Omar al-Basjir dalk volgende maand wéér in SA

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

President Jacob Zuma het diplomate Dinsdag laat gis of die omstrede Soedannese president Omar al-Basjir Suid-Afrika dalk weer kan besoek om die beraad van die Forum op China-Afrika Samewerking (Focac) by te woon.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in Junie tydens die Afrika-Unie-beraad beslis dat die Suid-Afrikaanse regering hom in die land moet hou onder ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming van die Internasionale Strafhof. Die Strafhof het ʼn lasbrief vir Al-Basjir se inhegtenisneming uitgereik weens misdade teen die mensdom in Darfoer.

Die Suid-Afrikaanse regering het hom egter toegelaat om die land te verlaat, alhoewel Suid-Afrika ʼn lid is van die Internasionale Strafhof en sy eie wetgewing het wat die regering verplig om aan lasbriewe van die Strafhof te voldoen. Die hooggeregshof het beslis dat die regering ʼn hofbevel verontagsaam het. Die regering het appèl aangeteken teen dié uitspraak. Die hof sal na verwagting Woensdag op die appèlaansoek ʼn beslissing gee.

Zuma het Dinsdag Suid-Afrika se buitelandse beleid met ambassadeurs en verslaggewers bespreek en gesê hy is bewus van die vraag of Al-Basjir na Focac uitgenooi sal word. Hy het gesê die regering is bewus van die bevel wat die Internasionale Strafhof op 4 September gemaak het en versoek dat die hof moet bepaal of die land die opdrag van die hof geminag het deur te versuim om Al-Basjir in hegtenis te neem. Die Internasionale Strafhof het die regering tot 5 Oktober kans gebied om skriftelik sy argumente in te dien.

Die Internasionale Strafhof het gesê indien Suid-Afrika – as ʼn lid van die Internasionale Strafhof – sy verpligtinge teenoor die hof nie nagekom het nie, kan die saak na die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies verwys word vir verdere stappe. Die Veiligheidsraad kan, teoreties, beslis dat sanksies teen Suid-Afrika toegepas moet word. Dit het egter, tot dusver, nog nooit sulke konkrete stappe teen die paar ledestate van die Internasionale Strafhof gedoen wat Al-Basjir in hul lande toegelaat en hom nie in hegtenis geneem het nie.

Zuma het gesê die regering bestudeer tans die Internasionale Strafhof se bevel. “Ons sal dan bepaal wat die volgende stappe is, indien nodig. Ons eie howe oorweeg ook die saak van pres. Al-Basjir se besoek in Junie en dit maak die saak dus sub judice,” het hy bygevoeg.

“Dit moet egter in ag geneem word dat Soedan ʼn lid van Focac is. Na verwagting sal die Soedannese regering aan Focac deelneem.”

Zuma het egter slegs verwys na “die Soedannese regering” en nie Al-Basjir spesifiek nie. Die president kan moontlik besluit om ʼn afgevaardigde te stuur om namens hom die vergadering by te woon.

Amptelike bronne het gesê hulle glo nie Al-Basjir sal weer die kans waag om Suid-Afrika te besoek nie.

Lees alle vorige berigte oor Omar al-Basjir op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

Met JZ se uitartende houding teenoor die Weste en Israel ,sal dit ons nie verbaas as dit toegelaat word nie. Zuma se korrupte lewenstyl maak hom deel van Afrika se magsbehepte “leiers”

Sarie ·

Sjoe aar Zuma is omtrent uitdagend!! Ek hoop een van groot moonthede wag hom by die lughawe in en neem hom in hegtenis. Sommer vir Nommer Een ook want hy is skuldig deurdat hy ‘n hofbvel verontagsaam

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.