Jared Blows, woordvoerder van die Maritieme Reddingskoördinasiesentrum (MRCC) in Kaapstad, het gesê ʼn vragskip het die omgekeerde romp sowat 1 078 km oos van Mauritius gewaar. Hy het gesê dit kan nie met 100% sekerheid gesê word dat die romp wat gewaar is, dié van die vermiste Sunsail RC044-978 is nie.
Sunsail het op 14 Desember uit Kaapstad vertrek op ʼn afleweringsreis na Phuket, Thailand. Daar is op 18 Januarie die laaste keer van Anthony Murray (58), Reg Robertson (59) en Jaryd Payne (20) gehoor.
Blows het gesê die omgekeerde romp is laat Donderdagmiddag gewaar. Hy het gesê die romp is blou – soos dié van die Sunsail. “Daar is foto’s aan ons gestuur, maar ons kan nie vir seker sê dit is die boot nie. Dit [die foto’s] is nie baie duidelik nie en is van ʼn afstand geneem.”
Blows het gesê die MRCC het sy soek- en reddingstog afgelas, maar sal voortgaan om inligting aan die families van die bemanning te verskaf. “Dit is nou ’n reddingsoperasie, maar ons kan nie betrokke raak daarby nie. Ons help nog steeds met die opspoor van die vaartuig.”
Diane Coetzer, Murray se skoonsuster, het gesê: “Die familie is baie benoud oor die waarneming. Daar was moontlik ʼn verlies aan lewe en daar moet ʼn ondersoek wees.”