Olifantgetalle in Kruger ‘buite beheer’

Die Krugwerwildtuin se olifantbul genaamd Botsotso. (Argieffoto ter illustrasie: SANParke)

ʼn Stryd tussen emosie en pragmatisme speel hom tans in die Kruger Nasionale Park (KNP) af weens ʼn oormaat olifante en kenners waarsku die park se biodiversiteit is besig om in die slag te bly. Volgens natuurbewaarders is olifantgetalle heeltemal buite beheer en dié park is baie naby aan die punt waar dit nie meer gered kan word nie.

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) is tans besig om druk op KNP uit te oefen om dringend weer olifante te begin uitdun. Hulle het ook al die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, herhaaldelik gekonfronteer, maar daar word nie veel notisie van geneem nie.

Die organisasie is van mening dat die probleem ontstaan het toe die KNP meer as ʼn dekade gelede opgehou het om olifante uit te dun omdat die olifantbevolking se getalle kwansuis natuurlik beheer sou word.

Volgens dr. Salomon Joubert, wat die parkehoof tot in 1994 was, is daar vandag ongeveer 40 000 olifante in die park en die getalle sal tot tussen 4 000 en 5 000 verminder moet word om die plantegroei kans te gee om te herstel, voor die diere weer toegelaat kan word om tot die aangewese 7 000 te vermeerder.

Deon Furstenburg, WRSA se wetenskaplike raadgewer, is ook bekommerd oor die toename in olifantgetalle. “In die 1980’s was 58% van die gedeelte tussen Onder‑Sabie tot by Krokodilbrug met bome en plantegroei bedek en in 2019 het dit op 3% gestaan. Toe was daar 20 000 olifante in die park, vandag is daar meer as 30 000.

“Ons moet onthou dat feitlik alle ander fauna en flora vernietig word as die olifante se getalle so dramaties toeneem. Ek het al gesien hoe een bul in een nag meer as 50 bome omgestoot het,” sê hy.

Gerhard Heyneke, voorsitter van die WRSA, sê hy het ook ʼn sterk vermoede dat die afname in renostergetalle nie net weens stropery is nie. “Die oorvloed olifante ontsenu die renosters en dan kan hulle nie teen hul volle vermoë reproduseer nie.”

Hy sê tans is almal so vasgevang om renosterstropery te bekamp, dat die olifantkrisis heeltemal vergete is.

Volgens Furstenburg kan dit tot 50 jaar neem om die KNP weer tot sy eertydse glorie te herstel, indien dit ooit weer omgedraai kan word.

“Die uitdunning van olifante soos voorheen kan ongelooflik baie werk skep en die voedselnood buite die wildtuin verlig,” sê hy.

Omdat olifante nie natuurlike roofdiere het nie en daar nie veel siektes is wat hulle getalle beheer nie, neem hulle getalle volgens kenners onbeheers teen 6,5% toe indien hulle nie bestuur word nie.

“Sodra die mens begin om in te gryp, moet hy deurlopend ingryp,” sê Furstenburg. “Ons moet onthou dat die uitdunning van wild ʼn doodnormale, gesonde bestuurspraktyk is.”

Volgens Ralf Kalwa, ʼn voormalige veldwagter in die KNP, is intensiewe lugsensusse vroeër jare van olifante en buffels in die KNP onderneem, om tred te hou met die bevolkingstendense. “Die sensusse is tydens Augustus en September onderneem om met die droë seisoen saam te val. Met die toename in die olifantbevolking is daar in die 1960’s ook omvangryke plantegroei-opnames gedoen om hulle impak te bepaal. Uit hierdie opnames is vasgestel dat ʼn drakrag van 6 000 gehandhaaf kon word. Hierdie totaal is later tot 7 000 verhoog.” Dit het beteken dat die jaarlikse uitdunkoers ongeveer 500 tot 600 olifante sou moes wees.

Tydens die lugsensusse, asook uit veldwagters se verslae, is gebiede vir uitdunning vasgestel. Die uitvoering van die uitdunning het plaasgevind deurdat ʼn veldwagter elke dier in ʼn teeltrop uit ʼn helikopter met ʼn verdowingspyl skiet, waarna die grondspan inbeweeg het. Sodra die laaste olifant geval het, is al die diere ʼn finale geweerskoot toegedien. “Die hele proses is binne ʼn uur afgehandel en dit het soos ʼn geoliede masjien gewerk,” sê Kalwa.

“Ons het ook nuusgroepe soos die BBC ontvang wat alles verfilm het – niks is weggesteek nie.”

Druk om te hervorm

Joubert sê die hele aanslag tot olifantbestuur het intussen verander.

“Teen die begin van die 1990’s het druk vanuit die geledere van diereregte‑aktiviste en sekere nieregeringsorganisasies teen die uitdunning van olifante sterk begin toeneem. Dit het gelei tot die instelling van ʼn moratorium op die uitdunning van olifante, wat in 1995 ʼn aanvang geneem het.”

