Omikron dalk begin van die einde vir Covid-19

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Dit is duidelik aan die astronomiese styging in Covid-19-gevalle die afgelope weke dat die nuwe Omikron-variant aansienlik meer aansteeklik is. Tot dusver blyk dié variant egter minder dodelik as vorige variante te wees en ʼn kenner meen dat dit moontlik die einde van die Covid-19 pandemie kan aandui.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut (SNI), het verlede week tydens ʼn regstreekse gesprek met Maroela Media gesê dit wil beslis voorkom of mense minder ernstig siek word weens die nuwe variant.

“Op dié stadium dink ons die getal hospitalisasies en sterftes sal minder wees met die Omikron-variant. Ons sal egter eers oor twee weke met sekerheid kan sê of hierdie variant minder gevaarlik is as vorige variante.”

Dr. Fareed Abdullah, direkteur van die kantoor vir vigs- en TB-navorsing by die Mediese Navorsingsraad (MNR), het vroeër gesê dat dit in dié stadium lyk asof die simptome van die Omikron-variant betreklik matig vir die meeste pasiënte is.

Indien dit wel die geval is, sê Mulder, kan dit die begin wees van die afskaal van Covid-19 van ʼn pandemie na ʼn endemie. “Die virus sal steeds voortbestaan, maar in ʼn minder ernstige vorm, soos griep.

“Net soos griep, kan daar ook jaarliks ʼn nuwe variant wees wat die vorige een vir daardie griepseisoen vervang,” sê hy. “Mense gaan steeds siek word en moontlik ook doodgaan, maar dit gaan nie meer ʼn buitengewone bedreiging of las op die gesondheidstelsel wees nie.

Hy sê die koronavirus sal waarskynlik nooit heeltemal uitgewis word nie, “maar ons kan op ʼn punt kom waar die transmissie en risiko daarvan bestuur word”.

Volgens Mulder kan dié punt oor so min as twee jaar bereik word.

Omikron en inperkings

Talle lande wêreldwyd het verlede maand hul grense vir Suid-Afrikaners gesluit nadat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes die ontdekking van Omikron aan die groot klok gehang het.

Mulder meen egter dat Omikron reeds vanaf Oktober wêreldwyd begin versprei het, selfs in lande wat nie oormatige kontak met Suid-Afrikaners gehad het nie. Dit is bloot in Suid-Afrika ontdek weens die uiters gevorderde toetsingstegnologie wat hier aangewend word.

“Baie mense gee ook die lae inentingskoers in Suid-Afrika die skuld vir die mutering van die nuwe variant, maar dit is eenvoudig nie waar nie,” sê hy.

“Weens ons geskiedenis met vigs en TB het ons ʼn uitstekende vermoë om siektes, veral oordraagbare siektes, te identifiseer en te bestudeer. Ons is een van die min lande wat nuwe variante so vinnig kan identifiseer.”

Ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa se openbare teenstand teen die verbod op reis na en van Suid-Afrika wat verskeie lande ingestel het, glo Mulder daar is ʼn groot kans dat die regering later strenger inperkings vir die feestyd sal instel.

“Die vooruitsigte is dat ons beslis nie nog ʼn inperking kan bekostig nie, maar die waarskynlikheid dat van die maatreëls weer opgeskerp sal word, is groot.”

Mulder vermoed dat een of ander beperking weer op alkoholverkope, sowel as ʼn strenger aandklokreël moontlik nader aan Kersfees ingestel sal word.

“Solank as wat mense bymekaar kom gaan die virus versprei en dit beteken dat nog maatreëls op pad is. Een ding is egter seker en dit is dat ons nooit weer terug kan gaan na vlak 4 of 5 van die afsondering nie, want dit sal ons ekonomie finaal knak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

casper ·

So Hoeveel mense in SA is dood aan Omicron — Die antwoord ___ NOG NIE EERS EEN NIE !!!

Die Goodwoodianer ·

Moenie te gou praat nie, ons weet nie wat voorlê nie. Die lewe maak snaakse draaie. Maar dit sal uitstekende nuus wees as hierdie Covid begin afskaal.

Johanncb ·

Ek hoop daar is voldoende mediese/wetenskaplike bewyse dat hierdie “die begin van die einde” vir Covid-19 is!

Papsak ·

Wel ek hoop dit is die einde ek moeg vir weg kruip nou waar is die vyfde sesde sewende en agtste virusse waar is dit kom se my almal het og net velueg en ons probeer uit wis maar my GOD is groter prys hom by gesien wat aan gaan viva vir JESUS

Samuel ·

Die ANC het ons ekonomie reeds geknak. Hulle moet slegs die doodskoot toedien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.