‘OME!’ se Rachelle ʼn introvert, maar moenie haar onderskat

Rachelle Fourie. (Foto: Rachelle Fourie/Instagram)

As jy ʼn jaar gelede vir Rachelle Fourie sou sê dat sy ʼn gunsteling op ʼn werklikheidsprogram gaan wees, sou sy jou waarskynlik nie geglo het nie.

Dié 25-jarige donkerkop-onderwyseres van Potchefstroom het die afgelope paar weke diep in kykerharte gekruip met haar deelname aan die immergewilde kykNET-maatsoekprogram Op my eish!.

Alhoewel sy deesdae al hoe gewilder op sosiale media word, het sy nooit as te nimmer verwag dat haar deelname aan die program só ʼn reaksie sou ontketen nie. Trouens was sy daar vir een rede: om Brendan Peyper se hart te wen.

“Aan die begin wou ek net inskryf vir Brendan. Ek was nie eers seker dat hy my sou kies nie, wat nog te sê van so ver in die program vorder,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ek het eerlikwaar nie gedink dat mense hulself so oor my sou ontferm nie.”

Met dié nuutgevonde gewildheid het ʼn hele string nuwe uitdagings en verantwoordelikhede te voorskyn gekom. Aanvanklik was dit vir Rachelle verskriklik moeilik om negatiewe kommentaar oor die program te lees, maar sy het intussen besef sy weet waarin haar identiteit lê en dat sy dit nie die mag moet gee om haar dag omver te gooi nie.

“Jy moet jou identiteit vaslê en weet wie jy is sodat hierdie goed jou nie beïnvloed nie. Ek het ʼn week gehad waar my gemoed nogal laag was.

“Met elke episode hoop ek dat mense goed reageer. As jy net een verkeerde ding sê, is jy almal se vyand – dit is senutergend. Ek dink wel ek hanteer dit goed. My vriende en familie is geweldig ondersteunend.”

Sy het lank geworstel oor wat haar volgende stap is en wat sy met haar groeiende volgelinggetalle op sosiale media wou doen. Sy erken maklik dat sy vir ʼn wyle met die Here gestoei het oor wat sy plan vir haar is, en hoe Hy haar verder gaan gebruik.

(Foto: Rachelle Fourie/Instagram)

Snaaks genoeg was dit nie Op my eish! en die gepaardgaande gewildheid wat tot haar eerste video gelei het nie. Sy het kort ná mekaar die storie oor haar tatoeëermerk met twee verskillende vroue gedeel, waarna elkeen van dié haar aangeraai het om dit vir meer mense te vertel. Dié tatoeëermerk is die woord “restore” en beskryf die roeping wat die Here oor haar lewe geplaas het oor wat sy in mense se lewens moet beteken.

Ná daardie video was dit asof ʼn sluier gelig het. Sy het presies geweet wat sy met haar platform moes doen.

“Ek het van ʼn jong ouderdom af geweet dat ek geroep is tot meer. Ek het nog altyd ʼn hart vir vroue en bediening gehad.”

Hou jou oë gerig

Rachelle erken dat sy Op my eish! met ʼn plan aangepak het. Nie om ander deelnemers te kniehalter of om allerhande agterpaaie te verken nie, maar om haar fokus te hou op die skep van egte verhoudings.

Wanneer sy tyd saam met Brendan deurgebring het, was dit waar haar aandag was. Sy het haarself nie bemoei met gedagtes oor die ander vroue of wat hulle gedurende hul alleentyd saam met Brendan doen nie. Sy wou soveel as moontlik oor Brendan uitvind, nie net om ʼn band met hom te vorm nie, maar om self uit te vind of hy die man vir haar is.

Sy het dié verhoudingsbeginsel ook toegepas wanneer sy by die res van die vroue was. Dit was vir haar net so belangrik om hegte en egte vriendskappe met hulle ook te vorm.

“Ek het regtig baie gaan stilraak by die Here om te besluit hoe ek elke omstandigheid gaan benader. Ek het alles elke keer teruggevat na hom toe.

“Ek was nie op een meisie jaloers nie, en ek het niemand gesien as ʼn dreigement nie. Ek het die meisies leer ken vir wie hulle was en wou werklik vriendskappe met hulle bou.”

Dit was ook van die eerste dag af vir haar belangrik om dit wat tussen haar en Brendan broei nie met die res van die vroue te deel nie. Sy glo tot vandag toe dat dit ʼn groot rol daarin gespeel het om die vriendskappe wat sy gevorm het te bewaar.

“Wanneer jy te veel oor die verhouding deel, gooi jy die ander vroue van hul ball game af. En dit was nie my hart nie. My hart was om nie net myself nie, maar hulle ook, te beskerm.”

Sy koester vandag steeds die vriendskappe wat sy tydens die verfilming van die reeks gemaak het. Sy gesels veral oor haar respek vir Runet en Luzaan, en hoe sy haar vriendskappe met Natasha en Jonelle geniet.

“Jonelle was ʼn versteekte seëning. Ek en sy het dadelik oor die weg gekom.

“Dit wys dalk nie op TV nie, maar ons is baie dieselfde. Sy is net bietjie die stouter een,” skerts Rachelle.

Dagboeksessies en verrassings

Dit is vir Rachelle interessant om te sien watter dele van haar en Brendan se afsprake uiteindelik vir elke episode gekies is. Trouens, sy glo dat daar ʼn hele paar spesiale oomblikke (en ʼn hele paar soene) tussen hulle was wat nooit die lig gesien het nie.

Sy is ook soms verstom om te sien wat in elke dagboeksessie gesê is, alhoewel sy nie die meisies kwalik neem wat tydens die sessies gesê is nie.

“Dit was veral verbasend om te hoor dat die ander my as ʼn underdog sien. Ek het glad nie ʼn speletjie gespeel nie, ek was net myself.

“Maar ek het ook empatie vir wat in van die sessies gesê is. Daardie tonele is laat in die aand geskiet, en dit was uitdagend. Ek het die meisies elkeen leer ken vir wie hulle is. Die dagboeksessies verander nie hoe ek hulle sien nie.”

Die emosies het ook hoog geloop, met baie dagboeksessies wat elkeen van daardie emosies vasgevang het.

“Ons het deur verskriklik baie emosies gegaan. Hierdie is nie maklik nie en beslis nie vir almal nie.”

‘Ek weet wie ek is’

Wanneer Rachelle vandag terugdink aan die program, is sy seker van een ding: Daar is min dinge so belangrik soos om te wees wie jy gemaak is om te wees.

“Ek het baie oor myself geleer, veral dat ek daartoe in staat is om enigiets aan te pak. Dit was vir my lekker om te sien dat ek eintlik dapper kan wees.

(Foto: Rachelle Fourie/Instagram)

“Ek is eintlik maar skaam en ʼn groot introvert, maar ek het geleer om myself nie te onderskat nie. Die Here het deur hierdie program gewys wat Hy nog altyd in my sien.

“Ek het liewer vir myself geraak en is trots op die mens wat ek is.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.