Ombudondersoek na polisie in Steenberg, Muizenberg duur voort

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: ANA)

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, doen ’n beroep op lede van die publiek om na vore te kom met hul ervarings van polisiebeamptes in dié provinsie.

Dít te midde van die polisieombudsman in die Wes-Kaap se ondersoek na bewerings oor “onaanvaarbare gedrag” deur polisiebeamptes van die polisiestasies in Muizenberg en Steenberg.

Dit blyk nou dat daar gronde vir dié bewerings is en die ombudsman het besluit om individuele klaers rakende die bewerings te raadpleeg en hulle te versoek om afsonderlike klagtes in te dien.

Fritz het in Mei vanjaar in ’n brief aan die ombudsman versoek dat ondersoek ingestel word nadat bewerings van ondoeltreffendheid aan die lig gekom het toe ’n senior polisiebeampte na bewering ’n bejaarde vrou, ’n swanger vrou en verskeie inwoners in die Muizenberg-omgewing gedreig het.

Argieffoto: SAPD

Bewerings dat ’n vrou van Lavender Hill in hegtenis geneem, aangerand en in die gesig gespoeg is toe sy hulp by die Steenberg-polisiestasie gaan soek het, het later in April die lig gesien.

Nog ’n versoek vir ’n ondersoek is op 28 Mei van Mireille Wenger, die hoofsweep van die provinsiale wetgewer, ontvang.

Fritz sê hy is ook bewus van beweerde ondoeltreffendheid by ander polisiestasies in die Wes-Kaap.

“Dit is onaanvaarbaar dat sekere lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) so aggressief teenoor inwoners optree wat hulle veronderstel is om te dien.

“Ek moet byvoeg dat ons oor die algemeen trots kan wees op ons polisiebeamptes wat ons dien en ons op ’n onvermoeide en toegewyde wyse veiliger maak. Ons is egter bekommerd oor enkele gevalle waar dit nié die geval is nie, en elke geval verdien ons aandag.”

Volgens Fritz het hy sy bevindings onder lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiehoof, se aandag gebring in ooreenstemming met die ombudsman se aanbeveling dat die kommissaris stappe moet doen om die ondoeltreffendheid aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Dit gaan in al die dorpe so en nee hulle dien ons beslis nie nog minder laat hulle ons veilig voel! Magsbehep dis wat hulle ook is in die tyd van lockdown

My siening ·

Die ANC probeer die weskaap onregeerbaar maak. VseK ANC

Sarel ·

Die Kommisaris kan nie optree nie want hy/sy staan onder bevel van Cele

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.