Om te laat inent of nié – Kenners gee raad

Talle Suid-Afrikaners is steeds huiwerig om die entstof te ontvang. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Ondanks ʼn golf Covid-19-infeksies wat oor die wêreld én Suid-Afrika spoel – en inentings wat nou meer geredelik beskikbaar is vir gesondheidswerkers en diegene ouer as 60, is talle Suid-Afrikaners steeds huiwerig om die entstof te ontvang.

Berigte oor newe-effekte soos bloedklonte en nou ook hartinflammasie is boonop die afgelope week in ander lande aangemeld, wat mense verder afskrik.

Navorsing onder die breër Suid-Afrikaanse bevolking dui daarop dat amper die helfte (42%) van Afrikaanssprekendes huiwerig is om die Covid-19-entstof te ontvang. Dié syfer is veel hoër as in ander taalgroepe wat ook teen die inenting gekant is. Dít ondanks enorme veldtogte wêreldwyd om mense aan te moedig om die entstof te ontvang.

Dié mense is nie noodwendig heeltemal verkeerd in hul versigtige benadering nie, meen dr. Nathi Mdladla, medeprofessor en hoof van die intensiewesorgeenheid by die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal én die Sefako Makgatho-universiteit.

Mdladla sê normaalweg sou pasiënte individueel ingelig word oor die voordele of nadele van enige ingryping – en dié mediese aanbeveling sou gedoen word op grond van ʼn individu se persoonlike omstandighede en behoeftes.

“Mense moet die voor- en nadele van die entstof teen mekaar opweeg en dan besluit of [die ontvang van die entstof] die regte keuse vir hulle is. Daar is groot sosiale druk op mense om die entstof te ontvang – of hulle nou gemaklik is daarmee of nie. Uiteindelik berus die besluit by jóú.”

Kommer oor newe-effekte

Mense staan vandeesweek tou om die entstof by ‘n kliniek in Pretoria te ontvang. (Foto: Maroela Media)

Mdladla sê ondanks oënskynlike pogings om moontlike newe-effekte van die entstof gering te skat, moet dit nie buite berekening gelaat word nie. “Medici sien beslis berigte van komplikasies en selfs al is dit skaars, gaan die komplikasie nie die ‘breër gemeenskap’ raak nie, maar die individu.”

Probleme met bloedklonte nadat iemand die entstof ontvang het, is een van die newe-effekte waaroor tot dusver heelwat berig is. Amerikaanse gesondheidsowerhede het vandeesweek ook gesê hulle kyk na ʼn klein aantal berigte van hartinflammasie in sommige jonger mense wat die Covid-19-entstof ontvang het, maar dat daar in hierdie stadium geen duidelike verband tussen die twee getrek kan word nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê soos enige ander entstof, kan die Covid-19-entstof ook “matige” newe-effekte soos koors, moegheid, kopseer, spierpyn, rillings, diarree en pyn waar die inenting toegedien is, veroorsaak. Volgens die organisasie verdwyn die meeste newe-effekte binne ʼn paar dae. “Meer ernstige of langdurige newe-effekte is moontlik, maar uiters skaars.” Die WGO sê ook entstowwe word deurlopend gemonitor.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê newe-effekte is ʼn werklikheid van enige entstof, maar dat vreemde probleme beslis nie eers jare later gaan kop uitsteek nie. Talle mense is besorg omdat Covid-19 ongekende terrein is. Die entstof is nuut en word nie so maklik vertrou soos entstowwe wat al jare lank sonder twyfel gebruik word nie.

Sy sê egter indien anafilakse intree, dus ʼn dodelike newe-effek, gebeur dit binne die eerste halfuur van toediening. Mense wat moontlik ander newe-effekte opmerk, sal dit binne twee weke sien, maar niemand gaan weke of selfs jare later vreemde newe-effekte opmerk nie, sê sy.

Voordele van die entstof

Coetzee stem saam dat die ontvang van ʼn entstof by die individu berus, maar waarsku ook dat die voordele verbonde aan die gebruik van die entstof veel groter is as enige moontlike negatiewe uitwerking.

“Jy moet oortuig wees dat dit die regte keuse is. As jy dit nie wil ontvang nie, moenie. Jy moet egter jou risiko’s teenoor die voordele opweeg,” sê sy.

“As jy byvoorbeeld ouer as 60 is, met geen chroniese siektes nie, nie oorgewig is nie, ʼn baie goeie mediese fonds het en jou polis en testament op datum is, kan jy dalk die kans waag om nie die entstof te ontvang nie.”

Sy sê omdat Covid-19 ʼn nuwe verskynsel vir mense is, is hulle onseker.

Sommige mense glo boonop steeds nie dat die koronavirus werklik bestaan nie en benader die kwessie vanuit ʼn oogpunt van “indien dit nie daar is nie, hoef ek dit nie te hanteer nie”.

