Ombudsman sê oor treinbrande in Wes-Kaap

Treinwaens wat in November uitgebrand het.

Die polisie in die Wes-Kaap is nie in staat om die brand van treine in dié provinsie behoorlik te voorkom, te ondersoek óf enige beweerde oortreders in hegtenis te neem nie.

Só het polisie se ombudsman JJ Brand bevind ná ʼn ondersoek na die grondwetlike pligte van die polisie en die bewering dat die polisie nie in staat is om die vandalisme van Metrorail-treine in die provinsie te stuit nie.

Die LUR van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, het die bevindings verwelkom.

“Die ondersoek is aangevra ná ʼn vlaag voorvalle van brandstigting van spoorinfrastruktuur en die polisie se onvermoë om diegene verantwoordelik aan te keer.  Op die hoogtepunt van dié aanvalle het pendelaars geweldig onveilig gevoel en daar was groot vertragings en kansellasies van treine wat hulle gestrand gelaat het,” het Fritz gesê.

Twee mense is die afgelope paar maande dood, tientalle treine het uitgebrand en skade van sowat R600 miljoen is in die vlaag brandstigtingsvoorvalle aangerig.

“Die kwessie van spoorwegveiligheid is nou selfs meer belangrik terwyl Prasa voorberei om sommige van sy dienste op 1 Julie te hervat.”

Pendeldienste is weens die staat van landswye afsondering grootliks opgeskort.

Lede van die publiek kon insette aan die ombudsman lewer en onderhoude is met polisiebeamptes en ander belanghebbendes gevoer.  Die polisie se saakdossiere is aangevra, ontleed en bevindings daaroor is gedoen.

Fritz sê een van die mense wat ʼn inset gelewer het, het gesê in 1986 was daar 6 422 spoorwegpolisielede wat bygestaan is deur 2 800 spoorwegpolisiereserviste.  Weens toenemende druk op polisiehulpbronne is die spoorwegpolisie in 1986 by die polisie ingelyf.

Argieffoto van treinwaens in ligte laaie op die Kaapse stasie.

“Teen 2010 het die polisie net 3 232 polisielede aan die polisie se snelspooreenheid toegewys.  Dit het egter beteken dat die spoorweë 3 190 permanente lede en 2 800 reserviste in vergelyking met 1986 verloor het.  Dit is altesame 5 990 minder lede by stasies en op treine,” het Fritz gesê.

Fritz sê nog ʼn respondent het gewys op ʼn meningspeiling wat bevind het dat 88,9% van mense aangedui het dat hulle soms of nooit ʼn polisielid op Metrorail-treine of op stasies sien nie.  Net meer as 70% van mense het gesê hulle voel onveilig op Metrorail se treine en op stasies.

Die ombudsman het bevind die klagte kan gestaaf word en selfs al het die nasionale polisiehoof en die uitvoerende hoof van Prasa ʼn ooreenkoms aangegaan, is dit eers gedoen ná talle voorvalle van treinbrande, sterftes en die verlies van miljoene rande.

Brand het ook bevind die huidige onsekerheid oor veiligheidskontrakte by Prasa dreig om dié ooreenkoms in die wiele te ry.  Volgens hom het die leemtes by Prasa in ʼn groot magte bygedra tot die polisie se ondoeltreffendheid.

(Foto: Twitter)

Hy het bevind die polisie kon tot dusver net jeugdige verdagtes in verband met die brande aankeer en kon nog nie enige volwassenes of groepe daarmee verbind nie.

Daar is ook steeds geen motief vir die brande vasgestel nie.

“Geen skuldigbevinding is nog gemaak vir die brand van treine in die Wes-Kaap nie.  Hoewel die polisie net een van verskeie rolspelers in die strafreggroepering is wat skuldigbevindings moet verseker, is dit steeds sy verantwoordelikheid om ʼn saak wat behoorlik ondersoek is, met bewyse, aan ʼn hof voor te lê sodat die hof ʼn bevinding kan maak,” het Fritz gesê.