Dit was ʼn groot slag vir die Krugerwildtuin, aangesien dit as die begin van toenemende impak op die plantegroei en die afsny van ʼn bron van inkomste vir die park gesien is.

Kalwa vertel voorts dat die vang en vervoer van olifante deur die moratorium bespoedig is, wat gelei het tot die verkoop van volledige teeltroppe aan ander bewaringsinstansies.

“Pogings om 1 000 olifante in die Mosambiekse kant van die oorgrenspark te vestig, was egter nie doeltreffend nie aangesien die oorgrote meerderheid weer hul weg na die KNP gevind het. Versteuring deur die plaaslike bevolking het skynbaar ook ʼn rol hierin gespeel.

“Daar is ook met voorbehoedmiddels geëksperimenteer om bevolkingsgroei te demp, maar dit het veroorsaak dat die koeie die bulle weggestoot het, wat laasgenoemde aggressief gemaak het.

“Ons taak destyds was om die biodiversiteit te beskerm. Vir ons is ʼn olifant en ʼn maroelaboom dieselfde as dit by bewaring kom,” sê Kalwa. “Ek ken nie een veldwagter wat in die oggend opstaan en daarna uitsien om olifante te skiet nie. Dit was ons werk gewees. ”

In 2008 is die sogenaamde landskapbenadering ingestel, op die veronderstellings dat olifante nie in groot reservate, soos die KNP, gesensus word nie, die KNP groot genoeg is om baie groter bevolkings te onderhou en die jaarlikse aanwas sou afneem van die 6,5% wat onder uitdunning die geval was en die bevolking selfregulerend sou wees. Laasgenoemde sou verwesenlik word deur vrektes onder klein kalfies en ou koeie, veral ten tye van droogtes en die langer afstande wat hulle tussen weidingsgebiede en water sou moes aflê.

Die uitdunning van olifante is gevolglik heeltemal gestop.

Joubert het hierdie nuwe beleidsrigting destyds in verskeie ongepubliseerde skrywes gekritiseer. In 2010 het hy gewaarsku dat die nuwe rigting ʼn uitermate hoë risiko inhou en in ʼn onomkeerbare situasie kan ontwikkel. Hy het ook daarop gewys dat daar geen probleem met eksperimentering is nie, indien dit onder beheer plaasvind en regstellings gemaak kan word indien nodig. Hierdie waarskuwings het op dowe ore geval.

Op grond van inligting oor die olifantbevolkingsyfers wat van Skukuza ontvang is, het dit egter vroeg reeds geblyk dat die olifantbevolking nie selfregulerend is nie. Die bevolking se aanwassyfer het steeds op 6,5% gestaan en geen droogte-verwante vrektes onder jong of ou diere is ooit tydens die afgelope vier uitsonderlike droogtes in die park aangeteken nie.

Joubert het toe reeds uitgewys dat, indien die olifantbevolking tot 50 000 of meer toeneem, dit ernstige gevolge vir die biodiversiteit van die park sal inhou, asook vir binne- en buitelandse toerisme en die plaaslike bevolking aangrensend aan die park. Die KNP sou ook finansiële verliese en verlies aan internasionale aansien ly.

“Ek het nie ʼn probleem daarmee as mense eksperimenteer nie, maar dan moet dit herroep word as sake skeefloop. Daar was ʼn hipotese toegepas, duidelik met ernstige tekortkominge en sonder enige kontroles,” sê Joubert.

Maroela Media sal eersdaags ʼn repliek van SANParke publiseer oor hoekom hulle eerder ʼn meer progressiewe benadering volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rooikat

Julle somme maak nie sin nie? 40 000 – 5000 = 7000

Nommer 7

Hiermee stem ek saam. Ek mis die 1kg pakke olifant biltong wat ek vroer in die Kruger kon gekoop het. Die olifant slagpale in Skukuza moet weer open. In 2010 het ‘n Kruger veldwagter aan my genoem dat hulle weer olifante wil slag, maar dat daar nie meer kundiges is om dit te doen nie.

Christine

Dis so wonderlik om Kruger te besoek en altyd olifante te sien. Was laas maand daar en het min diere gesien, behalwe rooibokkies. Dankie tog vir die olifante wat nooit terleurstel nie.

Swerwer

Weet mos geen syfers is meer korrek wat deur die Nuwe Suid Afrika van rekord gehou word en uitgegee word nie.

Pieter9

Jag/dun uit, vervaardig iets met die ivoor en velle, gebruik vleis in voedingskemas, maak biltong …dit is ‘n hulpbron wat bestuur en benut moet word. Die tyd waarin ons leef is daar nie meer sprake van geen beheer en bestuur van natuurlike hupbronne nie, die ‘spasie, het te min geword omdat die mens te veel word. En ‘n olifant werk nie lekker as troeteldier nie.