Om uit die as uit op te staan

Die kunswerk wat deur Marittie de Villiers geskilder is. Mariandra en Johann Heunis by hul vier kinders, Mieke, Mischa, Majandré en klein AJ voor. (Foto: Mariné Lourens)

Wanneer jy by die kantoor van Mariandra Heunis se splinternuwe sakeonderneming instap, is dit die eerste ding wat jy sien – ʼn reuseskildery van ʼn egpaar en hul vier laggende kleingoed.

Prentjiemooi, met geen aanduiding van die bloed, trauma en trane wat in hierdie skildery ingeverf is nie.

Tussen die kwashale op die wit doek is die as van Johann Heunis wat in Oktober 2016 op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, ten aanskoue van sy vrou en sesjarige dogter doodgeskiet is. Sy laaste tasbare nalatenskap vervat in ʼn uitbeelding van hoe dié pragtige gesin nou sou lyk as daardie skrikwekkende nag nooit gebeur het nie.

“Ná die begrafnis het ek letterlik nie geweet wat om met sy as te doen nie,” vertel Mariandra (35) waar sy in die keurig ingerigte ontvangsarea van haar nuwe kantoor sit. “Ek wou dit nie in ʼn muur gaan sit nie, want wanneer gaan mens ooit soontoe? Ek wou dit nie gaan strooi nie, want dan is hy net weg. Toe besluit ek ek gaan dit vir eers net hou tot ek weet wat om te doen.”

Onverwags breek dié nuwe hoofstuk toe vir haar aan en sy word die eienaar van die Sonja Smith-begrafnisgroep se Midstream-tak. Toe wéét sy waar Johann se oorskot hoort. “Ek is mal daaroor,” sê Mariandra terwyl sy met ʼn glimlag na die kunswerk teen die muur kyk. “Dit voel of hy hier is, of hy vir ons kyk. Dit is presies hoe ons gesin nou sou lyk, presies hoe ons ʼn familiefoto sou neem as hy nog hier was.”

Die egpaar se vier kinders is net so in hul skik met die skildery. “Ek het vir hulle verduidelik dat jou liggaam weer stof word wanneer jy doodgaan en hulle verstaan pappa se stoffies is nou hier binne, maar pappa self is in die hemel.”

Mariandra en Johann Heunis. Foto: Verskaf

Die skildery is geverf deur Marittie de Villiers, ʼn kunstenaar van Somerset-Wes in die Wes-Kaap. Mariandra het vir haar foto’s van Johann en die kinders gestuur, maar verder is sy vrye teuels gegee om die skildery te skep soos sy wil. En haar uitbeelding was perfek in die kol – pappa Johann met sy groot veilige arms om sy gesin gevou.

Johann het nooit sy blondekopseuntjie, ʼn ewebeeld van sy pa, ontmoet nie. AJ (nou 2) is vyf dae ná Johann se begrafnis gebore. Sussies Mieke (8), Mischa (7) en Majandré (4) was almal nog baie jonk toe hul pa van hul weggeruk is, maar oud genoeg om hom te onthou. Oud genoeg om te verlang.

“Ek onthou hoe ons kort voor die begrafnis na Johann se liggaam gaan kyk het,” sê Mariandra. “Jy kon onder die grimering steeds die kopwond en die brandmerke van die kruit op sy gesig sien, maar dit het eerlikwaar eintlik net gelyk of hy slaap. Ek het net daar ʼn stoel langs hom getrek en met hom gepraat, alles gesê wat ek nie kans gehad het om te sê nie. Gegroet.”

Mariandra het haar dogtertjies gevra of hulle hul pa wou sien en hulle wou graag ook op hul manier afskeid neem. “Ek onthou hoe het Mischa op haar toontjies gaan staan en so in die kis in geloer en gesê het: ‘Tata pappa. Ek gaan jou baie mis’. Ons het vir pappa sy gunsteling sweeties saam met hom in die kis gesit, mooi gegroet… Ek wou nie hê die laaste beeld wat ek van Johann het, moet wees van hom wat vooroor val nadat die skoot hom getref het nie. Ek wou baai sê. En dit was goed.”

Mariandra saam met Mieke, Mischa, Majandré en AJ. Die foto is in 2017, maande na Johann se dood, geneem. Foto: Verskaf

Dit was ʼn warrelwind-tydperk wat daarna gevolg het – 29 maande van weer op haar voete kom, weer begin werk, ʼn nuwe lewe bou terwyl sy vier kinders grootmaak. Bo-op dit die trauma, die terugflitse, die oor en oor vertel van daardie aand en einde verlede jaar, weer in dáárdie oë vaskyk.

