Omkeerstrategie vir Poskantoor ʼn pad na nêrens

(Foto: SA Post Office/Twitter)

Die omkeerstrategie van die Suid-Afrikaanse Poskantoor om die organisasie te herposisioneer as “die Poskantoor van die Toekoms” is ʼn hopelose pad na nêrens.

Só meen Solly Malatsi, die DA se skaduminister van telekommunikasie en digitale dienste. “Die ambisieuse dokument wentel rondom die doelwit om die poskantoor te moderniseer met ʼn strategie vir digitale transformasie om bestaande stelsels met moderne tegnologie te vervang.”

Malatsi sê dit hang alles af van ʼn aansoek by die nasionale tesourie vir ʼn reddingsboei van R8 miljard wat die Poskantoor benodig om sy skuld te delg en sy tegnologiese infrastruktuur op te gradeer om mee te ding in die pos- en koerierdienstemark.

“Dit is verstommend dat ʼn hele omkeerstrategie vir ʼn instansie wat in duie stort, in sy geheel gebaseer is op ʼn reddingsboei wanneer die Poskantoor al sedert 2013 teen ʼn verlies bedryf word. Die Poskantoor is al vir te lank afhanklik van reddingsboeie sonder verbeterings aan sy verswakkende bedrywighede.”

Die kern van die omkeerstrategie is ʼn rits kostebesparingsmaatreëls sonder ʼn standvastige plan vir winsvolhoubaarheid, voeg Malatsi by.

Sommige van dié kostebesparingsmaatreëls sluit in om ʼn vrywillige skeidingspakket beskikbaar te maak wat beteken dat personeel oor twee jaar van 15 600 na 9 000 verminder sal word, teen ʼn koste van R420 miljoen. Uitgawes op sekuriteit en bankkoste moet ook met R1,5 miljard verminder word in 2022/24. “Dit sal egter nie voldoende wees om die Poskantoor winsgewend te maak nie, aangesien sy skuldlas tans op R6,7 miljard staan, insluitend R2,4 miljard wat aan die Posbank verskuldig is.”

Die DA glo dat bloot nóg ʼn reddingsboei, sonder om die eienaarskapstruktuur van die Poskantoor te verander, is soos om ʼn dooie perd te voer. “Die toekoms van die Poskantoor lê daarin om volledige staatsbeheer te onttrek en ruimte te skep vir privaat belegging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Hierdie moet die grap van die jaar wees. Waar het die ANC al ooit iets in die regte rigting laat draai? Daar is nie eers genoeg selle om n potlood skerp te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.