‘Ommeswaai’ moontlik vir boere wat bedryf wil verlaat

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kwanalu/Facebook)

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) sê dit is moontlik om te keer dat jonger boere binne die volgende dekade uit dié bedryf tree. Indien verandering egter nie teweeggebring word nie, sal dit “verdoemende implikasies” vir die platteland inhou.

Dié landbouorganisasie se kommer oor die toekoms spruit uit navorsing wat dr. Kandas Cloete, senior analis by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) aan die Universiteit Stellenbosch, gedoen het. Hierin het sy bevind dat sowat 20% (ʼn vyfde) van die land se produsente beplan om die mark binne die volgende dekade te verlaat. Die meeste van dié boere is tussen die ouderdomme van 30 en 45 jaar.

Vir Saai is hierdie bevinding egter nie ʼn verrassing nie.

“Familieboere is die kwesbaarste sektor in die landboubedryf en baie maak waarskynlik planne om hulle plase te verkoop en elders ʼn heenkome te soek,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Buiten die gevolge wat ʼn grootskaalse verlies van jong boere op die landbousektor sal hê, meen De Jager dat Cloete se bevindings ook verdoemende implikasies vir plaasdorpe inhou.

“Klein dorpies in Suid-Afrika is op drie pilare gevestig: ʼn kerk, ʼn laerskool en ʼn koöperasie. Oral in Suid-Afrika is klein dorpies besig om dood te loop omdat een van dié drie pilare begin verkrummel en dit is juis boere tussen 30 en 45 jaar wat nog jonk genoeg is om kinders in ʼn laerskool te hê wat plattelandse dorpe aan die gang hou,” sê hy.

Cloete het in haar navorsing bygevoeg dat die ondergang van plaasdorpe verder aangedryf word deur gebrekkige finansiering, swak veiligheidsomstandighede op die platteland, onsekerheid oor grondeienaarskap en gebrekkige winsgewendheid.

“Noudat die Landbank ondergaan, veiligheid op plase ʼn groter krisis as ooit tevore is, en hemelhoë insetkoste boere se winsgewendheid onder druk plaas, torring die ANC met nuwe ywer aan hul planne om grondeienaarskap uit die hande van suksesvolle boere te neem.”

Lig aan die einde van die tonnel

Volgens De Jager is dit egter nie te laat om dié verdoemende toekomsprentjie te verander nie, en moet daar nou gesprekke met beleidmakers gevoer word en verdere verset en druk toegepas word.

“Saai is altyd oop vir ʼn gesprek met beleidmakers, maar dit het oor die afgelope 20 jaar bloedweinig resultate opgelewer. Daarom is Saai aktief besig om die druk te verskerp deur eie strukture te skep en hofsake teen staatsinstellings te voer,” sê hy.

Saai is weekliks in gesprek met ambassades en multilaterale instellings soos die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-unie (AU) en die Europese Unie (EU) om die “korrupsie, nepotisme en wanadministrasie in die Suid-Afrikaanse grondhervormingsisteme aan die kaak te stel en so druk op die regering uit te oefen.

“Goeie vordering is ook reeds gemaak met alternatiewe finansieringsbronne aangesien die Landbank waarskynlik nie vinnig weer op sy voete sal staan nie.”

De Jager meen die winsgewendheid van boerdery kan baie verbeter word deur geadministreerde koste soos die addisionele belasting op diesel, tolhekke, minimumlone, en die koste van lisensies, permitte, water en elektrisiteit te verlaag. Korrupsie is ook ʼn vorm van administratiewe koste, volgens De Jager.

“Saai glo die situasie is omkeerbaar omdat dit alles met ʼn swak beleidsomgewing te doen het. Die implikasie is egter dat ʼn beter beleidsomgewing geskep moet word, en dit is onwaarskynlik dat die huidige regering dit gedoen sal kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Wel ek neem die jong boere nie kwalik nie. Ongelukkig moet elkeen na homself kyk want hierdie Kommunistiese Regering het dit hard en duidelik gemaak dat hul nie hul steun vir ons boere gee nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

…eerder ‘n swak (patetiese) regering as wat dit ‘n swak beleids omgewing is!

Miskruier ·

As vanmore as diensbeampte van ons kerk boere gaan besoek. Twee tannies wat elk alleen op n erfgrondjie probeer bestaan. N egpaar, die oom dement en n ouer vrou wat nog voortploeter, n kilometer verder dieselfde geval. Sodra die mense afsterf sal die area ontvolk want dis natuurplasies. Die paaie is n ramp, buitelanders wat wil werk en nie enorme salarisse eis nie en daarmee saam die risiko van verraad en aanvalle. Indringerbos wat plase verswelg, die vrees vir brand, die diefstal van infra struktuur, die alleenheid en die geen selfoonsein. Hierdie vroue is taai.

Althes ·

Dankie Saai dat jul pogings gaan versterk sodat daar beter beleid is. Nie almal kan of wil boere wees nie en nie almal wil op die platteland bly nie. Daarvoor is dit uiters noodsaaklik dat die 3 genoemde pilare in klein gemeenskappe in stand gehou moet word om ekonomiese volhoubaarheid te verseker.
Dit sal ook keer dat oorbevolking in stede plaasvind wat werkloosheid en misdaad sal verhoog.

agnes ·

Boere moet begin koring plant, ons kan nie meer invoer van Ukraine en Rusland nie

Yvonne ·

Ek kan net bid vir hierdie initiatief en vir boere….sonder hulle is ons toetaal verlore

annie ·

Toe daar in 1994 voorgestel is dat Afrikaners ‘n eie gebied beding het die boeregemeenskap kapsie gemaak. Wil hulle nou gesmeek en betaal word om op hul grond te bly? Verkoop. Tree uit. Afrika sal van die honger sterf en die res tydelik op invoere oorleef. Afrika se hele ideologie berus op hongersnood en ellende wat hopelik pledges sal laat realiseer. Soos Ethopië sal die aarde hier kaal gestroop word vir effek en die neerreën van proviant. Die ironie is net dat kos orals skaars raak en dan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.