“Ek het met daardie hofsaak gedink ek kan dit nie doen nie. Ek kan nie daar opstaan en getuig nie, ek kan nie daardie man sien in die hof nie, ek is nie sterk genoeg nie.”

Die verhoor van Justice Sethlangu (37), wat tereg staan vir die moord op Johann, het einde verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria begin. ʼn Tweede verdagte is nooit vasgetrek nie. Mariandra het in die hof getuig dit was nie Sethlangu wat die sneller getrek het nie, maar dit was hy wat die opdrag gegee het. Hý wat gesê het “Ah, just kill him, brother”, voor die laaste skoot geklap en Johann voor haar gesterf het.

“Ek het hierdie storie nou al soveel keer sedert daardie nag vertel, maar in die hof was dit anders. In die hof was dit baie persoonlik. Ek was vrek bang vir hom en hy sit daar baie gemaklik in die beskuldigdebank, dit pla hom glad nie om daar te wees nie. Ek moet daar my grootste vrees, my grootste hartseer vóór hom vertel en dan moet ek dit boonop verdedig. Dit was so onregverdig.”

Mariandra sê sy kon aanvanklik nie daarin slaag om Sethlangu in die oë te kyk nie. Sy het deurentyd op die gesig van haar traumaberader gefokus en net probeer om deur haar getuienis te kom. Maar toe besluit sy, sy sal haar grootste vrees oorkom en sy sál hom in die oë kyk. “Ek het vir hom gekyk, tot hy gevoel het ek kyk vir hom. En toe hy opkyk en ek kyk hom in sy oë, toe kon hy my nie in die oë kyk nie,” sê sy.

Mariandra Heunis by die skildery waarin die as van haar man, Johann, ingeverf is. (Foto: Mariné Lourens)

“Ek wou hom so bang kyk soos wat hy ons gemaak het daardie aand. Ek wou vir hom wys daardie aand was ek so bang vir hom gewees, maar ek is nie meer bang vir hom nie.”

Dit was uitmergelend, sê sy. Dit was al die trauma van voor af, maar dié keer sonder die adrenalien. Sy was móég. “Dit het my regtig hard geslaan. Desember was ʼn slegte tyd. Ek het moed gehad vir niks nie. Al daardie triggers was terug, al die rowe was oopgekrap. En dit is toe dat die geleentheid vir hierdie franchise oor my pad gekom het. Dit is mos hoe die Here werk. Hy het ander planne met jou.”

Sy het in elk geval lankal geleer om die leegheid van Johann se dood met klein vreugdes te vul. ʼn “Heunis happy dance” as boetie self badkamer toe gaan of as Mieke vir ʼn slag haar kosblik onthou het. “As jy begin om die klein vreugdes te vier, besef jy hoe baie happy dances daar is.”

En nou sit sy hier in die kantoor van haar eie besigheid, vasbeslote om ook dié berg te klim met Johann se gesig daar om haar elke dag te herinner hoekom sy doen wat sy doen.

“Ek het so baie geleer by hom. Hy het soveel meer in my geglo as wat ek ooit in myself geglo het. En as ek nie vasbyt nie, as ek nie aanhou nie, dan het hy verniet gesterf, want hy het vir ons doodgegaan. So ek kan nie opgee nie.”

Sy kyk weer na die skildery wat skuins voor haar teen die muur hang. “Ek hoop hy sien al hierdie dinge. Ek hoop hy weet ons is oukei.”

*Die verhoor van Justice Sethlangu sal in Augustus voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

23 Kommentare

Agie ·

Ek is so dankbaar vir hierdie ystervrou. Sy het murg en dit vra die ongewone vasberadenheid om ten spyte van……….op te staan en haar kinders saam met haar op te tel. Sy het Habakuk se geheim ontdek. ?

leser ·

mariandra, ek vra vir Jesus om jou staande te hou, vas te hou soos johann julle omarm soos in die skildery
mm, hou ons op hoogte asb, ek hoop die lafaard, die een wat die sneller getrek het loop hom vas in die gereg

mc ·

So ongelooflik trots op jou Mariandra. Baie baie sterkte vir die pad vorentoe. Dit was ‘n uitstekende idee, die skildery is pragtig.

Alida ·

Dit is ‘n baie inspirerende verhaal.
Kry ‘n traan in die oog.
Ons moet net altyd opstaan en aangaan en weet waar ons krag vandaan kom.
Mag dit baie goed gaan met jou besigheid.

