Omgewingsake gee groen lig vir groter uitvoer van leeubene

leeu-mannetjie-wyfie-leeus

Foto: Wade Lambert/Unsplash.com

Die departement van omgewingsake het Maandag bevestig dat 1 500 leeuskelette nou jaarliks uit Suid-Afrika uitgevoer mag word.

Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het gesê die nuwe uitvoerkwota sal terugwerkend vanaf 7 Junie geld. In 2017 was die uitvoerkwota slegs 800 leeuskelette.

Die departement het aangevoer die nuwe uitvoerkwota is gebaseer op bewyse uit ʼn navorsingsprojek van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitinstituut (Sanbi) in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand, Oxford Universiteit en die Universiteit van Kent wat die handeldryf van leeubeendere in Suid-Afrika ontleed en monitor.

Die navorsing het bevind dat daar ʼn toenemende groei in die hoeveelheid opgepotte leeubeendere in Suid-Afrika is omdat uitvoerkwotas streng gereguleer word. Verder het die studie bevind daar is min bewyse dat wilde leeus gestroop word, maar die stropery van leeus wat in aanhouding geteel word, is aan die toeneem.

Volgens die departement is die konvensie op die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) ook oor dié besluit ingelig.

Die departement het verseker die bestuur van die nuwe uitvoerkwota sal met streng prosesse gereguleer word, in ooreenstemming met regulasies wat onder meer bepaal dat enige aansoek om leeubeendere uit te voer, by provinsiale bewaringsowerhede ingedien moet word. Die owerhede sal met die departement oorleg pleeg om te bepaal of ʼn permit vir die uitvoer van die skelette nog beskikbaar is en binne die kwota uitgereik mag word.

Dit sal ook verpligtend wees om alle skelette afsonderlik by die bron te verpak en te weeg, te merk en ʼn DNS-monster te neem. Alle besendings moet by die hawe waar dit uitgevoer word gekontroleer en geweeg word om die inligting in die betrokke permit te bevestig.

“Suid-Afrika het deur sy ervaring met renosters en perlemoenstropery geleer dat hierdie onwettige handelskettings baie moeilik is om te ontbind sodra hulle gevestig is, en ons probeer dieselfde scenario met leeus vermy.

“As die aanvraag na leeubeendere toeneem, sal handelaars net alternatiewe en onwettige bronne vir dié aanvraag vind,” het die departement gesê.

Suid-Afrika is tans slegs een van sewe lande in die wêreld wat ʼn aansienlike leeubevolking het. In die natuur is daar 3 500 wilde leeus oor, en ongeveer 7 000 word in 260 geriewe aangehou.

“Jag is deel van Suid-Afrika se beleid van volhoubare benutting van natuurlike hulpbronne – ʼn beginsel wat ondersteun word deur multilaterale omgewingsooreenkomste,” het Molewa gesê.

“Alle aktiwiteite – wat jag, besit en handel insluit – word deur ʼn permitstelsel gereguleer, en ons beleid word deur goeie wetenskaplike bewyse ondersteun.”

Omgewingsaktiviste het hulself sterk uitgespreek teen die departement se besluit om nog meer leeuskelette te laat uitvoer nadat ʼn brief wat die Noordwes-owerhede oor dié besluit inlig, die naweek op sosialemediaplatforms uitgelek het.

Die aktiviste meen die departement se besluit sal nie net Suid-Afrika se beeld skaad nie, maar ook “geblikte leeus se doodvonnis” beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hanlie Geyser ·

SA kan nie eens die onwettig toename van immigrante reguleer nie, hulle kan nie eens al die diefstal en transito rooftogte beheer nie. Hulle kan nie eens die bedrag in die pralement beheer nie, hoe wi hulle nou die nuwe wet reguleer.

Wessel ·

Wat ‘n gemors. Party mense wil bewaar en die on-etiese hok slaan, maar die minster dinges net voort. O ja enigiets in die naam van werkskepping.

Wessel ·

The whiff of money. Soos in daardie boek destyds van Hadley Chase, Girland sou enigiets vir geld doen.

marous ·

Nou merrem , neem asseblief fotos van die hoop bene (terugwerkend) , en stuur dit vir jou namibiese eweknie (been) op sosiale media

Gertryda ·

Nee Nee Nee
Regering moeding poaching aan
Waar is die DA ens

Ben Niemand ·

As hulle bees vleis wettig gaan beeste ook uit sterf…

Natan ·

Sy het die naweek ‘n ere offisier van die Franse vreemdelegioen of so iets geword. Erkenning vir haar rol as minister en stryd teen apartheid. Niks kom verniet nie. Dalk is daar ook ‘n renosterhoring in die gras.

Wouter ·

Die Oosterse mense maak Tiger wine van die bene. Omdat daar nie meer tiere is nie gebruik hulle leeu beendere. Dit is glo die naaste aan renoster horing se funksie. Google net Tiger Wine.

Paul ·

Ek van daai ene van Wouter hier bo; “renosterhoring se funksie.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.