net topgeheue nie, maar is ook reukslim

Afrika-olifante het ’n fassinerende, rituele groetseremonie wanneer hulle bymekaarkom. (Foto: Engela Duvenage)

Dit is alombekend dat olifante ʼn merkwaardige geheue het. Die gesegde verwys nie verniet na “ʼn geheue soos ʼn olifant nie”. Dit is egter dié reusedier se reuksin wat navorsers onlangs uit die veld geslaan het.

Volgens dr. Katharina von Dürckheim, ʼn bewaringskundige verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), deel Afrika-olifante ʼn sogenaamde “tropreuk” wat dit vir hulle maklik maak om lede van hul eie trop te herken. Sy sê dit het meer te doen met die bakteriesoort wat dié olifante tydens rituele groetsessies aan mekaar afsmeer as die feit dat hulle dalk verwant is.

Volgens Von Dürckheim is hierdie olifante ook besonder goed daarmee om ʼn mens se spoor te volg.

Sy het in Desember verlede jaar haar PhD in bewaringsekologie oor die onderwerp aan die US verwerf en is nou aan die stuur van die nuwe navorsingsprogram Wildlife Free to Roam (WFR) by die universiteit. Haar PhD-tesis het die amptelike titel van “Olfaction and scent discrimination in African elephants (Loxodonta africana)” gedra.

“Olifant-posbusse”

Von Dürckheim sê die mis en urien wat olifante op hul roetes los, werk inderdaad soos posbusse.

“Dit bevat reukboodskappe wat ander olifante toelaat om te monitor watter ander olifante in die omgewing is en moontlik gereed is om te paar.

“Wanneer daar ʼn kol urien op die grond is, sal ʼn olifant eers op daardie sandkol blaas en ʼn soort stofstorm van partikels veroorsaak. Daarna asem die dier dit diep deur sy slurp in, en voer soms partikels na die Jacobson-orgaan in die bokant van die mond wat ons ʼn flehmen-reaksie noem.”

Von Dürckheim was deur die loop van haar studie deel van ʼn groot verskuiwingsoperasie van 120 olifante in Malawi. Sy het ook met deskundiges van die Amerikaanse leër saamgewerk wat die vermoë van wilde diere om landmyne te bespeur, bestudeer het. Vandaar het sy ook olifante se besonderse reuksin ondersoek.

Dit was die uiters geritualiseerde manier waarop Afrika-olifante mekaar groet – iets wat Von Dürckheim oor die jare al dikwels die voorreg gehad het om waar te neem – wat haar tot dié onderwerp aangetrek het.

“Afrika-olifante het hierdie fassinerende, rituele groetseremonie wanneer hulle bymekaarkom. Selfs mak olifante doen dit steeds. Hulle urineer, ontlas, skei vloeistof van hul temporale kliere af, brom, trompetter, draai in die rondte en flap hul ore om ʼn soort ‘pagiderm-parfuum’ [dikhuidige diere-reuk] te versprei. Dit herinner aan hoe skoenlappers en motte hul vlerke wapper om feromone te versprei.”

Chemiese boodskappe

Dr. Katharina von Dürckheim, ʼn bewaringskundige verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US). (Foto: Verskaf / Universiteit Stellenbosch)

Dit het Von Dürckheim laat wonder watter boodskappe dié chemiese seine wat olifante elke keer afskei, bevat en wat die funksie daarvan is.

Dit het haar aangespoor om ondersoek na die chemie agter die afskeidings van die genitalieë en speeksel- en temporale kliere van vrylopende Afrika-olifantkoeie in te stel. Laasgenoemde veroorsaak die tipiese “tranerige oë” van ʼn Afrika-olifantkoei – iets wat selde by Asiese olifantkoeie gesien word.

Haar navorsing toon dat Afrika-olifante tussen onbekende en bekende lede van hul spesie kan onderskei deur aan urien en mis te snuif. Hulle kan ook tussen individuele olifante onderskei op grond van die “reuk” wat deur die temporale en speekselkliere, asook genitalieë afgeskei word.

Genetika nie ter sake

Von Dürckheim het bevind dat genetika – en dus of een dier verwant is aan ʼn ander – skynbaar nie ʼn rol in die proses gespeel het nie. Sy het tot dié gevolgtrekking gekom toe sy ʼn konsep genaamd die “reukgeen-kovariansie” bekend as OGC ondersoek het. Dié konsep is reeds in baie ander diere nagevors, maar Von Dürckheim was die eerste wat dit by olifante ondersoek het.

“Om OGC te bestudeer ondersoek jy bloed en DNS, en ontleed die liggaamschemie van verwante en onverwante diere. Jy kyk of verwante diere weens genetiese verwantskap ʼn meer soortgelyke chemiese profiel het as onverwante diere, of nie,” verduidelik sy.

Haar navorsing het aangedui dat daar iets soos individuele identiteitsreukprofiele onder Afrika-olifante bestaan. Dié diere kan ook seine opvang wat vir hulle aandui hoe oud ʼn ander olifant is volgens afskeidings van die temporale en speekselkliere. Reukaanduiders wat wys op ʼn genetiese verwantskap is slegs gevind in die labiale afskeidings van volwasse olifantsusters.

Von Dürckheim wou ook vasstel of daar iets soos ʼn kenmerkende “tropreuk” of “groepreuk” is, aangesien olifante sulke groeplewende diere is en verwante diere kan herken. Sy kon egter nie ʼn verband vind tussen ʼn tropreuk wat aandui dat ʼn groep geneties verwant is nie. Dit lyk egter wel asof daar ʼn reuk bestaan wat lidmaatskap tot ʼn spesifieke trop aandui.

“Dit wil voorkom asof die tropreuk wat sommige olifante deel eerder veroorsaak word deur ʼn bakterie. Dis ook die geval by hiënas en meerkatte.

“Bakterieë word maklik uitgeruil as lede van dieselfde groep byvoorbeeld hul liggame teen mekaar vryf en mekaar se liggame met hul slurpe ondersoek. Dis bes moontlik hul gedeelde bakteriesoort wat ʼn spesifieke tropreuk veroorsaak, en nie noodwendig omdat die diere verwant is aan mekaar nie.”

Dit beteken egter nie dat olifante nie familielede kan herken nie, of dat daar nie iets soos ʼn genetiese teken van verwantskap bestaan nie.

“Baie navorsing dui daarop dat urien so ʼn genetiese merker bevat. Dit moet egter nog in olifante nagevors word.”

Hoe olifante mense herken

Deur met olifante in gevangenskap te werk, het Von Dürckheim meer geleer oor hoe hulle hul reuksin gebruik as dit by mense kom.

“Olifante is baie bedrewe om tussen mense te onderskei volgens reuk. Hulle kan ʼn spesifieke mens oor ʼn gebied heen naspoor.

“Ons het byvoorbeeld ʼn eksperiment gedoen waarin ons iemand ʼn ent weg die veld in laat stap het. ʼn Uur later het ons ʼn olifant sy spoor laat volg. Hulle het die mens elke keer suksesvol opgespoor. Die resultaat was merkwaardig.”

Haar studies het verder gewys dat olifante hul reuksin kan gebruik om tussen drie generasies van mense te onderskei, en ook minstens tussen nege verskillende mense.

“Hulle leer ontsettend vinnig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.