Coetzee sê dit is ook só dat jy steeds Covid-19 kan opdoen, selfs al is jy daarteen geïmmuniseer.

Sonder die entstof is jou kans 100 uit 250 000 om siek te word. Indien die entstof toegedien word, daal dié syfer tot 15 voorvalle uit 250 000 waar mense ernstig siek kan word of sterf.

“Dít is hoekom ons wil hê mense moet immuniseer. Jy kan by ʼn hospitaal instap en weer uitstap, of jy kan in ʼn houtkis uitgedra word.”

Lee Callakoppen, hoofbeampte van die mediese fonds Bonitas, sê dit is belangrik dat soveel moontlik mense so gou moontlik ingeënt word. “Diegene wat ingeënt is, het ʼn verminderde kans op infeksies en behoort beskerm te wees teen ernstige komplikasies. Dit beteken minder hospitaalopnames en minder sterftes.”

Hy sê daar is nog nie bepaal of die entstof kan verhoed dat ander die infeksie opdoen nie, dus is dit belangrik om steeds maskers te dra, sosiale afstand te handhaaf en hande te was.

Coetzee sê as mense steeds huiwerig is om die entstof te kry, moet hulle hul maskers dra en van mekaar wegbly.

“Neem ʼn besluit en berus daarby, maar neem ook self aanspreeklikheid vir daardie besluit.”

Ivermektien as alternatief

AfriForum en ’n doktersgroep sê dat Ivermektien duidelik voordelig in die behandeling van Covid-19 is. (Foto: Luis Robayo/AFP)

Talle mense vertrou ook eerder die gebruik van ʼn middel soos ivermektien, terwyl hulle die Covid-19-entstowwe met agterdog bejeën .

Die middel het volgens sommige bronne wel al sukses behaal. Die burgerregteorganisasie AfriForum en die doktersgroep I can make a difference het vroeër ’n dringende brief aan verskeie gesondheidsowerhede gestuur waarin gevra word dat ivermektien vir die behandeling van Covid-19 aanbeveel word.

Die twee organisasies sê hulle is genoop om die aksie te neem nadat Indië, die tweede mees digbevolkte land in die wêreld, ivermektien as behandeling vir Covid-19 goedgekeur het en ’n afname in Covid-19-verwante sterftes beleef.

Hulle wys ook daarop dat Zimbabwe ivermektien as behandeling vir Covid-19 goedgekeur het en sukses in die bestryding van die pandemie ervaar.

Luidens die verklaring word daar ook in ’n artikel in The American Journal of Therapeutics aanbeveel dat ivermektien “wêreldwyd en stelselmatig” ontplooi moet word om Covid-19 te voorkom en te behandel.

Coetzee sê veral jonger mense gebruik ivermektien en gee dit dan soms ook aan hul ouers om te gebruik.

Sy sê diegene jonger as 40 wat Covid-19 opdoen, kry dit gewoonlik in ʼn matige vorm en die simptome wyk binne twee of drie dae. Dié herstel word gereeld toegeskryf aan die gebruik van ivermektien, maar Coetzee sê die simptome sou met of sonder die gebruik van die middel in dié tyd opgeklaar het.

Sy sê die Noord-Kaap het ʼn verhoogde voorkoms van Covid-19 en bestaan grootliks uit ʼn boeregemeenskap waar ʼn middel soos ivermektien betreklik bekend is.

“Hoekom is daar so ʼn groot voorkoms van die siekte waar die middel so geredelik beskikbaar is?”

Coetzee sê ook ouer mense gaan siek word, of hulle ʼn middel soos ivermektien gebruik al dan nie.

Sy sê indien iemand die entstof ontvang, is daar boonop geen rede om ʼn middel soos ivermektien te gebruik nie.

“Moenie verwag jy gaan nie siek word [as jy ivermektien gebruik] nie. As jy siek voel, gaan spreek jou dokter. Moenie met die vals vertroue – en dit ís vals vertroue – rondloop dat jy veilig is nie.”

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gysbert

Ek is nie huiwerig nie. Ek sien net nie die noodsaaklikheid daarvan nie. Ek het covid gehad (wel, ek het positief getoets), en slegs geringe simptome gehad. Om die waarheid te sê, ek het met party verkoues al erger gevoel. So waarom die moeite doen? En my vel is 51 jaar oud, so ek is immuun teen sosiale druk. “Guilt trips” werk nie op my nie.

MakersMark

Daar is altyd warm koolblare op die longe wat die infeksie sal “uit trek” of dalk suurlemoensap en heuning vir die hoesie wie het inentings nodig ?

quartus

Nee dankie. Ek sal ” pass “

JohanR

Ek sal maar vr nou distansie hou, spuit, en ‘n masker dra en die inenting stof maar dophou. Daai goed net te gou op die been gebring!

Anton

Vat eerder my kanse met ivermektien.