Die ombudsman het aanbeveel dat die Wes-Kaapse polisiehoof gepaste stappe doen om die tekortkominge wat in die verslag uitgewys is, aan te pak en dat die verslag voorgelê moet word aan die Wes-Kaapse se regering se staande komitee oor gemeenskapsveiligheid, kultuuraangeleenthede en sport.

Volgens Frits sal die komitee die verslag hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Dit is die DA Kaap. Dink nie die ANC gaan haastig wees om te ondersoek nie. En soos Nie Verbaas se, wie baat deur treine te brand….die taxis. Soe werk die ANC en die taxis lekker saam om Stad Kaapstad lam te le. Die dag as die Kaapstad Stasie lam gele is, en geen treine loop is die dag dat die taxis geld soos bossies maak. Al self die stasie ‘n paar mal verwoes, en dan kom staan hulle die volgende more by die verwoeste stasie en verwag om nou hulle gewoone trein te vang! Dink seker die geld om die stasie weer reg te maak en tot ‘n werkende toestand te kry, pluk jy uit boome uit!

Jaco ·

Die treine behoort aan PRASA. PRASA is ‘n nasionale staatsinstelling. Hoofkantoor is in Gauteng. Verantwoordelike minister is die nasionale minister van vervoer. So, om tegnies te wees, treine in Kaapstad is onder beheer van die ANC. Waarom sou die ANC hulle treine afbrand? Treine brand sou net sin maak as die treine ten volle onder die DA-beheerde Kaapstadse stadsraad geval het. Dan was dit ‘n geval van “maak die stad wat deur die rassistiese DA regeer word, onregeerbaar.

Jacobus ·

Paragraaf twee som dit op. Die gewilligheid van wetstoepassers om die saak te kan of wil oplos is ter sprake. Agenda?

Gawie ·

Ons het altyd gespot met die ‘Stasie Blompotte’ (eertydse Spoorwegpolisie vir die jongklomp), maar hulle het hulle werk gedoen, en daar was altyd een of meer in die omgewing om toe te sien dat dinge glad en volgens wet verloop.

J ·

Hierdie verslag openbaar NIKS NUUT nie. Selfs die laerskool kinders in die Kaap wéét lankal dit wat hierdie ‘verslag’ bekendmaak. ‘Stating the obvious’ is ‘n rookskerm wat die anc rampokkers voorhou om die indruk te skep dat hulle hulle plig doen.
Om die gewone polisie te blameer is ‘misleiding taktiek’ om die publiek om die bos te lei.
Om van die polisie te verwag om ‘n terroriste aanslag te stop is soos om ‘n ‘pea shooter’ saam te vat na ‘n regte ‘gun fight’
Die ANC se ‘dirty tricks’ rampokkers in die taxi bedryf trek die toutjies … beide vir die brande EN die ‘kamma ondersoeke’! Dit sluit korrupte polisie amptenare in … wat GELD MAAK uit taxi’s.
Terrorisme en sabotasie word deur ANDER WETTE en – DEPARTEMENTE hanteer as gewone misdaad.
Ontplooi die GROOT KANONNE van Nasionale Veiligheid om die terroriste en saboteurs te stop!
Of bied R1milj beloning aan vir die persoon of instansie wat inligting verskaf wat sal lei tot die arrestasie van die saboteurs.

Francois ·

Daar is nog geen motief vasgestel nie????
Dis pateties. Gaan soek die skuld by die taxi base. Geen tryne beteken meer pendelaars vir hulle. En dan word Fritz in beheer gesit van ondersoeke. Dalk moet hulle hom eerste ondersoek

Pierreli ·

“Ek móét net met jou deel” dat my verstand eerstens vir my sê: “Wie vind baat uit die brand van die treine, en busse en enige vervoer dienste, en waar gaan die gestrande pendelaars heen indien die trein of die bus nie opdaag nie?”
In watter vervoer instandie word nog altyd die meeste geweld altyd bespeur? Dalk die swart taxi assosiasie?
Maar niemand sal die swart taxi assosiasie ondersoek nie, want die SA polisie is te bang. Dis makliker om te kyk wie nie ‘n masker dra nie, want dit benodig geen ondersoek of enige dinkwerk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.