Olimpiese Spele: Sunette Viljoen verower silwer vir SA

Sunette Viljoen in aksie by die 2016 Olimpiese Spele in Rio. Foto: AP Photo/Matt Dunham

Sunette Viljoen in aksie by die 2016 Olimpiese Spele in Rio. Foto: AP Photo/Matt Dunham

Die Suid-Afrikaner, Sunette Viljoen, het Donderdagaand trots met ʼn silwermedalje vir Suid-Afrika in die finale ronde van die spiesgooi by die Olimpiese Spele in Rio weggestap.

Met ʼn allemintige gooi van 64,92 m het Viljoen (32) ʼn stewige tweedeplek vir haarself verseker. Sara Kolak van Kroasië het die goue medalje verower met ʼn gooi van 66,18 m, terwyl Barbora Spotakova van die Tjeggiese Republiek, met 64,80 m in die derdeplek was.

Viljoen se silwer het Suid-Afrika se medaljetelling by vanjaar se Spele op nege te staan gebring.

Die driekamp-atleet Henri Schoeman, was ook Donderdagaand op die podium nadat hy ʼn bronsmedalje verower het. Suid-Afrika se hoop bly gevestig op Caster Semenya, wat Woensdag die tweede uitdunronde van die 800 m vir vroue in 1:59.31 gewen het. Sy neem vroeg Vrydagoggend (SA tyd) aan die halfeindronde deel en kan haar plek in die eindstryd bespreek.

Lees alle Suid-Afrikaanse nuus oor die Olimpiese Spele op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jan maak n plan ·

Baie geluk aan Sunette en Henri. Julle maak ons as burger van hierdie deurmekaar land baie trots.

Fantasties ·

Fantasties Sunette, jy het koelkop gebly, jy het so hard gewerk, jy verdien hierdie medalje, ek is opreg bly vir jou! Henri baie great, met so harde werk kompetisie, geniet daai medalje viering.

E.K. ·

Henri en Sunette – baie geluk! Heng dit was fantasties om te kyk! Caster – ons wag vir jou! Sondagoggend weer douvoordag op om te kyk en tensy iemand haar pootjie sien ek goud! Ek het vierkantige oge van al die kyk, maar hoe wonderlik is dit om gesonde sterk jong mense (sommige NIE so jonk – fantastiese inspirasie!) van oor die aardbol te sien deelneem aan hierdie grootse byeenkoms. Trots op elke liewe Suid afrikaanse atleet wat deelgeneem het, klaargemaak het en sy/haar bes gedoen het; en die wat medaljes teurgbring – wat kan mens byvoeg? Julle laat ons harte swel van trots!

Rina Kotze ·

Veels geluk Sunette en Henri!

Dis ‘n eer om aan die Spele te kan deelneem en ‘n nog ‘n groter eer om ‘n medalje te wen!

Delia ·

Baie geluk aan AL die atlete van SA, ongeag of julle medaljes gewen het of nie…..julle het julle talent en staal gewys. Dit is ‘n groot eer om vir die Olimpiese Spele gekies te word en ons is trots op julle!

ElgeraineR ·

Delia ek stem saam! Om n medalje te wen is die kersie op die koek, maar dis nie alles nie. Ons is trots op ELKE atleet wat SA by die spele verteenwoordig!

jaco ·

Gaan kyk na die openingsceremonie van die spele en let op hoe baie wit mense in Zimbabwe se span is. Dis n land waar bitter wit mense nog bly. President Mugabe haat wit mense en self politieke opposisie van mense van sy eie ras word opgesluit en selfs doodgemaak. Tog is die land die demokratiese “non-racial” Suid-Afrika ver voor deur verby raskwotas vir sportspanne te dink

Marianne ·

Sunette jou yster!!!!!
Dis nou ‘n S.A. VROU en MAMMA om op trots te wees!
Ek het geweet jy kan!
Baie geluk!

E.K. ·

Jaco – jou kommentaar is nonsens! Die SA span was die room van die oes en die prestasies bewys dit. Daar is nie een persoon wat NIE in die span moes wees nie.

E.K. ·

O, en ja, Maroela – dankie vir ‘n pragtige aksie foto van onse meisie! Mens voel daai spies, jy hoor die skare saam met hare – pragtig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.