Ina Jacobs ·

My hart is ook seer hier waar ek lees. Soveel hartseer wat jou en jou kiddies aangedoen is…. en geen, maar geen berou van die die een “wat so gemaklik ” daar in die hofbank sit nie. Ons land het n land van haat en bloed en trane geword. Mag God geregtigheid laat seëvier.

Agie ·

Mariandra. Ek is so trots op jou. Dit vat meer as gewone murg en vasberadenheid om self op te staan en jou kinders op te tel uit sulke omstandighede. Jy het Habakuk vreugde ontdek. Wees geseënd met jou onderneming ?

Michael ·

Hierdie is die vrou wat n brief aan C R geskryf het. Hom mooi gevra doen iets omtrent die misdaad ek het die video gesien waar sy gepraat het ek kon die hartseer in haar oe sien. Sy moet n baie sterk vrou wees. Mens kom nooit oor so iets nie. En om alles te kroon wat het C R ooit gedoen.Niks!! gee nie n vlenter om wat in die land aangaan nie.

IK ·

Snaaks dat die ‘brother’ net kon verdwyn. My oupa was reeds diep in sy tagtigs toe hy opgemerk het ‘kyk daardie mooi fris jong nooi’. Daar kan nie ‘n mooier beskrywing wees vir die skoner geslag. Die lewe gaan voort Mariandra en jyself kan ek sien is ‘n juweel van ‘n vrou met pragtige kinders. My oom het op ‘n dag gesê dat sy een seun (my neef) ‘n hen gevat het met kuikens. Gee jou lewe dus kans om vatbaar te wees vir die manlike geslag terwille van jou en jou kinders. Ek laat my nie vertel dat sou ek in ‘n oorsese land of buite my omgewing gebly het ek nie sou trou? Nonsens!!

jakes ·

Mariandra het deur baie smart en hartseer weer die lewe aangegryp ter wille van haar pragtige kinders. Sy is n sterk vrou met n wil om sukses te behaal. Ons wens haar sterkte toe en deur die kruis wat sy moet drae motiveer sy almal om haar.

ANA ·

?????? SALUUT vir jou en mag Hý,jou+kinders Styf VASHOU en Toevou in Sý Vaderarms vir altyd ?????

Gerti Joubert ·

Ons ken mekaar nie maar ek bewonder jou. Ook vir die pragtige idee om hom by julle te hê – altyd. Go well.

Diefie ·

Mag jou wysheid, insig en jou geloof jou en jou gesin dra in die goeie dae en minder goeie dae. Bewonder jou.

Tannie ·

‘n “Gewone” vrou soos ek en jy, maar tog ook so ongewoon. Sy is van dieselfde stoffasie as die mense wat na die Boere oorlog uit die as opgestaan het.

AH ·

Ek kon nie help om ‘n knop in my keel te kry met die lees van hierdie berig nie. Sy is voorwaar ‘n voorbeeld en inspirasie. Ek weet dat sy ‘n groot sukses van die besigheid sal maak.

Zettie ·

Wat ‘n pragtige gesin wat deur soveel hartseer moes gaan…….dankie Mariandra dat jy weer opstaan vir jou kinders, vir jouself en ook vir ander. Jy wys dat mens nie in sak en as moet gaan lê wanneer jou pad besaai is met trauma nie, maar die lewe vierkantig in die oë moet kyk en vasgryp met altwee hande. Die boosdoeners het jou nie onder gekry nie. Jy is sterk en jou kinders word sterk groot. Baie sterkte vir jou pad vorentoe. Jy gaan dit maak.

Ouma Bernie ·

Ai mamma, ek het nie woorde nie; al wat ek kan sê is dat ek jou salueer vanoggend. Mag GOD se Goedheid èn Sy guns jou en die kleingoed agtervolg tot aan die einde van julle reis op aarde. Ek bid vir julle. :) jy het my laat skaamkry vanoggend want ons gee sò maklik op?

Grysburger Pretoria ·

Dapper, dapper vrou hierdie. Laat ‘n mens dink aan die Boervroue in die Britse konsentrasiekampe wat die Boerekrygers aangemoedig het om die stryd voort te sit, ondanks die lyding en ontberinge wat hulself aan blootgestel was. Mag haar voorbeeld mense inspireer om sulke hartseer te vermy en hulself te bewapen en te bemagtig om boosdoeners te kan verslaan en te vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.